Estimated reading time: 4 minutes
Aalwurms is ’n baie groter probleem onder saaiboere as wat baie mense sou dink. Volgens statistieke veroorsaak aalwurms gewasverliese van sowat 12,3% wêreldwyd. Dit beteken dat hierdie verliese sowat US$157 miljard per jaar beloop.
Dit was die boodskap van Klaas van Wyk, ’n landboukundige van Pannar, wat die saaiboere van Prieska tydens ’n Pannar-inligtingsessie in die Noord-Kaap toegespreek het.
Hy beskryf aalwurms as een van die mees onderskatte plae in mielieproduksie aangesien baie mense glo dat net die aartappel– en ander knolgewasprodusente die probleem ervaar.
Volgens hom is daar in 2023 sowat 4 100 spesies aalwurm geïdentifiseer. Verlede jaar het dit tot meer as 20 000 gegroei, waarvan 50 spesies op mielies aangetref word.
Hy sê mense ignoreer die gevaar van aalwurms omdat dit te klein is om raak te sien en van die simptome dikwels met ander oorsake verwar word.
Simptome van aalwurms by mielies
Van Wyk verduidelik dat die belangrikste teken van aalwurmbesmetting is dat mielies stadiger groei. Soms lyk dit ook of die mielies verdroog of vergeel, en in ernstige gevalle gaan hulle selfs dood. Galle kan ook op die wortels vorm. Galle is knopagtige swelsels wat op mieliewortels vorm wanneer aalwurms die wortelweefsel aanval en beskadig.
Nog ’n simptoom is dat dit nie net by ’n enkele plant voorkom nie, maar dat verskeie plante terselfdertyd besmet raak. Gevolglik vaar sekere gedeeltes van ’n land beduidend swakker as die ander en dit kan soms voorkom asof sekere rye of kolle in die land nie ordentlik wil groei nie. Wanneer die mielies verlep of vergeel, word dit soms met ’n tekort aan water en voedingstowwe verwar.
Identifisering van aalwurm
Dit is moeilik om aalwurm in ’n mielieland te identifiseer. Om die waarheid te sê, dit kan eintlik net met behulp van monsters uit die mielieland deur ’n nematode-laboratorium gedoen word.
“Monsters vir aalwurmontleding moet geneem word wanneer die potensiaal vir hoë populasies die hoogste is. Neem monsters waar die plante aktief groei en aalwurms reeds uitgebroei en begin vreet het. Vir die beste resultate moet die monsters gedurende vroeë vegetatiewe groei geneem word, wanneer daar reeds tekens van moontlike aalwurmskade in die land sigbaar is,” gee Van Wyk raad.
Hy voeg ook by dat die volgende by die monsterneming in gedagte gehou moet word:
- Spit die geaffekteerde plante met ’n graaf uit en behou die grond tussen die wortels.
- Slegs ’n koppie of twee vol grond is nodig vir analise. Die beste is om dit in die ry van die groeiende mielies te neem.
- Merk al die monsters duidelik.
- Dit is die beste om die monsters óf oornag óf met dieselfde dag versending na die nematode-laboratorium te stuur.
- Moenie die sak in die son laat lê nie, aangesien dit die aalwurms onidentifiseerbaar kan maak.
Beheermetodes
Daar is verskeie maniere om aalwurms te beheer. Volgens Van Wyk kan dit gedoen word deur chemiese beroking, die inwerking van goeie kompos in die grond, die aanplant van kanola, asook die gebruik van chitien. Chitien, wat afkomstig is van gemaalde krapdoppe, is egter ’n baie duur opsie.
Hy raai produsente ook aan om dekgewasse soos bladrammenas, wit mosterd, voersorghum en hawer te plant nadat die mielies geoes is. Hierdie dekgewasse sal aalwurm kan teenstaan en die grond weer gesond maak.
Vir besproeiingsprodusente gee Van Wyk ook die raad om seker te maak hoe diep hulle water uit die rivier of waterbron pomp.
“Aalwurm kan redelik diep onder die water oorleef en vermeerder. As die water diep uit die rivier gepomp word, beteken dit dat jy die aalwurm uit die rivier pomp en in massas op jou mielielande versprei. Sommige produsente neem die inisiatief om die pomp op ’n vlot te sit sodat die water so hoog moontlik geskep word,” verduidelik hy. “Aalwurm kan nie in die warmer water naby die oppervlak oorleef nie.”
Van Wyk het beklemtoon dat grondgesondheid ’n belangrike faktor in die voorkoming van aalwurmbesmetting is. Mis toediening, onkruidbeheer en gewasrotasie is goeie praktyke om grond gesond te hou. – Koos du Pisanie, Plaas Media
Skakel gerus met Klaas van Wyk by 072 665 6488 om meer te wete te kom.
