Overberg Agri voeg waarde toe met ’n voorplant-inligtingsdag

Estimated reading time: 3 minutes

Overberg Agri het onlangs ’n voorplant-inligtingsdag by Rietpoel, naby Caledon en Riviersonderend, aangebied. Onderwerpe soos kultivar-evaluasies en analise vir aanplantings, wisselboupraktyke, peste en plae, die ekonomie, asook klimaat en risikobestuur het aandag geniet. 

’n Minder gunstige voorspelling 

Verlede jaar se winter was droër as normaalweg, met minder reënval as die langtermyn gemiddelde. Dit het gelei tot opbrengste wat laer as normaal was. Volgens Lauren Smith van die Suid-Afrikaanse Weerdiens, toon vanjaar se vooruitsigte geen uitsonderlike reënvalpatrone nie. Huidige aanduidings is dat produsente moontlik ’n droë seisoen in die gesig staar, met die kans op ’n La Niña-verskynsel teen die lente later vanjaar.

Beplan vir die toekoms 

Verskeie sprekers het praatjies gelewer oor die evaluasie van koring, hawer, kanola en gars. Johan Lusse, Overberg Agri se hoof van graan, het ’n oorsig gegee van die 2025-oes. Gars en koring se opbrengste was gemiddeld tot onder-gemiddeld danksy ’n droë Augustus en September. Kanola opbrengste het egter bo die gemiddeld presteer, hoewel dié in die Swartland ietwat laer was as in die Suid-Kaap. Lusse het die produsente verder ook aangemoedig om alles in hul vermoë te doen om hul boerdery op ’n stewige grondslag te bou deur middel van goeie beplanning en bestuur. 

Die nut van ’n studiegroep                        

Die diverse en finansiële inligting van al die studiegroepe word versamel en ontleed om die winsgewendheid van elke produsent te bepaal, asook die winsverskille tussen verskillende vertakkings soos koring, hawer, kanola, kuilvoer en skape. Hierdie data help produsente om te bepaal hoe elke produsent op individuele vlak presteer en ook hoe hulle met die res van die groep vergelyk. Die data speel ’n sleutelrol in beplanning vir komende seisoene en help produsente om risiko’s beter te bestuur. 

Slakke wat gewasse teiken 

Piet Lombard, ’n landboutegnikus by die Departement van Landbou in die Wes-Kaap, het met die gehoor gesels oor die proewe waaraan hy werk is om vas te stel watter kultivars die beste presteer in verskillende areas. Hy het ook verwys na die huidige prysvlakke van kanola en beklemtoon dat hoë siektedruk produsente se insetkoste aansienlik kan verhoog. Met betrekking tot wisselboupraktyke het hy verduidelik dat gewasse se prestasie gewoonlik verbeter wanneer hulle afgewissel word.

Sy tweede aanbieding het op toring- en naakslakke gefokus. Hy het verduidelik dat hierdie slakke uitheems is en veral in kanola-lande baie skade kan aanrig. Die slakke was verlede jaar ’n groot probleem in die graanlande van die Wes-Kaap en Lombard het voorgestel dat produsente eers strategiese beheermetodes ondersoek voordat hul chemiese beheer oorweeg. Die beste metodes om van die slakke ontslae te raak, is deur veldbrand en grondbewerking. Resultate vir lokaas toon dat slakpille nie meer as 50% van die naakslakke sal dood op ‘n gegewe tyd nie, aangesien hulle nie almal na die oppervlak kom nie. Chemiese beheer is baie belangrik, maar word versterk deur praktyke soos strategiese bewerking of brand van materiaal. – Carin Venter, Plaas Media

Overberg Agri se inligtingsdag word jaarliks aangebied. Vir meer inligting, kontak gerus Adré Nel van Overberg Agri by 028 214 3876 of adren@overbergagri.co.za

Die krag van kalk

Estimated reading time: 2 minutes Ultrafyn kalk bied nie net gemak van toediening nie, maar...

Health standards in feedlots

Estimated reading time: 4 minutes Maintaining strict health standards at feedlots is vital in South...

The factors that influence weaner calf prices

Estimated reading time: 4 minutes Feed prices are often linked to maize prices, which feedlots...

Só word speenkalfpryse bepaal

Estimated reading time: 4 minutes Die koste van voer is dikwels afhanklik van die mielieprys...