HomeMagazinesVerminder speenskok by jou melkkalwers

Verminder speenskok by jou melkkalwers

Estimated reading time: 1 minute

  • Speenskok is die spanning wat kalwers ervaar wanneer hulle oorskakel van ’n vloeistof (melk)-dieet na ’n soliede aanvangsvoer as hulle nuwe hoofvoedingsbron.
  • Onvolwasse immuniteit, negatiewe energiebalans (NEB) en die druk waaronder kalwers tydens die speenproses verkeer, is ’n gevaarlike kombinasie en skep ’n vatbaarheid vir siektes.
  • Dit is belangrik om ’n balans te vind tussen melkinname en aanvangsvoer. Te veel melk sal veroorsaak dat die kalf nie genoegsame aanvangsvoer inneem nie, wat weer metaboliese uitdagings meebring en die immuunstelsel belemmer.
  • Die insluiting van ruvoer voor speen word nie aanbeveel nie, omdat die mikroörganismes aanvanklik nie in staat is om ruvoer te fermenteer nie.
  • Daar bestaan heelwat kontroversie oor die ‘wanneer’ van water vir kalwers. Die antwoord is: altyd!

Speenskok is die spanning wat kalwers ervaar wanneer hulle oorskakel van ’n vloeistof (melk)-dieet na ’n soliede aanvangsvoer as hulle nuwe hoofvoedingsbron. Die speenproses, ongeag watter metode gevolg word, plaas geweldige druk op kalwers.

In kommersiële melkerye word kalwers op die ouderdom van ongeveer agt weke gespeen. In hierdie stadium van hulle lewe is hulle nog immunologies onvolwasse, wat hulle vatbaar maak vir siektes veral wanneer hulle gespeen word. Die ontwikkeling van die kalf se immuunstelsel tot volwasse status is ’n langsame proses en die immunoglobuliene wat uit die kolostrum opgeneem word, is rondom 21 dae na kalwing uitgewerk. Die speenproses word ook geassosieer met ’n negatiewe energiebalans (NEB) wat lei tot gewigsverlies.

Onvolwasse immuniteit, NEB en die druk waaronder kalwers tydens die speenproses verkeer, is ’n gevaarlike kombinasie en skep ’n vatbaarheid vir siektes.

Verminder die effek van speenskok

Speen gaan met verskeie veranderinge gepaard, waarvan die eerste die oorskakeling van melk as hoofvoedingsbron na soliede voer as hoofvoedingsbron is. Hierdie verandering in die kalf se voedingspatroon is natuurlik die faktor wat die meeste stres veroorsaak.

Die beste benadering is om blootstelling aan ander stresfaktore te beperk tot slegs een op ’n slag:

  • Hou die kalwers vir ’n minimum van tien tot 14 dae na speen in hulle individuele hokke, sonder enige verdere veranderinge.
  • Hou die aanvangsvoer vir hierdie tydperk dieselfde.
  • Ná die individuele hokke moet die kalwers eers in kleiner groepies ingedeel word (ses tot agt kalwers per groep) voordat groot groepverskuiwings plaasvind.

Lees meer oor hoe om speenskok te voorkom hier.

Berei voor vir optimale groei

Kalwers moet ten minste 15 tot 20% van hul liggaamsmassa in die vorm van melk inneem vir genoegsame droëmateriaalinname (DMI) en optimale groei. As kalwers nie genoeg vreet om te kompenseer vir die verminderde melkinname nie, vergroot die NEB en verhoog die risiko vir siektes.

Dit is belangrik om ’n balans te vind tussen melkinname en aanvangsvoer. Te veel melk sal veroorsaak dat die kalf nie genoegsame aanvangsvoer inneem nie, wat weer metaboliese uitdagings meebring en die immuunstelsel belemmer. Die geleidelike vermindering van melk in die laaste twee weke voor speen word sterk aanbeveel, sodat die kalf die geleentheid kry om daarvoor te vergoed deur die inname van meer aanvangsvoer.

Rumenontwikkeling is ’n noodsaaklike aspek van die proses. As die rumen nie ontwikkel is met die aanvang van speen nie, gaan die kalf nie die voer optimaal kan benut nie. ‘n Kalf se rumenkapasiteit is slegs ongeveer 25% ontwikkel en die mikpunt is dus om dit so vinnig as moontlik voor te berei, sodat die soliede dieet optimaal benut kan word.

Die rumen vat ongeveer drie weke om te ontwikkel en dit word bereik deur die voer van graan. Graanfermentering in die rumen produseer bottersuur en propionsuur wat die rumen-pH verlaag en die groei van mikroörganismes verhoog. Dit vergroot ook die rumen en bevorder die ontwikkeling van papille wat noodsaaklik is vir die optimale benutting van soliede voer.

Die insluiting van ruvoer voor speen word nie aanbeveel nie, omdat die mikroörganismes aanvanklik nie in staat is om ruvoer te fermenteer nie. Die rumen sal nie op melk en ruvoer alleen ontwikkel nie – dus is graanvoeding nodig. Die fermentasie van ruvoer gaan gepaard met die produksie van asynsuur wat nie bydra tot die ontwikkeling van die rumen nie. Ruvoer mag dalk die rumen volmaak, maar verdring die aanvangsgraan wat gevolglik rumenontwikkeling sal belemmer.

Die rol van water

Daar bestaan heelwat kontroversie oor die ‘wanneer’ van water vir kalwers. Die antwoord is: altyd! Ad lib-water is ongelooflik belangrik by die grootmaak, rumenontwikkeling en speen van kalwers. Water deponeer tydens die drinkproses reguit na die rumen en skep ’n waterige omgewing waarin die mikroörganismes kan funksioneer. Waterinname bevorder ook DMI.

Die proteïene in melk stimuleer die esofageale groef wat veroorsaak dat melk die rumen omseil en reguit na die abomasum beweeg, waar dit klonte vorm vir optimale vertering. Die esofageale groef is direk na ‘n melkvoeding nog oop, en veroorsaak dat die water na die abomasum beweeg en die vertering van die melkklonte beïnvloed. Maak water dus eers ’n halfuur na die melkvoedings beskikbaar.

Kalwers wat diarree het of hittestres ondergaan moet gehidreer bly en het dus ’n groot behoefte aan skoon, koel water. Moet nooit ’n kompromie rondom jou kalwers se gesondheid aangaan nie. – Kayla Freysen, MSc Agric Veekunde (herkouersvoeding), Steyn Research Group

Vir meer inligting, kontak Kayla Freysen by 078 319 0237 of Kaylafreysen98@gmail.com.

Must Read

Lloyd Short: Optimale ontwikkeling is die sleutel tot sukses

Estimated reading time: 6 minutes Veeplaas het, tydens ‘n onlangse besoek aan die area, by Borden Angoras se plaashek ingedraai. Hier woon en werk...