HomeAgri NewsVeranderinge in die rooivleisbedryf: Dis tyd om aan te pas 

Veranderinge in die rooivleisbedryf: Dis tyd om aan te pas 

Estimated reading time: 4 minutes

Daar was die afgelope paar jaar baie veranderinge in die rooivleisbedryf. Die bek-en-klouseer (BEK)-uitbreking het die bedryf ’n harde slag toegedien, en daarmee saam het dit moeiliker geword om vleis uit te voer. Vleispryse was op ’n stadium swakker as wat dit vyf of ses jaar gelede was en so kan ’n mens aangaan. Daar was wel ook positiewe faktore wat ’n rol gespeel het in die veranderende vleismark. 

Yolandé Botha, bedryfsbestuurder van die Rooivleisprodusente-organisasie Noord-Kaap (RPO Noord-Kaap), sê die hele bedryf, van die produsent tot by die verbruiker, het veranderinge ervaar. Dit was uiteindelik ten goede, aangesien dit die Suid-Afrikaanse bedryf se standaard verbeter het. Dit het ook gehelp om die bedryf se stelsels meer gedigitaliseer te maak. Die gevolg was dat meer gedetailleerde data beskikbaar gestel kon word sodat produsente beter bestuursbesluite kan neem. 

Nuwe vereistes 

Yolande Botha van die RPO Noord-Kaap saam met Koos du Pisanie van Plaas Media tydens die afgelope Agri Noord-Kaap kongres.

Tog is daar steeds produsente wat voel hulle hoef nie aan die nuwe vereistes te voldoen nie, aangesien hulle nie uitvoer nie. Volgens Botha is uitvoere egter ook vir hulle belangrik. “Wanneer beesvleis uitgevoer word, verlaag dit die druk op binnelandse markte. Wanneer uitvoermarkte egter vir Suid-Afrika gesluit word, kom daardie vleis terug in die plaaslike mark en plaas druk op rooivleispryse. Selfs dié wat nie uitvoer nie, word deur die uitvoermarkte geraak.”  

Volgens haar het produsente begin aanpas by die nuwe voerkraalvereistes en is daar vyf faktore wat bepaal of ’n produsent in die toekoms ’n premie by ’n voerkraal sal kry – naspeurbaarheid, gesondheid, genetika, doeltreffendheid en konsekwentheid. In die rooivleisbedryf het naspeurbaarheid ononderhandelbaar geword. Dit het ’n voorvereiste geword vir marktoegang, kopervertroue en toekomstige uitvoergeleenthede. 

Botha sê die moderne koper wil weet waar die diere vandaan kom, of hulle ingeënt en gesond was, en waar die plaas van oorsprong geleë is. Naspeurbaarheid is nie ’n gonswoord wat rondgegooi word nie. Dit is ’n landboutendens wat gekom het om te bly en elke produsent moet dit deel van sy boerdery maak om volhoubaar te boer. 

Dieregesondheid bepaal winsgewendheid 

In die laaste tyd het BEK-uitbrekings ’n groot invloed op die vleisuitvoere gehad. Uitvoere van beesprodukte het sedert 2025 met 26% gedaal. Sowat 66% van alle uitvoere gaan na vyf lande toe, en as een van hierdie lande hul invoere sou staak, sal dit ’n groot impak op die bedryf hê. Botha gebruik China as voorbeeld en sê Suid-Afrika het sedert 2024 ‘n hele 4 000 ton minder vleis verkoop; die waarde hiervan is R13,1 miljard.  

Dit beteken dat daar skielik meer vleis in die land is, wat vleispryse gevaarlik kan laat fluktueer. Dit veroorsaak weer dat die primêre produsent minder diere slag of met ’n laer prys tevrede moet wees. Daarom moet almal saamwerk om ’n oplossing vir die BEK-probleem te kry. Heelwat produsente en ander rolspelers doen baie moeite om die siekte aan te spreek en hul kuddes skoon te hou. 

Sy verduidelik dat die gesondheid van diere wat na ’n voerkraal gaan, belangriker is as hulle gewig. “Dieregesondheid bepaal of ’n voerkraal wins maak of nie. Voerkrale verloor geld as gevolg van siektes, vrektes en swak prestasie. Daarom verwag die voerkraal ook van die produsent om sy diere volgens die veeartsprotokol in te ent, parasietbeheer toe te pas en gesonde kalwers te voorsien.”  

Voerkrale verwag kalwers wat dadelik begin vreet wanneer hulle afgelaai word, eerder as kalwers wat weke neem om van stres te herstel voordat hulle begin vreet. Vir die RPO is dit belangrik om rooivleisprodusente op die wenpad te hou. Om dit alleen te doen, is egter nie moontlik nie en samewerking van rooivleisprodusente is dus belangrik. 

Verwagtinge vir die toekoms  

“Rooivleis behoort op ’n internasionale standaard aan die mark gebied te word en daarom word van produsente verwag om elektroniese naspeurbaarheidstelsels in hul boerderye te implementeer. Verskeie rolspelers het reeds saamgewerk en ’n gratis stelsel beskikbaar gestel.” 

Tweedens moet elke produsent sy diere individueel kan identifiseer. Daarom is oorplaatjies met ‘n unieke nommerstelsel noodsaaklik. Produsente moet ook behoorlik rekord hou van siektes en inentings. Dit is ook belangrik dat hierdie inligting gedeel kan word.  

Behalwe dat produsente uiteindelik ’n beter premie kan verdien indien hulle hul diere aan voerkrale verkoop, sal hulle ook beter inligting van elke dier byderhand hê en voortaan beter bestuurs- en toekomsbesluite kan neem. Voorheen het persone wat ’n goeie diere gelewer het dieselfde prys ontvang as een wat ’n swakker dier gelewer het. Volgens Botha is produsente, veral in die Noord-Kaap, baie inskiklik om betrokke te raak by die nuwe stelsels. Sy glo dit is die pad wat die rooivleisbedryf voortaan sal stap. – Koos du Pisanie, Plaas Media 

Vir meer inligting skakel Yolandé Botha van RPO Noord-Kaap by 067 597 1866.  

Must Read

Agri Noord-Kaap-kongres: Die toekoms van landbou in die Noord-Kaap

Estimated reading time: 4 minutesDie lewe verander vinnig en die landbou bly nie agter nie. Daar is gedurige nuwe tegnologie wat landbou vergemaklik en...