Estimated reading time: 4 minutes
Speentyd is ’n belangrike fase in die lewe van ’n vleisbeeskalf. As die proses nie reg hanteer word nie, kan siektes toeslaan wat produksie kan knou en die dier se prestasie in die voerkraal benadeel.
Met speen word die kalf nie net van sy moeder geskei nie, maar moet hy ook leer om sonder melk klaar te kom en stelselmatig aan sy volwasse dieet gewoond raak, sodat hy kan uitgroei sonder om langer energie uit sy ma te tap.
Die regte tyd om diere te speen
Dr Andy Hentzen, ‘n spesialisveearts in vleisbeeskuddegesondheid en senior lektor aan die Universiteit van Pretoria, sê vleisbeeskalwers word normaalweg tussen die ouderdomme van ses en agt maande gespeen. Daar is talle faktore wat dié tydsberekening beïnvloed. Die regte speentyd het onder meer ’n invloed op hoe die kalwers op inentings in die voerkraal sal reageer.
Jonger kalwers se immuunstelsels is nog nie so goed ontwikkel soos dié van ouer kalwers nie. Daar kan nog maternale teenliggaampies teenwoordig wees, wat die werking van die entstowwe kan beïnvloed.
Naas geboorte, is speen die mees spanningsvolle tyd in ’n vleisbeeskalf se lewe, grotendeels as gevolg van die skeiding van sy moeder. Hierdie skeidingsangs kan nét so erg vir die koei as vir die kalf wees. Die voedingswaarde van die melk wat die kalf by sy ma kry is baie hoog, en skielik moet die kalf nou soveel meer gras vreet om die voedingswaarde van die melk te vervang. Die vermoë van die kalf se spysverteringstelsel om die gras geslaagd te verteer, is ook aan sy ouderdom gekoppel.
Nadele van siek voerkraaldiere
Die potensieel swakker immuunreaksie, tesame met die verhoogde spanning tydens speen, maak speenkalwers baie vatbaar vir virus- en gevolglik bakteriese infeksies in die voerkraal. Dit lei dikwels tot bees-lugwegsiektekompleks onder dié kalwers, wat groot koste vir die voerkraaleienaar inhou.
Behalwe vir die regstreekse koste van medikasie en selfs vrektes, is die verlies aan produksie die eintlike groot skade. Die uitwerking van subkliniese infeksies is die hoofrede dat kalwers nie volgens hul genetiese potensiaal presteer nie. Navorsing in Suid-Afrika toon dat kalwers wat klinies siek is, tot 200g per dag swakker as hul gesonde tydgenote groei. Kalwers met subkliniese simptome, kan tot 90g per dag swakker as gesonde kalwers groei.
Afgesien hiervan, loop en bulk gespeende kalwers aanhoudend, wat hul rustyd beperk en weer tot verminderde voerinname lei. Beeste moet rus om te kan herkou en vertering te bevorder. Die aanhoudende gebulk plaas ook fisiese spanning op die kalwers se kele, wat tot inflammasie kan lei en die risiko van lugwegsiektes verhoog.
Doeltreffende speenstelsels
Verskillende speenstelsels kan die negatiewe uitwerking van speenskok en die voorkoms van lugwegsiektes in die voerkraal beperk.
Die twee-stadium stelsel is daarop gemik om die koei en kalf bymekaar te hou, maar die kalf te verhinder om te suip. Dit word gedoen deur die kalwers in ’n kamp reg langs die koeie te sit, sodat die diere steeds gerusstellende kontak deur die heining behou.
Lees meer oor die bloudruk van ‘n uitblinkende speenkalfprodusent.
’n Oorkruisstelsel kan ook werk. In dié stelsel loop bulkalwers saam met die koeie wat verskalwers gehad het, en die verskalwers saam met die koeie wat bulkalwers gehad het. Dit verlaag speenskok, hoewel kalwers soms nog skelm suip.
Teensuipingstoestelle
Nog ’n alternatief is om ’n toestel aan die kalf se kop of bek te sit, wat verhoed dat die kalf kan suip. Studies toon dat dit waarskynlik ’n beter metode as die twee-stadium of oorkruisstelsel is. Sulke toestelle kan ’n halter met steekpennetjies wees, wat die koei irriteer as die kalf probeer suip, of ’n toestel met ’n klappie oor die kalf se neus en bolip wat keer dat die kalf die speen in sy bek kan kry.
Dié twee toestelle is wetenskaplik beproef en doeltreffend om die kalf te verhinder om te suip, maar die voordeel daarvan is twyfelagtig, omdat dit dikwels ook verhoed dat die kalf gras doeltreffend vreet.
Sowat tien jaar gelede is ’n neusring met stekels aan in Suid-Afrika ontwikkel, wat die koei irriteer sodat sy die kalf nie toelaat om te suip nie. Dit is ’n kombinasie van die halter met stekels en die neusklappie wat voorheen gebruik is.
Lees meer van speendoop wanneer temperature begin daal.
Die ring is kostedoeltreffend en só ontwerp dat dit maklik aangesit en verwyder, en herhaaldelik gebruik kan word. Hoewel sommige kalwers dit steeds regkry om te suip, bulk kalwers met die neusring aan, minder, hulle dwaal minder rond en is rustiger as kalwers wat nie die neusring aanhet nie. Die toestel verminder speenskok en ondersteun die gesondheid van speenkalwers, sê dr Hentzen. – Andries Gouws, Veeplaas
Vir meer inligting, kontak dr Hentzen by 012 529 8460 of epos andreas.hentzen@up.ac.za.