Veeplaas Klimaatambassadeur 2023-boeredag: Kennis en skoolgeld kom bymekaar

Estimated reading time: 7 minutes

Piet Roux, ’n skaapboer uit die Prieska-omgewing, is vanjaar aangewys as Suid-Afrika se Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur. Hy is die tweede ontvanger van hierdie toekenning wat in 2022 aan die bekende boer, James Faber, gegaan het. As deel van Piet se prys is ’n boeredag op sy plaas, Biega, tussen Prieska en Britstown, aangebied. Sowat 100 gaste het die geleentheid bygewoon en was dit eens dat die dag ‘n reuse-sukses was.

Hierdie bewusmakingsprojek word onderneem deur Plaas Media in samewerking met landboukundige, dr Louis du Pisani. Die uitsluitlike doel van die projek is om die invloed van klimaatsverandering in die landbou onder veeprodusente se aandag te bring en oplossings te soek, sodat hulle volhoubaar kan boer.

Oor doringbome en kaal kolle

As vanjaar se Klimaatslim-ambassadeur, was Piet uiteraard die hoofspreker van die boeredag. Hy boer vir meer as 33 jaar al op dié plaas en poog jaarliks om sy weiding te verbeter.

In sy praatjie het hy onder meer genoem dat hy die plaas by sy pa geërf het en dié het hom altyd geleer hy moet ontslae raak van die doringbome, omdat hulle watersuipers is. Daardie water moet eerder na die bossies en gras gaan, sodat die skape kos het. Piet het sedert sy eerste dag op die plaas, moeite gedoen om die indringerbosse uit te roei en vir meer as drie dekades al is dit ’n staande uitgawe op sy jaarlikse begroting.

Omdat daar heelwat kaal kolle op sy plaas is, doen hy ook baie moeite om sekere dele van die veld om te ploeg ten einde nuwe plantjies kans te gee om te groei. Hy het baie sukses daarmee behaal.

Hy het ook uitgebrei oor sy boerderymetodes, hoe hy sy plaas opgedeel het in kleiner kampe, en hoe hy elke grondsoort wat weer ’n eiesoortige plantversameling het, groepeer sodat hy elke deel van sy plaas optimaal kan aanwend.

Hy het onder meer vertel dat heelwat plase oor die laaste drie dekades in die mark gekom het; die versoeking was groot om meer grond te koop, maar elke keer het die verantwoordelikheid om eers sy eie grond optimaal te gebruik, harder geroep.

Deur onbenutte areas in goeie weiding te omskep, sonder dat dit teen uitermatige hoë koste gedoen is, het hy sy plaas se drakrag aansienlik verbeter en kon hy daarin slaag om die sewe-jaar droogte te deurstaan.

Hy maak gebruik van die inligting tot sy beskikking om sy diere betyds te verminder. Reënvalsyfers speel ’n groot rol in sy klimaatslimbestuurpraktyke.

Klimaatsverandering is ‘n gegewe

Vir dr Louis du Pisani, ’n bekende weidingkundige wat gereeld plase regoor die land en in Namibië besoek, is klimaatslim boerdery ‘n passie. Tot die dag dat hy sy kop neerlê, het hy gesê, sal hy poog om die belangrikheid hiervan by die landbougemeenskap inskerp.

As mede-koördineerder van die projek, was hy ook een van die sprekers by die boeredag. Volgens hom is klimaatsverandering ’n gegewe, maar dit is nie almal wat die effek daarvan verstaan nie.

Hy het verduidelik dat stygende temperature ’n reuse-invloed op boerdery het. Die lyk asof reënval oor die laaste klompie dekades verhoog het, maar in der waarheid het die aantal reënvaldae drasties verminder. Dit beteken swaarder reënbuie en water wat makliker wegspoel.

  • Pierre Louw Fourie, Piet Vos, Liam Coffee en Gert Coffee was onder die gaste wat die Veeplaas Klimaatambassadeur 2023-boerdedag op Prieska bygewoon het.
    Pierre Louw Fourie, Piet Vos, Liam Coffee en Gert Coffee was onder die gaste wat die Veeplaas Klimaatambassadeur 2023-boerdedag op Prieska bygewoon het.

Die invloed wat dit op vee het, is onrusbarend. Dr du Pisani het verduidelik dat temperature toeneem en dit het tot gevolg dat diere meer water moet drink. Terselfdertyd neem voerinname en reproduksie af. As dit so warm word, neem plante se vermoë om te fotosinteer ook af, wat veroorsaak dat die plante se voedingswaarde verminder.

Een van die wetenskaplike punte wat hy aangeraak het en wat die rooiligte laat flikker, is die verhoging van koolsuurgas. Die gevolg hiervan is dat bosverdigting toeneem, omdat die meeste indringerbosse in Suid-Afrika op koolsuurgas floreer. Dit is ’n probleem wat besig is om die oorhand te kry in Suid-Afrika.

Volgens dr Du Pisani is die eerste stap na ’n klimaatslim boerdery, om elke jaar gereed te maak vir ’n potensiële droogte en om só te boer, dat jou veld daardie potensiële droogte sal deurstaan en die aantal diere daarop sal kan voed.

Brei jou drakrag uit

Willie Storm, ’n beesboer uit die Olifantshoek-omgewing en deelnemer aan die 2022 Veeplaas Klimaatslim-projek, het ook die boeredag bygewoon en was ‘n lid van die paneel wat produsente se vrae beantwoord het.

Willie het vertel dat die drakrag in die omgewing waar hy boer, gewoonlik op 13ha/grootvee-eenheid (GVE) bereken word. Die plaas waarop hy begin boer het, was oortrek met indringerbosse en hy het besef dat hy ’n plan sal moet maak. Volgens sy berekening was dié plaas se drakrag maar 21ha/GVE.

Hy het besluit om indringerbosse te beheer. Hoewel dit ’n duur en tydsame proses is, het hy oor ’n klompie jare uitstekende resultate behaal en vandag kan hy spog met ‘n drakrag van slegs 5ha/GVE. Dit beteken dat hy na regte eintlik vir hom drie plase ‘bygekoop’ het. “Hoewel dit ’n duur proses is, is dit steeds goedkoper om jou veld te verbeter as om nog grond aan te koop.”

  • Connie Coetzee, Martin Compion, Andries en klein-Lukas Vollgraaff, en Hannes de Witt het ook die Veeplaas Klimaatambassadeur 2023-boerdedag op Prieska bygewoon.
    Connie Coetzee, Martin Compion, Andries en klein-Lukas Vollgraaff, en Hannes de Witt het ook die Veeplaas Klimaatambassadeur 2023-boerdedag op Prieska bygewoon.

Willie se raad aan die produsente was om te begin by die kampe wat die meeste indringers bevat. Omdat dit so ’n duur proses is, is dit beter om doodseker te maak jy het die regte chemiese middel tot jou beskikking en dat dit op die regte manier en teen die regte hoeveelheid toegedien word. Sy raad is om kundiges se hulp in te roep en sodoende oor die lang termyn te bespaar.

Hy het ook gewaarsku dat daar nie ’n kitsoplossing is nie. “Begroot jaarliks vir ’n bosbeheerprojek op die plaas.” Hy het egter die versekering gegee dat die wins uiteindelik baie groter is as die kapitaal en werk wat jy ingesit het.

Leer, gaan groen en maak wins

Daneel Rossouw, Nedbank se hoof van landbouverkope en ‘n borg van die projek, was ook een van die sprekers op die boeredag. Hy het gefokus op volhoubaarheid asook rentmeesterskap. Landbou, het hy gesê, is die ruggraat van baie gemeenskappe en as dit nie onderhou word nie, gaan Suid-Afrika nie staande kan bly nie. Daarom poog finansiële instellings om produsente so ver as moontlik te help.

Volgens hom is die probleme en krisisse wat daagliks ’n invloed op landbou het, legio en kan nie deur produsente ongedaan gemaak word nie. Hulle kan egter leer om hul boerderye rondom hierdie probleme te bestuur en steeds ’n goeie wins te maak.

Elke produsent kan poog om sy inkomste te verhoog en sy koste te bestuur, asook om sy produksie, genetika en rekordhouding te verbeter. Volgens hom is dit metodes wat maklik in enige boerdery toegepas kan word.

Verder het hy voorgestel dat die kontantvloei van elke boerdery beter bestuur moet word deur skuld korrek te struktureer. Elke projek op die plaas moet selfonderhoudend wees en daar moet in goeie jare voorsiening gemaak word vir die swak jare wat beslis weer gaan kom.

Bestuur suurpens

Die laaste spreker van die dag was BG Badenhorst, ’n verteenwoordiger van dieregesondheidsmaatskapp, Zoetis, ook ‘n borg van die projek. Hy het gesê in die Karoo-area is suurpens onder skape soms ’n groot probleem wat nie altyd na behore bestuur word nie.

Suurpens kom gewoonlik voor wanneer skape hulle oorvreet aan smaaklike voeding nadat hulle gewoond was aan swak voeding op die veld. Die belangrikste bestuursaspek is dat diere geleidelik aangepas moet word op enige nuwe voeding. Produsente moet ‘n goeie verhouding met hulle voerverteenwoordigers hê en op hoogte bly van die samestelling van rantsoene.

BG het die kliniese tekens van suurpens met produsente bespreek en klem gelê op die feit dat daar verkillende fases van die siekte kan wees; ernstige fases kan tot vrektes lei. Dit is egter ‘n siektetoestand wat voorkom kan word deur goeie bestuur.

Vir inligting oor die 2024 Veeplaas Klimaatslim-ambassadeurprojek se inskrywings en borgskappe, kontak Deidre Louw by epos deidre@plaasmedia.co.za of skakel 066 231 2430.

Must read

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 14 of 2024

The weekly pork carcass price is brought to you by the South African Pork Producer's Organisation (SAPPO). Click here for this week's report. How are these prices calculated? The Red Meat Abattoir Association (RMAA) gathers pricing data...
Jeugskou vir siggestremdes: Swellendam maak deure oop

Van skoue tot kultivars – Plaas TV het alles

Estimated reading time: 2 minutes Hierdie week het Plaas TV weereens vir interessante kykstof gesorg en vandag is #kykweervrydag. Hier is ’n opsomming van dié week se episodes: Tydens vanjaar se Swellendam-skou het leerders van die Pioneerskool...
Nico Slinger van De Lille Boerdery, Clanwilliam, is as die 2024 Rooibosprodusent van die Jaar aangewys. Van links in foto 1 is dr Ruben Richards, burgemeester van die Cederberg Munisipaliteit, dr Mogale Sebopetsa, hoof van die Wes-Kaapse Departement van Landbou, wenner Nico Slinger, en Marius du Randt, adjunkdirekteur van die Noord-Weskusstreek, Wes-Kaapse Departement van Landbou.

Rooibosprodusent van die Jaar aangewys

Estimated reading time: 4 minutes Nico Slinger van De Lille Boerdery duskant Clanwilliam, is as 2024 se Rooibosprodusent van die Jaar aangewys. Hy het sy toekenning ontvang tydens ‘n gala-aand wat deur die Wes-Kaapse...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 4 minutes Johan van den Berg ken sy storie as dit by die weer kom. Hy het die afgelope week met Lise Roberts oor die nuutste weersake op RSG Landbou gesels....

AG Bonsmara-veiling gee die toon aan

Estimated reading time: 3 minutes Die 32ste AG Bonsmara-veiling van Arthur en Anél de Villiers, het op 10 April op die plaas, Arcadia, in die Vrede-distrik plaasgevind. Die veiling vind elke jaar laat in...