Estimated reading time: 5 minutes
Die krag van goeie kuilvoer lê in verskeie aspekte waarvan die gebruik van geskikte kuilvoergewasse waarskynlik ’n noemenswaardige rol speel. Veeplaas het by prof Robin Meeske, ’n spesialis wetenskaplike van die Wes-Kaapse Departement van Landbou se Outeniqua-navorsingsplaas naby George, en Grant Pringle, hoof van agronomie in Suid-Afrika by Pannar, gaan kers opsteek om uit te vind wat na hul mening die mees geskikte gewasse is om kuilvoer van te maak. Hulle het ook gesels oor kuilvoermengsels.
Prof Meeske meen enige gewas kan suksesvol ingekuil word, indien dit op die regte stadium gesny word. Daar moet ook aan die basiese beginsels van inkuiling voldoen word.
“Dit begin by die regte droëmateriaal (DM)-persentasie van 30 tot 35%. Dan moet materiaal fyn gekerf word, goed kompakteer word en die bunker moet goed geseël word om die indringing van lug te voorkom. Om die pH vinnig te laat daal, moet lug uitgesluit word en voldoende suikers en doeltreffende melksuurbakterieë is nodig.”
Mieliekuilvoer is eerste keuse
Prof Meeske sê mielies, waar dit suksesvol verbou kan word, is die beste gewas om in te kuil, omdat dit ’n hoë opbrengs het van byvoorbeeld 18 tot 30 ton/ha DM wat onder besproeiing in vier maande geproduseer kan word. Dit is ook maklik om mielies in te kuil, aangesien dit genoeg wateroplosbare koolhidrate (suikers) bevat, maklik kompakteer en nie ’n hoë buffer-vermoë het nie.
“Die pH daal sommer vinnig tot 4 of laer binne drie tot vyf dae ná inkuiling. In die somerreënvalgebiede wat marginaal is vir mielieverbouing, kan ’n sorghumbaster (sorghum x sorghum) oorweeg word.”
Pringle sluit by prof Meeske aan en sê daar is ’n reeks kuilvoergewasse wat gebruik kan word, waarvan mielies, veral in gebiede met hoër potensiaal waarin mielies goed groei, die eerste keuse as somergroeigewas is. Hy sê die graaninhoud in mieliekuilvoer beteken dat dit ’n hoër energiewaarde as ander kuilvoergewasopsies het.
Ander kuilvoergewasse
Ander algemene somergewasopsies, verduidelik hy, sluit graan- en voersorghum in, terwyl gematigde graansoorte soos hawer, gars en stoelrog tydens die herfs- en wintermaande vir kuilvoer verbou kan word. In vergelyking met mielies, kan graan of voersorghum meer betroubaar wees as gevolg van hul uitstekende droogte-toleransie in gebiede waar droogte-toestande algemeen is.
Voersorghum is ook ’n meer lewensvatbare opsie in gevalle waar mieliediefstal ’n werklikheid is. Prof Meeske sê voer-sorghum (sorghum met Soedangras) lewer hoë opbrengste, maar dit het ’n baie laer energiewaarde as mieliekuilvoer.
Hy sê peul-gewasse soos lusern bevat hoë proteïenvlakke en min suikers, derhalwe kuil dit moeilik in, terwyl kleingrane soos hawer, korog en gars op die sagtedeegstadium (DM 30 tot 35%) ingekuil moet word. Kleingrane bevat beperkte suikers en derhalwe word aanbeveel dat ’n homofermentatiewe melksuurbakteriese inokulant tydens inkuiling toegedien word.
“Die meeste mislukkings by die maak van kuilvoer kom voor wanneer die vog te hoog is (>70%), en ’n nat kuilvoer is dikwels onsmaaklik en bevat bottersuur. Onthou dat suurstof en water die twee grootste vyande van kuilvoer is. Materiaal moet goed gekerf en gekompakteer word om lug uit te sluit. Giste en swamme sal groei en vermeerder, solank suurstof beskikbaar is.”
Voedingswaardes
Prof Meeske sê goeie mieliekuilvoer se samestelling bestaan uit 35% DM, ’n pH van 3,8, proteïen (7 tot 9%), 72% totale verteerbare voedingstowwe (TVV), 30% stysel, 40 tot 44% neutraalbestande vesel (NDF), 5% melksuur en 1,5% asynsuur.
oeie waardes vir kleingraankuilvoer is ’n DM van 30 tot 35%, pH van 3,8 tot 4, proteïen van 9%, TVV van 62%, ’n NDF van 55%, melksuur van 6% en 1,5% asynsuur.
ringle meen die voerwaarde van kuilvoer is hoogs afhanklik van die gehalte en tydsberekening van ’n oes. “Wanneer gewasse té vroeg geoes word, gaan materiaal moeilik in die kuilvoerbunker verdigbaar wees en die hoë voginhoud kan tot die uitloging van voedingstowwe in die bunker lei.” Die gehalte van graan-gewasse kan ook verlaag weens die verlaagde styselvlakke in die onvolwasse gewas.
“Vir die beste kans op goeie gehalte kuilvoer moet seker gemaak word dat kuilvoergewasse in die regte groeistadium geoes word. In die geval van ’n optimale oestyd, sal mieliekuilvoer DM van ongeveer 35%, stysel van 30 tot 35%, proteïen van 6,5 tot 7,5%, en NDF as ’n persentasie
van DM (%DM) van ongeveer 40 tot 45 bevat. Sorghumkuilvoer sal gemiddeld ’n DM-inhoud van 27%, ’n styselinhoud van >17%, proteïen van 5 tot 6% en NDF %DM van 55 hê.”
Die meng van kuilvoergewasse
Prof Meeske sê mielies en kleingrane is laag in proteïene en daarom gebeur dit dat mielies en sojabone saam ingekuil word. Kleingrane kan saam met voererte, wieke, lupiene of fababone ingekuil word. “Mengsels is egter kompleks en dit is dikwels beter om die gewasse afsonderlik in te kuil en te meng wanneer dit uitgevoer word.”
Lees meer oor die resultate van 2023 se kuilvoerkompetisie.
Pringle sê in sy ervaring is dit relatief moeilik om kuilvoergewasse te probeer meng. Dit is grootliks te wyte aan die vereiste om ’n gewas vir kuilvoer op ’n optimale tydperk in sy groeisiklus te sny om kwaliteit te maksimeer. Dit is dikwels moeilik om die groeisiklus van twee gewasse te sinkroniseer om die hoogste gehalte te onttrek.
“Ek het wel al gesien hoe mielies en sojaboon in ’n 50:50 verhouding op ’n hektaargrondslag in die kuilvoerbunker gemeng is.” Hy sê die sojakomponent sal die proteïeninhoud van die kuilvoer in hierdie geval verbeter, terwyl die mielies, wat die meerderheid van die DM in die bunker uitmaak, goeie kompaksie en voldoende suikers vir vinnige inkuiling verseker. – Christal-Lize Muller, Plaas Media
Vir meer inligting, kontak prof Robin Meeske by Robin.Meeske@westerncape.gov.za of Grant Pringle by grant.pringle@pannar.co.za.