- Die doel van ’n wisselboustelsel waarin gewasse geroteer word, is hoofsaaklik om grondsiektes te beperk, die grondstruktuur en -vrugbaarheid te verbeter en die organismes wat organiese materiaal afbreek en in voedingstowwe omskakel, te bevoordeel.
- Jamie Gerber van Barenbrug Saad sê hernubare landboumetodes wen veld in Suid-Afrika, aangesien dit verskeie voordele inhou.
- Hoe groter die plantdiversiteit, hoe meer verskillende mikrobes kom voor en hoe kragtiger is die grond se ekostelsel.
- Aalwurms, wat mikroskopies klein is, teer op plantwortels en kan groot skade aan verskeie plantsoorte aanrig.
- Die benutting van oesreste help produsente om hul veekuddes deur die laat wintermaande, wanneer natuurlike weiding smaakloos en voedingsarm is, in goeie kondisie te hou.
Die doel van ’n wisselboustelsel waarin gewasse geroteer word, is hoofsaaklik om grondsiektes te beperk, die grondstruktuur en -vrugbaarheid te verbeter en die organismes wat organiese materiaal afbreek en in voedingstowwe omskakel, te bevoordeel. Sou voergewasse strategies in so ’n stelsel geïntegreer word, kan dit saam met vee en oesreste benut word om die uitdagende laatwintermaande te oorbrug. Dit bied ook die moontlikheid vir ’n goeie opbrengs op belegging in die vestiging van voergewasse.
In gevalle waar grondgedraagte siektes en onkruide in monokultuur-verbouingstelsels weerstand teen chemiese beheermiddels opgebou het, kan wisselbou ’n natuurlike oplossing bied. Jamie Gerber van Barenbrug Saad sê hernubare landboumetodes wen veld in Suid-Afrika, aangesien dit verskeie voordele inhou – insluitend verhoogde opbrengste, volhoubare grondgebruik, die beskerming van grondekostelsels en ’n beperking op die gebruik van chemiese bemesting- en plaagbeheermiddels.
Sy beskryf dekgewasse as plante wat voordelig is vir die grond in ’n wisselboustelsel met kontantgewasse, of wanneer dit tussen die rye van gewasse, vrugtebome en wingerde geplant word. Om die voordele van dekgewasse in ’n wisselboustelsel ten volle te benut, is dit noodsaaklik om die regte spesies en variëteite te kies. ’n Verskeidenheid dekgewasse is kommersieel beskikbaar en daarom is kundige advies belangrik. Die regte keuse kan uitdagend wees, aangesien grondtipes, klimaat en benuttingsmetodes van plaas tot plaas verskil.
Mikrobes en grondgesondheid
Mikrobes in die wortelsone van plante word deur ’n komplekse netwerk van voordelige swamme aan die plante gekoppel, verhoog die beskikbaarheid van voedingstowwe vir wortelopname en verbeter terselfdertyd die grondstruktuur. ’n Mengsel van dekgewasse voorsien hierdie mikrobes van ’n gebalanseerde dieet deur ’n unieke proses waarin die wortels van verskillende plantspesies chemiese stowwe vrystel.
Hoe groter die plantdiversiteit, hoe meer verskillende mikrobes kom voor en hoe kragtiger is die grond se ekostelsel. Die mikrobes in die grond werk op ’n soortgelyke wyse as dié in ’n bees se rumen, waar voer in voedingstowwe omskep en deur die bees opgeneem kan word.
Grondmikrobes vereis ’n koolstof- en stikstofverhouding van 24:1 om plantmateriaal doeltreffend in voedingstowwe af te breek wat deur die daaropvolgende plante opgeneem kan word. Plante met ’n lae koolstof- en stikstofverhouding, soos peulgewasse, breek makliker en vinniger af, terwyl dié met ’n hoër verhouding, soos mieliestronke, moeiliker afbreek en langer neem om te ontbind.
Stikstof is uiters noodsaaklik vir dié mikrobes. Indien dit nie deur plantmateriaal of ander bronne voorsien word nie, onttrek hulle dit uit die grond, wat die beskikbare stikstof vir opvolggewasse verminder. Wanneer ’n dekgewas met ’n koolstof- en stikstofverhouding so na aan die ideale verhouding as moontlik geplant word, stel dit die mikrobes in staat om die plantmateriaal af te breek en stikstof terug in die grond te plaas, wat deur die volgende gewasse benut kan word.
Die koolstof- en stikstofverhouding, sowel as die relatiewe afbreekbaarheid van plantmateriaal, word deur verskeie faktore beïnvloed. Dit sluit onder andere die groeistadium van die plant, die stand van die mikrobes in die grond en die algehele grondgesondheid in. Meer volwasse plante, veral grasse, is gewoonlik meer veselagtig, het ’n hoër koolstof- en stikstofverhouding en breek dikwels stadiger af.
Belê in jou grond se toekoms
Dekgewasse kan as ’n belegging beskou word in die verbetering van grond en die opvolggewas. Hierdie belegging kan meer winsgewend wees deur die regte dekgewasse te kies wat saam die ideale koolstof- en stikstofverhouding bewerkstellig. Die oesreste van mielies het ’n besonder hoë koolstof- en stikstofverhouding van sowat 57:1, wat dit stadig laat afbreek. Omdat mieliereste min stikstof in verhouding tot koolstof vrystel, onttrek mikrobes stikstof uit die grond om die plantmateriaal af te breek. Dit kan voorkom word deur ’n dekgewasmengsel met ’n laer koolstof- en stikstofverhouding te kies.
’n Mengsel van gras- en peuldekgewasse verseker ’n balans tussen die benutting van stikstof deur mikrobes en die proses van mineralisering. Die koolstof- en stikstofverhouding van eenjarige raaigras is 12:1, sandwieke 11:1 en stoelraaigras 26:1. Mieliestronke en so ’n dekgewasmengsel vul mekaar goed aan, wat help om ’n gebalanseerde verhouding tussen koolstof en stikstof te handhaaf.

Beheer van aalwurms
Spesifieke vereistes, soos die bestryding van plae of die behoefte om stikstof in die grond neer te lê, beïnvloed ook die keuse van dekgewasse. Veral peulgewasse lê stikstof neer. Aalwurms, wat mikroskopies klein is, teer op plantwortels en kan groot skade aan verskeie plantsoorte aanrig. Die wurms vreet aan die wortels en die onderste deel van die stam, wat die plant se vermoë om water en voedingstowwe uit die grond op te neem, nadelig beïnvloed. Hierdie plaag kan met die regte dekgewasse bestuur word. Sekere spesies, soos Cordoba-radyse en Venesiese wit mosterd, is spesifiek ontwikkel om sekere aalwurmsoorte te teiken.
Wanneer dekgewasse vir hierdie doel gebruik word, word produsente aangeraai om die saaidigtheid te verhoog tot 25kg saad/ha. Navorsing toon dat ’n digte plantestand die wortels help om die gebiede waar aalwurms voorkom, makliker te bereik. Die digte blaredak onderdruk ook onkruide wat as gasheerplante vir die aalwurms dien. Indien drastiese beheer nodig is, word aanbeveel dat ’n enkele dekgewas met goeie weerstandbiedendheid teen aalwurms gebruik word om te voorkom dat variëteite met minder weerstand beheer bemoeilik.
Dit is belangrik om te weet watter aalwurmspesies voorkom; hierdie kennis maak dit moontlik om die doeltreffendste gewasse te kies en sodoende beter welslae te behaal. Gewasse wat nie ’n gasheer is nie of ’n swak gasheer vir aalwurms is, kan gebruik word om die aalwurmbevolking oor tyd te verminder.
Dit is egter nie altyd so eenvoudig nie, aangesien dekgewasse se gasheerstatus verskil en verskillende aalwurms verskillende plantspesies as gashere verkies. Grondontledings is daarom dikwels nodig vir ingeligte besluitneming.
Sekere dekgewasse, soos bruin en wit mosterd, kan deur produsente gebruik word om die grond biologies te ontsmet en sodoende aalwurms en ander grondsiektes te beheer. Wanneer die plante stukkend gekap en in die grond ingewerk word, skei die plantmateriaal vlugtige stowwe af wat die aalwurms kan doodmaak.
Indien onsekerheid bestaan oor watter aalwurms in die grond voorkom, kan ’n mengsel van dekgewasse geplant word om ’n meer diverse samestelling van grondmikrobes te stimuleer en die grondgesondheid te verbeter. Verskillende mikrobes op die wortels van die dekgewasse kan beter met die aalwurms meeding of selfs daarop teer.
Voordele van gemengde verbouing
’n Ander metode om grondgesondheid te bevorder, is om dekgewasse tussen mielies te plant voordat die mielies gestroop word. Gewoonlik word die dekgewasse geplant wanneer die mielies die sesblaarstadium bereik het. Die gewasse kom op en word deur die mielies se blaredak bedek, wat gevolglik hul groei vertraag. Wanneer die mielies ryp word en sonlig deurkom, begin die dekgewasse voluit groei en ding nie meer met die mielies mee om vog en voedingstowwe nie.
Die benutting van oesreste help produsente om hul veekuddes deur die laat wintermaande, wanneer natuurlike weiding smaakloos en voedingsarm is, in goeie kondisie te hou. Mieliereste alleen is egter nie ’n goedgebalanseerde rantsoen vir vee nie, en dekgewasse sal dikwels die balans regstel.

Vir so ’n stelsel om suksesvol te wees, is dit noodsaaklik dat die toestande teen die plantdatum van die dekgewas geskik is vir ontkieming en groei. Die dekgewas moet egter nie met die mielieplante meeding om vog en voedingstowwe nie, maar eerder in die skaduwee van die mielies oorleef en voldoende voer aan die vee verskaf.
Dekgewasse word ook suksesvol tussen permanente gewasse soos vrugte- en neutbome, wingerde, groente en kruie geplant om die grondstruktuur te stabiliseer, waterindringing te verhoog, onkruide te onderdruk, grondverdigting teen te werk en verdamping te verminder. Alhoewel gewasverbouing riskant is, kan hierdie kwesbaarheid tot ’n mate beperk word deur dekgewasse saam te verbou, sodat dit nie tot ’n totale misoes lei nie. – Andries Gouws, Plaas Media
Vir meer inligting, stuur ’n e-pos aan Jamie Gerber by jyoung@barenbrug.co.za


