Produsente ry wipplank tussen té droog en té nat

Estimated reading time: 11 minutes

Die weerstoestande in die land kan letterlik met ’n wipplank vergelyk word: papnat hier en kurkdroog daar. In die meeste somerproduksiegebiede duur die nat en reënerige toestande wat aanplantings in Mpumalanga, Vrystaat en Noordwes direk raak steeds voort, terwyl droogtetoestande in sekere dele van die Oos-Kaap groot kommer by vee- en wildprodusente wek. Terugvoer oor die nat toestande in Mpumalanga, Vrystaat en Noordwes is redelik konsekwent.

Volgens Marguerite Pienaar, landbou-ekonoom van Graan SA, is dit oor die algemeen baie nat in die meeste somerproduksiegebiede. Dit lei daartoe dat sommige produsente hul aanplantings nie kan voltooi nie, terwyl ander nog glad nie kon begin plant nie.

Nat en koue toestande

Pienaar verduidelik dat die oostelike hoëveld van Mpumalanga tans besonder koud en nat is. Produsente in die gebied is meestal klaar met aanplantings, maar aanhoudende reën het verhoed dat sommige produsente die beplande hektare kon aanplant. Op plekke is haelskade aangemeld en van die mieliegewasse toon tekens van skade. Daarmee saam is dit in hierdie stadium té nat om van vooraf te plant. Sy sê die grootste risiko in hierdie gebiede is ’n tekort aan hitte-eenhede aangesien dit koud bly en swaar reën voortduur.

Oeste en aanplantings in die Vrystaat

Volgens Pienaar is dele van die oostelike Vrystaat baie nat. Produsente kan probeer om slote te grawe om dreinering te verbeter, maar in baie gevalle is dit te nat om in die landerye te kom. In sommige gebiede begin mielies wat reeds aangeplant is geel verkleur en reënvalsyfers is tans veel hoër as die langtermyn-gemiddeld.

Gernie Botha, hoof uitvoerende beampte van Vrystaat Landbou (VL), bevestig dat sommige gebiede se produsente in hierdie streek baie reën vroeg in die lente gehad het. Hy sê sommige produsente sukkel steeds om daarvan te herstel en om hul oeste in hierdie gebied asook in die noordelike gebied van die provinsie, te stroop. In die suidwes-Vrystaat, veral rondom Luckhoff, het produsente ook reën gehad, maar nie soveel dat dit hulle negatief geaffekteer het nie. ’n Produsent het aangedui dat hy sy koring klaar geoes het en vroeër as gewoonlik met sy mielie-aanplantings kon klaarmaak.

Pienaar sê die noordwes-Vrystaat ervaar soortgelyke uitdagings. Watertafellanderye is baie nat en daar is aanhoudende reën. Sodra die watertafels vol raak, kan die water nêrens heen dreineer nie. Dit kan ernstige groei- en standprobleme veroorsaak. Sy waarsku dat plante se wortels in sommige gevalle nie diep genoeg gaan wortel skiet nie of vlak gaan bly wat later, tussen Januarie en Maart wanneer temperature styg, tot swak stand kan lei. Daar is reeds mielies en sojabone wat begin vrot het en weens die nat toestande kan daar nie oorgeplant word nie. In sekere gebiede is haelskade ook aangemeld.

Jakkals le Roux, voorsitter van Vrystaat Landbou se veiligheidskomitee wat in die Wesselsbron-distrik woon, sê die seisoen het met baie reën afgeskop. Hy het in Oktober en November 290mm reën op sy plaas gemeet, terwyl twee buurplase tussen 500mm en 530mm gehad het. Die gebied is steeds baie nat, en in ’n vroeër stadium was dit té nat gewees.

Volgens hom het die meeste produsente in hierdie gebied hul aanplantings reeds voltooi of hulle is naby om dit te voltooi. Daar is egter produsente wat steeds nie kon plant nie, veral waar daar panne is wat landerye onbegaanbaar maak. Waar aanplanting reeds voltooi is, het produsente van hommeltuie gebruik gemaak vir bespuiting, aangesien hoogloopspuite nie in nat landerye aangewend kon word nie.

Le Roux sê verder dat daar meer sojabone as verlede jaar in hierdie gebied aangeplant is. Die mielies wat wel geplant is, het reeds opgekom en is nog klein. Die sojabone vertoon goed en groei sterk in sonnige toestande. Grondprofiele is oor die algemeen vol, en produsente het die seisoen met ’n gunstige vogbasis begin. Water wat na panne afloop, dui daarop dat die grondprofiele volledig versadig is.

Hy sê dat vinnige en swaar reënbuie wat nou kan voorkom, spoelskade kan veroorsaak, maar dat boere nooit kla oor reën nie. Enige skade herstel meestal weer, veral wanneer El Niño-toestande terugkeer. “Met die huidige grondvog behoort produsente in die komende drie tot vier jaar, selfs onder normale of ondergemiddelde reënval, steeds goeie oeste op watertafellanderye te kan lewer.”

Vordering met noordwestelike aanplantings

Volgens Naudé Pienaar, uitvoerende hoofbestuurder van Agri Noordwes, is planttoestande in die provinsie oor die algemeen gunstig.

Sommige boere in Noordwes kon daarin slaag om hul mielie-aanplantings te voltooi.

’n Groot deel van Noordwes is reeds ver gevorder met die aanplanting van grondbone, sojabone, sonneblom en mielies. In enkele gebiede is dit egter steeds te nat om met werk te begin, en sommige boere moes weens reën en spoelskade dele van hul lande oorplant. Nietemin is produsente dankbaar vir die gunstige omstandighede en hoop dat dit vir die res van die seisoen sal voortduur. “Ons dink ook aan die dele van die land waar dit steeds baie droog is,” sê Pienaar.

Hy voeg by dat die provinsie oor die algemeen baie nat is. Produsente kan vir kort tydperke plant, maar wanneer dit weer reën moet die planters wag totdat die lande genoegsaam uitdroog. In sekere gebiede is haelskade aangemeld en baie dele het reeds hul jaarlikse reënvalsyfers bereik sedert September. Die reënval is dus aansienlik hoër as gemiddeld.

In besproeiingsgebiede in Noordwes sukkel boere om hul koringoeste te stroop. Pienaar sê die meeste sojabone is reeds aangeplant, en ongeveer ’n derde van die mielies is klaar in die grond. Produsente sê egter dat hulle dringend sonskyn nodig het om die tempo van aanplantings en gewasontwikkeling te ondersteun.

Wisselende Oos-Kaapse reënvalpatrone

Die werklikheid is dat ’n groen of nat Kersfees in verskeie dele van die Oos-Kaap vanjaar die verskil tussen dood en lewe kan beteken. (Foto deur Carine Van Kerken)

Dit is feitlik ondenkbaar dat, te midde van nat toestande in die meeste somerreënvalgebiede van die land, uiterste droogtetoestande elders kan heers. Volgens Niel du Preez wat op die plaas Essenbos net so voor die Baviaansberge naby Kareedouw boer, ervaar produsente in die gebied ’n ramptoestand.

Hy sê dat die normale gemiddeld teen Desember gewoonlik 600mm moet wees terwyl die totale reënval vir die jaar aan die einde van November slegs 320mm was. “Die laaste noemenswaardige reën wat ons gekry het, was in Mei vanjaar. Die hawerlande wat die produsente geplant het, het nie lank gehou nie en verskroei in die son. Die meeste van die veesuipingsdamme in die veekampe is leeg en ’n groot hoeveelheid skaapprodusente het al hul lammers bemark weens die gebrek aan kos. Die bietjie groen wat ’n mens nog sien, is waar die spilpunte tot onlangs nog lusern besproei het, maar ongelukkig het daardie waterbronne nou ook opgedroog.”

Die omgewing naby die Darlington-dam in die Sarah Baartman Distrik Munisipaliteit benodig ook dringend reën. Die dam is belangrik vir besproeiing in die Sondagsriviervallei. (Foto deur Carine van Kerken)

In die Sarah Baartman Distriksmunisipaliteit het daar in gedeeltes noord van Grahamstad goeie reën geval, en tussen 411 en 422mm is vir die jaar aangeteken. In dieselfde omgewing was daar egter ook dele waar slegs 270mm reën vanaf Januarie tot einde November geval het. Alhoewel die veld in dié deel van die provinsie tans droog is, is daar nog heelwat weiding op die meeste plase en is die langtermynvoorspelling goed vir reën aan die einde van Desember.

Tussen Grahamstad en Bedford, insluitend die Carlislebrug-gebied waar die Grootvisrivier deurloop, lyk die situasie heelwat anders. Volgens Tommie van Kerken, ’n produsent van die omgewing, is dit ongelooflik droog. Dit het in Junie laas ordentlik gereën, maar ongelukkig was die opvolgreën maar skraal gewees. Hulle ervaar tans baie droë en warm toestande wat met sterk winde gepaardgaan. “Ons skape lam op hierdie stadium en baie van die ooie gooi hul lammers weg onder die moeilike omstandighede. Ons verwag dat die wildsbokke dieselfde sal doen. Baie van die sybokhaarprodusente speen hul kleinbokkies nou vroeër en voer dié dan eerder vanuit die oogpunt dat daar nie genoeg kos vir die ooie is om dit vol te hou en voldoende melk te produseer nie.”

Verder aan in die Sarah Baartman-distrik, in die Gamtoosriviervallei wat as ’n waterskaarsgebied bekend staan, is die Kougadam wat van kritiese belang vir huishoudelike gebruik en besproeiing is. Boerderye in dié deel van die Oos-Kaap fokus hoofsaaklik op sitrus, groente en produkte soos aarbeie, bloubessies en draakvrugte. Die dam wat in 2023 oorgeloop het, sak op die stadium met ongeveer 1% per dag en is tans slegs 57,89% vol ten spyte van streng watergebruikbeperkings wat deur die Gamtoosbesproeiingsraad ingestel is.

Semi-woestyn dele van die Karoo trek swaar

Die droogtetoestande in die Beyers Naudé Distriksmunisipaliteit is ook kritiek. By Steytlerville, die Baviaans-wildernis, Rietbron en Willowmore is die gronderosie opvallend. (Foto deur Karin Bellingan)

“Ongelukkig is die opvolgreën net nie altyd daar nie,” sê Karin Bellingan van die plaas Kranskop by Steytlerville. “Die skaapprodusente in ons omgewing het na sewe jaar van droogte goeie reënval gekry in 2023, maar daarna het dit drasties afgeneem. Dit het beteken dat die veld nie regtig kon herstel nie. Hier op die plaas voer ons die vee nog die hele tyd. Ons moes ons ook ons vee verminder wat help om die voerkoste te beperk.”

Op die plaas Kranskop is Danie en Karin Bellingan dankbaar vir elke druppel reën wat val. (Foto deur Karin Bellingan)

Die probleem met jakkalse wat lammers vang, vereis volgens haar dat die ooie met lammers naby die huis gehou en gevoer moet word. “Die droogte het ernstige finansiële implikasies vir produsente in die omgewing wat maak dat ’n mens ander planne moet begin maak,” sê sy verder. “Ons het ’n ruk terug met lêhenne begin boer wat nou ons hoofinkomste is en die boerdery se kontantvloei ’n goeie ekstra hupstootjie gee.”

Wisselende reënvalpatrone kuslangs

By die kus in die omgewing van Port Alfred is altesaam 712mm vir 2024 gemeet. Volgens Frik van Rooyen, ’n Simbra-produsent by Kleinemonde wat sowat 15km noord van Port Alfred geleë is, word nog 277mm benodig om by verlede jaar se totale hoeveelheid reënval uit te kom. “Ons het baie sandgrond en die meeste damme is op die stadium leeg,” sê hy. “Alhoewel die weiding groen is, is dit baie kort en vind daar min groei plaas as gevolg van die lae reënval en koue nagte wat ons tans beleef. Die langtermynvoorspelling dui wel reën aan vir einde Desember. Wat wel interessant is, is dat ons vanjaar nie die gewone hoeveelheid reën in Augustus/September gehad het nie, vandaar die min kos en droë damme.”

Simon Matthews is ’n melkprodusent by die kus tussen Boknesstrand en Alexandria, en in November het hy 26mm op sy plaas gemeet. Volgens hom was die gemiddelde jaarlikse hoeveelheid reënval die afgelope 70 jaar in hul omgewing 800mm. “Tot op hede vir 2025 het ons slegs 490mm reën aangeteken – net effens meer as die helfte van die vorige gemiddeldes.” In 2016 en 2019 het hulle 500mm vir daardie jaar aangeteken en met die oog op al die reën wat in die binneland val, hoop hy saam met baie ander produsente in die omgewing dat daar voldoende reën binne die volgende paar weke sal val.

Algemene vooruitsigte vir die land

Intussen sê die onafhanklike weerkundige Johan van den Bergh dat die reën wat onlangs in verskeie dele van die Oos-Kaap, insluitend die Tuinroete, voorgekom het verligting vir baie produsente behoort te bring. In die Langkloof is tussen 20 en 25mm gemeet. Hoewel opvolgreën steeds noodsaaklik is in dele waar dit krities droog is, beskryf hy die aanvangs van reën in die provinsie as ’n belowende begin. Volgens hom bly die toestande vir reën in die res van die somerreënvalgebiede gunstig en hy sê die volgende daaroor: “In sekere gebiede is dit baie nat en dit lyk of hierdie toestande vir minstens die volgende twee weke gaan voortduur in groot dele van die Vrystaat, Noordwes, Gauteng, Limpopo en KwaZulu-Natal. Dit wil voorkom asof die La Niña-verskynsel ’n piek bereik het en ’n draaipunt betree. Reënval behoort in die sentrale tot oostelike somerreënvalgebiede tot ongeveer middel of einde Januarie voort te duur, waarna ’n droër periode in Februarie en Maart waarskynlik is.” –  Carin Venter en Christal-Lize Muller, Plaas Media

Related

Die BEK-pad is nié besaai met rose nie

Estimated reading time: 4 minutes ’n Studie in hoe om dit níé te doen nie. Dit is hoe Nick Serfontein die staat se hantering van...

Glaring lack of industry contributions in gazetted FMD vaccination scheme

Estimated reading time: 7 minutes The final Section 10 Routine Vaccination Scheme for Foot and Mouth Disease (FMD) was published in the Government Gazette on...

Wysiging van wingerdstokke se DNS kan weerstand teen siektes, droogte verhoog...

Wingerdstok geenredigering skakel ’n enkele geen ‘af’: ’n Plantbiotegnologie mylpaal in Afrika Estimated reading time: 8 minutes Die DNS van ’n stokkerige gewas is vir die...