Noukeurige rekordhouding: Die basis van volhoubaarheid

Estimated reading time: 8 minutes

  • Tommy Jordaan en sy twee seuns, Arno en André, boer saam onder die vaandel van die Aandson Trust in die Zastron-omgewing van die Suid-Vrystaat.
  • Die boerdery bestaan uit drie boerdery-eenhede en die sukses van die trust is volhoubare rekordhouding.
  • Een van die eerste stappe wat hulle geneem het om die skaapgedeelte van die boerdery op ’n hoër vlak te probeer kry, was om die hele kudde met elektroniese oorplaatjies te merk en die stelsel te outomatiseer.
  • Een van die belangrikste voordele wat elektroniese rekordhouding teweeg gebring het, sê André, was die akkurate beoordeling van die ooie en ramme.
  • Die Jordaans maak tans van laparoskopiese inseminasie gebruik, maar as hulle op die punt kom waar hulle eie ramme sonder twyfel van dieselfde gehalte is as die ramme waarmee hulle tans laparoskopies insemineer, gaan hulle heeltemal na natuurlike parings oorslaan.

Tommy Jordaan en sy twee seuns, Arno en André, boer saam onder die vaandel van die Aandson Trust in die Zastron-omgewing van die Suid-Vrystaat. Hoewel hulle vir een rekening boer, het elkeen van die twee seuns afsonderlike boerdery-eenhede waarvoor hulle verantwoordelik is. Arno het die maatskappy, Maluti Breeding, gestig. Dit fokus veral op hulle Simbra-beesboerdery, terwyl André weer Dubbel A Merino’s begin het wat op die skaapsektor fokus.

Die twee broers het albei op Grey Kollege in Bloemfontein gematrikuleer waarna Arno Elsenburg toe is en daarna vir twee jaar in Australië en Amerika gaan werk het. André het B. Agric aan die Universiteit van die Vrystaat studeer, waarna hy in 2009 plaas toe gekom het. Hulle jongste broer, Etienne, is ’n geoktrooieerde rekenmeester in Londen.

André sê hy is ’n veeboer in sy hart, maar hy glo dat boerdery nie kortpaaie het nie. Daarom probeer hulle alles wat hulle doen op die regte manier te doen, wat grootliks beteken dat aandag aan die kleinste detail uiters belangrik is.

“My oupa, Hansie, en sy broer, Basie, het die Merino-kudde by hulle pa oorgeneem. Ons skape kom dus al van 1926 af aan. Hoewel my voorouers nooit ’n stoet bedryf het nie, is die kudde reeds van vroeg af baie streng geklas vir die eienskappe wat oor die jare as belangrik beskou is. Dit is dus vir ons belangrik om op hierdie basis voort te bou. Ons het maar ’n paar jaar gelede eers die Dubbel A Merino-stoet gestig, maar die genetika in die kudde is amper ’n 100 jaar oud.”

Lees meer oor vleisskaaprasse.

Elektroniese stelsel

Een van die eerste stappe wat hulle geneem het om die skaapgedeelte van die boerdery op ’n hoër vlak te probeer kry, was om die hele kudde met elektroniese oorplaatjies te merk en die stelsel te outomatiseer. Daarmee saam het hulle besluit dat die intensifisering van hulle lamstelsel dringend noodsaaklik is om lamverliese te beperk.

Een van die belangrikste voordele wat die elektroniese rekordstelsel teweeg gebring het, sê André, was die akkurate beoordeling van die ooie.

“Ons het gevind dat dit onakkuraat is om al die ooie op dieselfde tyd te klas, want ooie wat pas ’n lam gespeen het, lyk definitief slegter as ooie wat op daardie punt gereed is om ram toe te gaan. Maar dan is daar ooie wat altyd goed lyk en dit is hulle wat eintlik ons beste ooie is.”

‘Mooi’ en ‘beste’, sê hy egter, het ’n totaal nuwe betekenis gekry noudat hulle die ooie op grond van hulle rekords kan beoordeel. ‘Beste’ is die ooie wat die meeste wins genereer, terwyl ‘mooi’ eintlik min betekenis het.

’n Ander gevolg van die noukeurige rekords is dat hulle die ramme beter kon begin beoordeel. “Ons het nog al die jare ons eie ramme geteel en dan kunsmatige inseminasie gebruik. Met die stoet het ons topramme begin inkoop, maar wat ons gesien het is dat ons eie ramme glad nie terugstaan vir hierdie nuwe genetika nie. Dit het ons baie vertroue in ons eie genetika gegee.”

Noudat hulle beter rekords het, sê hy, kan hulle ramme uit die beste moeders selekteer wat tops is wat bouvorm, vrugbaarheid, moedereienskappe, groei en wol betref. Soos wat die rekords al hoe beter word, word die kanse dat hierdie ramme nie hul stempel gaan afdruk nie, al hoe skaaler.

Unieke lamskure

In plaas daarvan om een groot lamskuur met lamhokke te bou, het hulle eerder gegaan vir die opsie om twee sulke eenhede naby aan die twee broers se huise op te rig. Elkeen kan dus toesig hou oor die deel van die kudde waarvoor hulle verantwoordelik is.

“Hoewel dit duurder was, het ons bereken dat die voordele baie swaarder as die koste weeg. Elkeen van ons kan ons kuddes onafhanklik bestuur sonder dat ons dalk kan oorvleuel en nie plek in die lamhokke het as ’n volgende groep ooie moet lam nie. Dit is ook makliker om ’n groep van 360 ooie in die lamhokke te bestuur as ’n groep van 600 of 700.”

Die lamskure is ten volle geoutomatiseer, wat ’n baie groot besparing op arbeid teweeg gebring het. “Een mens kan die hele lamskuur bestuur en kos en water gee. Ons het tegnologie uit die braaikuikenbedryf gebruik om die prosesse te outomatiseer. Verder het ons die klimaatsfaktor heeltemal geneutraliseer. Hier by ons kan dit bitter koud raak, tot -15°C, en ons het dikwels lammers in die koue verloor. Dit is nou iets van die verlede.”

’n Derde voordeel van die lamhokke is dat die gevaar van ongediertes ook heeltemal uitgeskakel is. “In die verlede was dit moeilik om te bepaal wat die oorsaak van lamverliese was en ons het dit maar oor die algemeen aan ongediertes toegeskryf. Nou sien ons elke lam wat gebore word; ons kan sien waarom ’n lam gevrek het of dalk doodgebore is. Dit maak ’n groot verskil aan ons seleksie.”

Leer meer van siektebeheer in intensiewe skaapboerderye.

Laparoskopiese inseminasie

Die Jordaans maak tans van laparoskopiese inseminasie gebruik, maar as hulle op die punt kom waar hulle eie ramme sonder twyfel van dieselfde gehalte is as die ramme waarmee hulle tans laparoskopies insemineer, gaan hulle heeltemal na natuurlike parings oorslaan.

“Dit gaan vir ons ’n groot klomp geld spaar om ’n groot groep ramme vir natuurlike paring te hê. Die enigste groep ooie wat nog laparoskopies geïnsemineer sal word, is die kerngroepie top-ooie wat gebruik sal word om genetiese diversiteit met genetika van buite te behou.”

Ten opsigte van sinkronisasie, probeer hulle om die groepe 17 dae uit mekaar te laat lam. Die opvolgooie uit die vorige groep val dan presies saam met die nuwe groep. Dit skakel daardie lastige ‘tussen-in’ groepe uit.

Net die beste voer

Die Jordaans produseer droëlandmielies asook lusern onder besproeiing en dan groenvoer vir die winter. Hulle het ’n verpillingsaanleg opgerig om hulle eie rantsoene te meng en te verpil.

“Ons verpil verskillende rantsoene vir die lamhokke, kruipvoer en voerkraal. Die behoeftes van die verskillende klasse diere verskil hemelsbreed; dit is dus belangrik dat elkeen ’n spesifieke rantsoen kry.”

Hulle weidingsbestuur het veral twee mikpunte. Die eerste is dat hulle spesiale kampe het waarheen die skape gaan ná hulle teen interne parasiete gedoseer is. Die skape bly dan vir so drie dae in hierdie kampe en word dan na die normale weidingskampe geskuif. Verder probeer hulle die skape nie langer as 21 dae in ’n kamp los nie, sodat die lewensiklus van die parasiete verbreek kan word. Verder probeer hulle om dan die skape vir ’n lang tydperk uit so ’n gebruikte kamp te hou.

Hierdie kort beweidings- en lang rusperiodes het ook ’n positiewe effek op veldherstel. “Ons probeer om jaarliks ’n deel van die plaas in geheel te laat rus, sodat die veld ’n volle groeiseisoen kans kry om te herstel, saad te maak en reserwes te bou. Hierdie stelsel hang natuurlik ook van die tipe seisoen af.

“Die afgelope twee jaar met die hoë reënval, was die groei so goed dat dit onnodig was om kampe so lank te laat rus. Parasietbeheer is dan die grootste rede vir die kort wei- en lang rusbenadering. ’n Ander goeie beheerstrategie is dat die beeste en skape in ’n kamp afgewissel word. Die een spesie dien dan as ‘stofsuier’ vir die parasiete wat op die ander spesie gemik is.”

In die winter plant hulle groenvoer om die gapings in die voervloeiprogram toe te maak.

Begin van groter dinge

Die voordele van ’n elektroniese bestuurstelsel wat hulle reeds ervaar, sluit hy af, is maar net die begin. Daar is nog baie ander dinge wat hulle kan implementeer en die eerste daarvan sal wees om hulle ooie op grond van wolgehalte te klas en die wol dan daarvolgens te baal. Dit sal ’n noemenswaardige premie op die wol meebring. – Izak Hofmeyr, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak André Jordaan by 082 801 1323.

Must read

Weeklikse rooivleispryse / Weekly meat prices

Estimated reading time: 5 minutes Plaashekpryse/Farm gate prices Die jongste vleispryse word weekliks aan u gebring deur Absa en die RPO. Neem kennis dat hierdie nie kleinhandelpryse is nie, maar wel plaashekpryse wat BTW uitsluit. Get the...

Shifting seasons lead to fire hazards

Estimated reading time: 4 minutes It is fire season. Several intense veld fires have been reported in various parts of the country, causing loss of winter forage and stored hay bales, but more tragically, have...
Cilo Cybin noteer op JSE

Landbougeleenthede bly belangrik – Plaas TV vertel meer

Estimated reading time: 2 minutes Hierdie week het Plaas TV weereens vir interessante kykstof gesorg en vandag is #kykweervrydag. Hier is ’n opsomming van dié week se episodes: 'n Mediese-kannabis-beleggingsmaatskappy genaamd Cilo Cybin Holdings Limited het onlangs op...

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 28 of 2024

The weekly pork carcass prices are brought to you by the South African Pork Producer's Organisation (SAPPO). Click here for this week's report. How are these prices calculated? The Red Meat Abattoir Association (RMAA) gathers pricing data...
Plaas TV, alternatiewe energie MPO stewardship

HSRC survey: SA Agribusinesses demonstrates innovation despite challenges

Estimated reading time: 4 minutes A recent survey conducted by the Human Sciences Research Council (HSRC) has found that over two-thirds of South African agribusinesses implemented innovative activities between 2019 and 2021, despite the disruptions...