UV-projek staal die wolwaardeketting en landelike ekonomie

Estimated reading time: 6 minutes

’n Inisiatief deur die Universiteit van die Vrystaat (UV) se Departement van Volhoubare Voedselsisteme en Ontwikkeling, wat daarop gemik is om die wolwaardeketting in informele gebiede in die Vrystaat uit te brei, werp vrugte af. Die Ruforum-projek bestaan uit verskillende bene wat onder meer die bemagtiging van plaaslike klein wolboere insluit, sodat hulle meer mededingend kan wees.

Lees die artikel in Engels.

Dié produsente word in staat gestel om hul eie winsgewende, volhoubare en hernubare ondernemings te bedryf. In die proses word armoede bestry en ’n volhoubare leefwyse in plaaslike gemeenskappe gevestig. Dr Jan Swanepoel, senior lektor en navorser by dié departement, en Carien Denner-Vorster, projekkoördineerder, is die dryfkrag agter hierdie projek wat in 2019 van stapel gestuur is.

Goedkeuring en befondsing

Dr Swanepoel se voorstel en aksieplan is aan Ruforum, oftewel Regional Universities Forum for Capacity Building, voorgelê en goedgekeur. Sedertdien gaan die projek van krag-tot-krag. Ruforum is ’n netwerk van 47 universiteite in Afrika wat daarop fokus om die landboubedryf in Afrika te ontwikkel en bevorder.

Dié konsortium, wat in Uganda gevestig is, ondersteun universiteite om die belangrike en grootliks onvervulde rol wat hierdie instellings in die welstand van kleinskaalse produsente en ekonomiese ontwikkeling kan speel, aan te spreek.

Lees oor die eienskappe wat wolgehalte bepaal hier.

Finansiële ondersteuning vir die ontwikkeling van die projek is deur Ruforum toegestaan. Dr Swanepoel sê hulle is baie dankbaar vir die geleentheid, want ’n projek van hierdie aard is noodsaaklik in ’n bedryf wat aan die ontwikkel is, en van ’n plaaslike en nasionale na ’n globale handelsmark beweeg. Dit beteken dat gemeenskapsboere wat op klein skaal boer, toenemend met groot internasionale kommersiële boerderye meeding.

Ontwikkeling van gemeenskapsboere

Daar is toenemende druk op produsente van ontwikkelende lande om hul boerderye te kommersialiseer, en in die proses moet nuwe vaardighede aangeleer word om hulle as bekwame entrepreneurs op te lei. Die produsente het ook gewoonlik hulp nodig in terme van infrastruktuur en verbeterde marktoegang. Hierdie uitdagings moet geïdentifiseer en aangespreek word, sê dr Swanepoel.

Hy benadruk ook dat, weens die noodsaaklikheid van landbou, die bedryf op alle moontlike maniere ondersteun moet word om bestaans-, klein- en selfs kommersiële boerderye binne hul onderskeie waardekettings te bevorder. Die fokus moet daarop val om die ekonomie binne elke gemeenskap te ondersteun en uit te brei.

Namate die bedryf sy verantwoordelikheid in hierdie verband besef, kan nuwe strategieë bedink word om die sosio-ekonomiese status van alle belanghebbendes aan te dryf. Hy meen die konsep van bestaans- en kleinboerdery is algemeen in baie dele van die wêreld, en as daardie eenhede deur goeie bestuur na kommersiële boerderye oorgeskakel kan word, kan die lewensgehalte van miljoene mense verbeter word.

Hy sê die projek is juis geskoei op die kommersialisering van wolproduserende kleinboere in landelike gebiede in die Vrystaat. Strategieë word ontwikkel en gelyktydig geïmplementeer om die uitdagings wat hierdie produsente ervaar, te oorkom.

Die wolbedryf is een van die bedrywe in die land wat nog baie kan uitbrei en ruim geleenthede vir groei bied. Die huidige wisselvalligheid ten opsigte van die internasionale markvraag, weens aspekte soos die verbod (intussen opgehef) op wolinvoere deur lande soos China, kan ander geleenthede skep. Daarby kan nisprodukte wat uit wol vervaardig word ook ’n groot bydrae tot die bestaande waardeketting lewer. Hy sê werksgeleenthede word so geskep en die uitvoermark word in die proses uitgebrei.

Opleiding as ’n fokuspunt

Volgens hom het die projek verskeie fokuspunte. Een daarvan is die verbetering van wolkwekers, skaapskeerders, en mans en vroue uit die gemeenskap, se vermoëns. Dit geskied deur middel van kennis en vaardigheidsopleiding. Die universiteit se Paradys-proefplaas net suid van Bloemfontein, dien as die gesentraliseerde basis vanwaar wolproduksie en verwerking ondersteun word.

Benewens die opleiding van wolproduserende kleinboere en gemeenskappe, baat altesaam vyf nagraadse studente ook regstreeks by dié projek. Dr Swanepoel sê dosente en studente van die UV asook van Glen Landboukollege werk nou saam met kommunale en kommersiële produsente, sowel as verskeie privaatinstansies.

Opleiding aan produsente en studente sluit wolklassifikasie, skaaphantering, kuddebestuur en -gesondheid in. Dit is veral ’n deeglike kennis van en vermoë om wol te klas, wat die kleinboere waardevol vind, omdat hulle meer waarde uit hul wolskeersels kan put. Daarmee saam word vroue vanuit gemeenskappe opgelei om waarde tot wolproduksie toe te voeg, deurdat die minder waardevolle wol van skape, sonder die nodigheid van duur toerusting, in bemarkbare produkte omskep word.

Carien sê hulle is bedrywig en het al baie deur opleiding bereik. Altesaam 44 werksessies is reeds aangebied, waartydens klein wolboere in kuddebestuur en wolklassering opgelei is. Uit die 521 produsente was 313 mans en 208 vroue. Sy sê goeie terugvoer is ontvang en talle van die produsente het meer as een werksessie bygewoon.

Verder is altesaam sewe vroue uit die gemeenskap op ’n voltydse grondslag aangestel om wolprodukte te vervaardig. Hulle verwerk die rouwol en skeersels van die UV se eie Dohne-merino-kudde, deur dit te was en te kam, vilt daarvan te maak en dit te kleur. Hulle spin, weef en brei ook produkte wat op markte verkoop word.

Sy sê die universiteit het ook al heelwat bestellings ontvang vir dra- en viltsakke asook musse, wat as geskenke by kongresse uitgedeel word. Volgens haar mik hulle nou om die mark in dié verband uit te brei.

Navorsing in die waardeketting

Carien sê die projek het ook ’n navorsingskomponent wat op verskillende aspekte van die wolwaardeketting geskoei is. Die evaluering, toetsing en verdere ontwikkeling van sekere tegnologieë en sosiale en ekonomiese situasies, word nagevors. Altesaam vyf nagraadse studente van verskillende departemente van die UV is by dié navorsing betrokke.

Lees meer oor die unieke erfenis van wol.

Die studente se navorsing sluit onder meer in die bemagtiging van klein wolboere om die kommersiële mark te betree en mededingend te wees, beter parasietbeheer in kuddes, die bemarking van nisprodukte en die was van wol.

Groter geleenthede vir groei

Samewerkingsooreenkomste is met ander universiteitsinstellings en die Departement van Landbou in die Wes-Kaap gesluit om sekere aspekte van die wolprojek daar toe te pas. Vroue in hierdie gebiede gaan ook opleiding ontvang om waarde tot wolproduksie toe te voeg.

Dr Swanepoel sê hulle beoog om kleiner wolprodusente verder te bemagtig en in staat te stel om meer volhoubaar te boer, meer uit hul wolskeersel te kry en om ekonomies te groei sodat hulle in die kommersiële mark kan meeding.

Dié boere word ook blootgestel aan die formele sektor deur by landbou-organisasies aan te sluit en sodoende toegang tot inligting oor die wolbedryf (pryse, tendense en markte) te verkry. “Ek dink wat ons tot dusver bereik het en die suksesse wat ons behaal het is ’n groot rede tot opgewondenheid, want ons kan hierdie projek verder uitbrei en op ander plekke dupliseer, en nog ’n groter impak maak,” sê hy. – Christal-Lize Muller, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak dr Jan Swanepoel by 078 457 7655 of swanepoeljw@ufs.ac.za, of Carien Denner-Vorster by 079 891 6145 of dennerc@ufs.ac.za, of besoek die Facebook-blad UFS WoolWise.

Must read

Goeie veldbestuur lewer klimaatslim resultate

Estimated reading time: 6 minutes Kyk jy na die weiding op Willie Storm se plaas Elliesrust naby Olifantshoek, wonder jy of hy dan nou meer reën as ander plase gekry het. Die geheim is...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 4 minutes Johan van den Berg is weer terug op sy pos met sy weeklikse weersake-gesprek met Lise Roberts op RSG Landbou. Soos ons nou winter betree, sit produsente in die...
Dr Andy Hentzen tydens die op-die-hoef-beoordeling.

Onderstepoort-voerkraaluitdaging vol verrassings

Estimated reading time: 4 minutes Die 2024 Onderstepoort-voerkraaluitdaging was soos altyd pretbelaai en vol verrassings. Dit was die 17de uitdaging van sy soort en die studente moes, soos verlede jaar, ’n skaapvoerkraal bestuur. Dr...

RSG Landbou: 23 Mei 2024 – geborg deur Nutrico

Dr Daniël van der Merwe het tydens Kemin en Zoëtis se voerkraalinligtingsdag gefokus op die belang van spysverteringsgesondheid op beeste se welstand. Ons hoor wat hy te sê gehad het. Die winsgewindheid van die boer...

Brand demper TWK-halfjaarresultate

Estimated reading time: 4 minutes TWK se halfjaarresultate vir die tydperk wat op 29 Februarie 2024 geëindig het, is ernstig deur ’n naburige brand geaffekteer. Die resultate, wat onlangs gepubliseer is, toon ’n daling van...