HomeAgri NewsAgriSpoor: Die nuwe toep om voorvalle aan te meld 

AgriSpoor: Die nuwe toep om voorvalle aan te meld 

Estimated reading time: 3 minutes

Ongelukkig word baie misdade en probleme nooit opgelos nie, aangesien dit nooit aangemeld word nie. Die algemene teen opmerking waarom sake nie aangemeld word nie, is gewoonlik dat dit nie help om misdade aan te meld nie omdat die polisie nie hul werk doen nie of omdat die Departement nie die infrastruktuur, soos paaie, onderhou nie. Die probleem het egter al so groot geword dat al hoe minder probleme gerapporteer word en volgens statistieke lyk dit of daar in jou omgewing geen probleme, misdade of peste en plae is nie.

AgriSA het ’n oplossing ontwikkel

Statistieke wat deesdae vertoon word, is nie altyd so akkuraat as wat dit mag lyk nie. Daarom het AgriSA al meer as ’n jaar gelede ingespring en ’n nuwe toep ontwikkel wat elke produsent en selfs diegene wat nie boer nie, kan help om sake aan te meld sodat daar op die lang duur feite op die tafel gesit kan word. “’n Persoon sonder data is net nog iemand met ’n opinie.” Dit was Janine Byleveld se mening tydens die Agri Noord-Kaap-kongres toe sy hierdie nuwe toep aan die produsente bekend gestel het.

Sy verduidelik dat voorvalle wat plaasvind ontleed moet word sodat patrone, neigings en brandpunte geïdentifiseer kan word. Op dié manier kan georganiseerde landbou meer skietgoed bymekaarmaak as hulle na staatsdepartemente gaan om sake soos swak paaie, elektrisiteit, telekommunikasie se swak internet seine en selfs uitbrekings van dieresiektes namens produsente te beveg. Sy sê hulle het data nodig sodat hulle hul punte kan bewys, en daarom is dit noodsaaklik dat die man op die grond betrokke moet raak om hierdie data in te dien.

Die drie fokusareas van die toep

AgriSpoor, AgriSA se toep, fokus tans nog net op drie areas. Dit sluit in landelike veiligheid soos diefstal, geweld, grondbesetting, mynbou, losloper diere en so meer. Bioveiligheid is ook een van die fokusareas en dit sluit in sprinkaanswerms en siektes wat in gebiede uitbreek. Die laaste fokusarea is infrastruktuur wat paaie met slaggate, brûe en paaie wat beskadig is, oorstromings en padteken kwessies en so meer insluit, maar ook probleme met elektrisiteit soos kragonderbrekings, kabeldiefstal ensovoorts en telekommunikasie soos byvoorbeeld geen sein nie, stadige internet en konneksiekwessies.

Ander fokuspunte wat binnekort ook bygevoeg sal word, is handel, water en die weer.

Besoek https://app.agrispoor.io/ om die toep op jou slimfoon af te laai. Alternatiewelik kan die onderstaande QR-kode geskandeer word of AgriSA se webblad kan besoek word.

AgriSpoor_QR code

Data van die toep kan ’n verskil maak

Sy stel dit baie duidelik dat as ’n voorval nie aangemeld word nie, kan dit nie ontleed of opgelos word nie. Dit word ook gebruik as motivering vir meer hulpbronne vir die polisie, beter infrastruktuur of sterker bioveiligheidsbeheer. Daar word aan alle produsente, sowel as die publiek, versoek om betrokke te raak by hierdie projek sodat daar meer data ingesamel kan word.

Een verslag doen die volgende:

Rapporteer: Die voorval word gerapporteer en die GPS ligging, tydstempel en bewyse word vasgelê.

Waarsku: Die gemeenskap kan betyds gewaarsku word. In gevalle van geweldsmisdaad kan bure en die gemeenskap betyds gewaarsku word.

Voorspraak: Georganiseerde landbou kan die saamgevoegde data gebruik om met die regering, SAPD en ander owerhede te onderhandel vir ’n beter Suid-Afrika.

Vir meer inligting skakel gerus met Janine Byleveld by 073 291 0557. – Koos du Pisanie, Plaas Media

Must Read

RSG Landbou: 7 September 2026

In vandag se aflewering van RSG Landbou vind ons meer uit oor SA Stamboek Trailblazer-geleentheid, die Agri Spoor toep en ons ontvang die nuutste...