Estimated reading time: 5 minutes
’n Nuwe R2 miljard-moutery, wat beoog om volgende jaar reeds 70 000 ton gars plaaslik aan te koop, het tonge los gehad tydens ’n paneelbespreking wat verlede week tydens NAMPO Kaap gehou is. Die geleentheid is deur Graan SA aangebied.
Hierdie positiewe verwikkeling kan moontlik ’n draaipunt in die land se garsverhaal wees, wat oor die afgelope paar jaar ’n wankelrige pad gestap het.
Krimpende bedryf
Jose de Kock, voorsitter van Graan SA se garsbedryfskomitee, sê Suid-Afrika het oor die afgelope paar jaar heelwat hektare aan koring en kanola verloor, omdat daardie twee gewasse onder andere baie genetiese vordering beleef het en sodoende tot ’n hoër opbrengs gelei het. “Op die oomblik het die garsbedryf probleme, omdat produsente besluite maak (oor wat om te plant) op grond van die kommoditeit se potensiaal.”
De Kock sê een van die groot uitdagings vir die bedryf is dat Suid-Afrika gars produseer om bier te brou, terwyl die res van die wêreld se fokus die produksie van voergars is. Dit is ook die een landboukommoditeit waar gehalte die hoofbepaler van prys is. Indien die gehalte nie reg is nie kry ’n produsent eenvoudig nie sy prys nie, omdat voergars baie goedkoper is. Die ander kwessie waaroor De Kock bekommerd is, is dat onkruidweerstandigheid besig is om toenemend ’n groter uitdaging as klimaatsverandering te word.
Bittereinders
Johan Lusse, hoofbestuurder van graan en graandienste by Overberg Agri, sê dié maatskappy is vir die afgelope vier dekades reeds in die garswaardeketting betrokke en ten spyte van die moeilike tye het hulle geen planne om die bedryf te verlaat nie.
“Gars is ’n gewas wat baie mooi in die silo opgepas moet word om te verseker dat die gehalte nie verlore gaan nie,” het Lusse gesê en bygevoeg dat hierdie piepklein bedryf ook deurgaans eerlik en duidelik moet kommunikeer. Oor die afgelope vyf tot 10 jaar het gemiddeld 10 tot 15% van die oes nie aan die gehalte vereistes vir bierbrouers voldoen het nie. “Dit het elke keer ’n geweldige impak op beide produsente en silo’s gehad.”
Gars word gewoonlik vir sowat ’n jaar gestoor voor dit gebruik word en in dié tyd is ontkieming die enkele grootste risiko, omdat daardie graan dan onbruikbaar is. “Die risiko wat met gars geassosieer word, is een van die groot redes hoekom produsente eerder koring of kanola plant.”
Die silwer randjie
Jeremy Antier, besturende direkteur van Soufflet Malt in Suid-Afrika, het oor die nuwe R2 miljard-moutery wat hulle tans in Johannesburg oprig, uitgebrei. Dié nuwe moutery sal plaaslike gars vir onder andere Heineken verwerk. Indien alles volgens plan verloop, sal die eerste 70 000 ton gars volgende jaar ingekoop word. Antier en sy span beoog om 100 000 ton mout teen 2027 te produseer.
Deon de Wet, Heineken se senior-programbestuurder: Landbou, het gesê die moutery is die realisering van ’n jare lange droom van Heineken en Distell om hul eie mout van 100% plaaslik gekweekte gars te produseer. Tewens, dié twee maatskappye het in 2019 reeds ’n kontrak in plek gehad om hierdie droom te verwesenlik. Die kontrak was dus in plek vóórdat die Heineken-groep Distell in 2023 verkry het. Covid-19 het egter ’n stok in die wiel gesteek en hulle kon die 2019-kontrak nou eers in werking stel.
As antwoord op ’n vraag uit die gehoor oor hoe produsente seker kan wees dat Soufflet Malt nie eenvoudig graan sou invoer nie, het beide Antier en De Wet gesê dat só ’n stap juis teen hul strategie sou indruis. “Die aankoop van plaaslike gars is een van die spilpunte wat gelei het tot die kontrak tussen Distell en Heineken. Dus sal dit teen ons beste belang wees om gars in te voer,” het De Wet gesê.
De Kock het op sy beurt gesê produsente kan gerusstelling vind in die wete dat hulle hard sal aanhou werk om die belange van produsente te bevorder, terwyl hulle ook hard werk om goeie verhoudings met garskopers te hê. – Susan Marais, Plaas Media



