Die Optum-trekkerreeks: Yster van ysters!

Estimated reading time: 4 minutes

Case IH se nuwe Optum-trekkerreeks het die mark met mening betree en is ’n waardige mededinger in dié kragklas. Die Optum CVX 270/300 is geposisioneer tussen die Puma- en Magnum-reeks, en vul ’n unieke gaping in Case IH se produkreeks.

Stephan Nel, besturende direkteur van Case IH, sê dit is ’n goeie aanvulling tot hul bestaande trekkerportefeulje en bied uitstekende tegnologie om krag doeltreffend op die grond te plaas. Die trekker, wat by die St Valentin-fabriek in Oostenryk vervaardig word, is tydens vanjaar se Nampo-oesdag bekendgestel.

Tuis met tegnologie

Die tema van Case IH se Nampo-uitstalling was “tuis met tegnologie”, omdat dit belangrik is om produsente toegang te gee tot die nuutste tegnologie vir volhoubare produksie. Volgens produkspesialis, Bertus Barkhuizen, is die Case-netwerk die grootste in die land, met 36 dienspunte.

Die Optum, beskikbaar in 270- en 300-modelle, is die ideale tussengangertrekker tussen die Puma en Magnum. Dit is nie te groot of te klein nie, het ’n groter raamwerk as die Puma, die krag en robuustheid van die Magnum, en dit beskik oor die betroubaarheid en tegnologie van beide die Puma en Magnum.

Sleutelkenmerke van dié reeks

Barkhuizen sê albei trekkers het dubbelwiele, met bykomende spasieërders wat bygevoeg kan word volgens behoefte wat rywydte by aanplantings betref. Die dubbelwiele versprei die gewig meer eweredig en verbeter die trekker se vastrapvermoë. Albei modelle spog met ’n 6,7-liter FPT-sessilinderenjin wat 202 tot 225kW lewer.

Dit het ’n vierspoed-agterste krag-aftakker (power take-off) vir meer krag. Die enjin is ’n AdBlue met ’n vlak 5-standaard, en dus ’n omgewingsvriendelike werktuig wat vrystellings verminder. Die trekker word deur die deurlopende veranderlike Case IH CVX-ratkas aangedryf.

“Ons trekkers het ’n gegradeerde perdekrag (pk) van 270 of 300, met bykomende versterkte krag (boosted power) wat deurgeplaas word indien die trekker onder swaarder toestande werk. Dié versterkte krag gaan reguit na die ratkas en verseker 100% kontak op kragtoevoer na die grond. Die ratkas lewer die presiese spoed op die regte tyd, wat brandstofdoeltreffendheid verbeter.

Barkhuizen meen die Optum-reeks is die trekker met die beste krag-tot-gewig verhouding in die Case IH-stal, omdat
dit tussen die Puma en Magnum se vermoëns val. Die trekker se werkverrigting is dieselfde as die Puma-reeks en
Magnum 310, en is ideaal vir plantwerk, algemene bewerking, spuit of vervoer.

Al die implemente wat deur die Magnum 310 gebruik word, is geskik vir die Optum-trekker. Die olievloei is 228ℓ/minuut en die trekker het ’n oplig-kapasiteit van 10,2 ton op die haakpunte van die trekker. Dit het ook ’n 228ℓ/minuut hidrouliese pomp met vyf hidrouliese koppelaars agterop die trekker vir optimale implementwerking.

Die kajuit is vervaardig vir die bestuurder se gerief, met ’n multibeheer-armleuning en reaktiewe stuur. Die kajuit is tans een van die ‘stilste’ op die mark, met ’n geraasvlak van net 60 desibel. Dit maak die trekker een van die stilste masjiene danksy die fase-vyf enjin. Daarmee saam kan die trekker se hidrouliese afstandbeheer en werksfunksies maklik via die skerm aangepas word, wat dit baie gebruikersvriendelik maak.

Monitor oor afstand

Die Optum-reeks het dieselfde digitale infrastruktuur as die Magnum-reeks, wat beteken die trekker kan enige plek in die wêreld gemonitor word. Barkhuizen sê die Optum-reeks fokus op presisie en beskik oor AFS (advanced farming systems), net soos die Magnum-reeks. Dit maak dit moontlik om aanlyn by CASE IH se handelaarsportaal op die Connect Room aan te sluit, sodat die trekker vanaf ’n basisstasie gemonitor kan word.

Die produsent kan van ’n afstand af inskakel om te kyk of die korrekte inligting op die skerm in die trekker ingevoer is. Die inligting kan egter nie van ’n afstand af verander word nie; dit moet in die trekker self gedoen word. Die Optum-trekker het ook ’n 360-grade ligpakket vir diegene wat snags vir lang tye werk, wat sigbaarheid vanuit die trekker verbeter vir optimale bewerking. – Christal-Lize Muller, Plaas Media

Vir meer inligting, skakel Bertus Barkhuizen by 071 871 3145.