Nampo Kaap 2024: ʼn Landbou-ekspo met iets vir almal

Estimated reading time: 3 minutes

Nampo Kaap 2024 is die perfekte wegbreek waarna die hele familie kan uitsien! Die jaarlikse Nampo Kaap-ekspo vind van 11 tot 14 September in Bredasdorp plaas en word deur Graan SA en Bredasdorp Park NPC aangebied. Hoewel Nampo Kaap vanjaar sy vyfde verjaarsdag vier, is die eerste meganisasiedag al 30 jaar gelede in Bredasdorp aangebied. Met die tema “Landbou: Die ruggraat van ekonomiese groei” beklemtoon Nampo Kaap 2024 die deurslaggewende rol van landbou in die wêreldwye en plaaslike ekonomieë. Hierdie ekspo bied ook ʼn wye verskeidendheid van vermaak en aktiwiteite aan besoekers. 

Kyk uit vir die volgende landbou-hoogtepunte by Nampo Kaap 2024:

  • Die jaarlikse Modelkudde-kompetisie, aangebied deur Jersey SA en Meadow Feeds, waartydens die top tien Jersey-kuddes in die land aangewys word.
  • ʼn Daaglikse skoleprogram van die Wes-Kaapse Departement van Landbou waar byna 500 leerlinge van 30 skole wat landbou as ʼn vak aanbied, betrek word. Op hierdie manier kan die leerlinge praktiese ervaring kry.
  • Die finale rondte van die Toyota SA Nasionale Jong Afslaerskompetisie. Kom ondersteun die finaliste wat vanjaar onder andere skaaphonde uit die Skaaphond-ekspo gaan opveil. Sien jou Vrydag, 13 September, by die BKB Veesentrum.
  • Overberg-streeksjeugskou waar leerlinge kan deelneem aan verskeie klasse naamlik groot- en kleinvee, suiwel en kookkuns en pluimvee, duiwe en konyne.
  • Kom verbreed jou kennis met grondlose groeistelsels: Hidroponika/akwaponika-boerderymetodes en -stelsels.
  • Plant- en grondnavorsing.
  • Die immergewilde Nampo Kaap Omnia-boereplanne.
  • Die Wes-Kaapse Melkprodusente-organisasie (MPO)-vergadering.
  • Landbou in Gesprek.
  • ‘n Skaaphond-ekspo en verskeie perdevertonings.
  • En vele meer!

Sien die program hieronder vir meer inligting:

Waarna kan ons nog uitsien?

As jy ʼn passie het vir plantkunde, is die Fees van Fynbos die plek vir jou! Kom maak ʼn draai by die Voermol-saal om Marjolijn Malan se blommerangskikkings te bewonder. Vanjaar se Neptun Fynbos-uitstalling beloof om besoekers se verwagtinge te oorskry. Onder leiding van Jan Hagen, vertoon die uitstalling uiteenlopende plaaslike plante in hul natuurlike habitat. Verken biome met proteas, speldekussings, aalwyne en nog vele meer.

Lees meer oor Nampo Kaap 2023 hier.

AFGRI bied hierdie jaar ʼn propvol Vroueprogram aan. Kom luister na bekendes soos Francois Boyce, Carmen Niehaus, David Nieuwoudt, Nicky Lonte, Pierre Kruger, Martelize Brink, PG Engelbrecht, Matthys Roets, Nádine en Appel. Die instap-skoonheidsalon bied ‘n geleentheid waar vroue kan ontspan en hulself bederf.

Toegangskaartjies is aanlyn by Ticketpros teen afslag beskikbaar. Volwassenes betaal R80 en skoolkinders R50. Kaartjies sal by die hek teen R100 vir volwassenes en R50 vir skoolkinders te koop wees. Toegang vir kinders onder skool-ouderdom is gratis. – Louise Lemmer, Plaas Media

Popular stories