Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur 2024 finaliste aangekondig

Estimated reading time: 3 minutes

Plaas Media het aan die begin van 2022 ’n projek, in samewerking met spesialis landboukonsultant, dr Louis du Pisani, van stapel gestuur met die doel om erkenning te gee aan veeprodusente wat klimaatslim boerderypraktyke op hul plase toepas. Hierdie projek is vanjaar vir die derde keer aangebied nadat twee baie waardige klimaatslim boere, James Faber en Piet Roux, in 2022 en 2023 onderskeidelik die titel van Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur verower het.

Die Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur-projek is gefokus op veeprodusente wat passievol is oor die bewaring van hul omgewing en hulpbronne, en wat uiteindelik bereid is om hul unieke kennis te deel met ander veeprodusente.

Die 2024-beoordelingsproses

Die deelnemers moes ’n vraelys op www.agriorbit.com voltooi wat hul boerderypraktyke vanuit ses hoeke oorweeg het, naamlik veldbestuur, kuddebestuur, bestuur van kaal grond, erosie en bosindringing, droogtebestuur, finansiële bestuur, en kennis oor klimaatsverandering. Die deelnemers se antwoorde is op ’n skaal van een tot tien beoordeel, die antwoorde sowel as die puntetellings is oorweeg, en die finaliste is op grond daarvan gekies. 

Dr du Pisani sal binne die volgende weke en maande die plase van die finaliste besoek vir kontroleringsdoeleindes en om die deelnemers se klimaatslim boerderypraktyke van nader te beskou.

Na afloop van die plaasbesoeke, sal die 2024 Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur aangewys word. Nie net is ’n handige kontantprys vir ons wenner beskore nie, maar hy of sy sal ook later vanjaar ’n boeredag op hul plaas aanbied, waartydens hulself en ander kenners kennis en praktyke met ander deelnemers en produsente sal deel. Borge sal ook ’n kans kry om met die deelnemers en produsente te skakel, en hul passie vir klimaatslim boerdery te deel.

Vanjaar se borge

Vanjaar se borge verdien applous vir hul toewyding aan klimaatslim boerdery in Suid-Afrika. Kyk gerus na die Plaas TV YouTube-kanaal waarop al die borge se onderhoude geplaas is om te hoor waarom hulle juis by dié projek betrokke is:

Ons borge vir 2024 is Nedbank, Zoetis en Advanta Seeds, ‘n nuwe borg. 

Ontmoet ons klimaatslim boere

Die projek het vanjaar verskeie inskrywings ontvang van boere wat almal klimaatslim boerderypraktyke op hul plase toepas. Hierdie produsente boer in uiteenlopende omgewings en streke. Die inskrywing is afgewerk na ses voorlopers, naamlik Dakman Marais, Charl Saunderson, Hendrik Odendaal, Paul Collet, Henfred Linde en John Luyt.

Uit hulle is uiteindelik drie finaliste in die derde Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur-projek, geïdentifiseer. Hulle is, in geen spesifieke volgorde nie:

  • Charl Saunderson van Kenhardt. 
  • Hendrik Odendaal van Standerton. 
  • Paul Collet van Cradock. 

Lees meer oor 2023 se boeredag

Baie geluk aan ons drie finaliste en baie dankie vir die inskrywings wat vanjaar ontvang is. Maak seker jy hou Plaas TV, Plaas Media se YouTube-kanaal, dop vir ‘n terugvoer-onderhoud met dr du Pisani asook die drie finaliste. ‘n Persverklaring sal uitgereik word sodra die wenner aangewys is en die boeredag se besonderhede bepaal is. Ons sien uit na ‘n stywe kompetisie vanjaar!

Vir meer inligting oor die kompetisie, kontak Deidré Louw by 066 231 2430 of epos deidre@plaasmedia.co.za. 

Popular stories