Tuesday, October 8, 2024

Onderstepoort-voerkraaluitdaging vol verrassings

Estimated reading time: 4 minutes

Die 2024 Onderstepoort-voerkraaluitdaging was soos altyd pretbelaai en vol verrassings. Dit was die 17de uitdaging van sy soort en die studente moes, soos verlede jaar, ’n skaapvoerkraal bestuur. Dr Andy Hentzen, ‘n bekende veearts in voerkraalkringe en senior lektor by die Universiteit van Pretoria se Fakulteit Veeartsenykunde, was die koördineerder van hierdie uitdaging.

Sr Reinette Ludike en Lana Botha, ’n veterinêre tegnoloog van die Onderstepoort-kampus, was dr Hentzen se assistente en mede-organiseerders.

Vanjaar se agt spanne en die spankoördineerders was: To Kill a Flockingherd (Marnus Zaaiman), Rassie Ewe-Rasmus (Danielle Ardnold), Ram-Page (Alika Steyn), The Lambshank Redemption (Michelle Fowler), Baabie (Adriaan Lotriet), Ram-Bo (Mia Esterhuyzen), Flockumentary (Casper Venter), en Rolling in the Sheep (Sydney Read).

Plaas Media, Zoetis, AFGRI Veevoere en Tal-Tec was vanjaar die borge wat die uitdaging ondersteun het.

Wat was vanjaar anders?

Volgens dr Hentzen was daar drie verskille tussen 2023 en 2024 se uitdagings. Eerstens is die skape wat hulle vanjaar in die voerkraal ingebring het, jonger as verlede jaar se skape en dit was ook ’n ander skaapras – vanjaar het die studente SA Vleismerino’s in hul voerkrale gehad.

Hulle het vanjaar ook langer (64 dae in totaal) in die voerkraal gevoer as in 2023.DrHentzen sê dit is meer uitdagend vir die studente om langer te voer.

Die laaste verskil was ’n bykomende kompetisie. Elke span moes ’n video-advertensie vir Zoetis-produkte maak. Die span wat hier geseëvier het, was Ram-Bo.

Lees meer oor die 2023 Agric Broiler-uitdaging hier.

Op-die-hoef-beoordeling

Jan de Jong van die Suid-Afrikaanse Vetveebeoordelaarsvereniging (Safja) is ‘n bekende skaap- en beesinterrasbeoordelaar. Hy het vir die studente ’n op-die-hoef-beoordelingskursus aangebied en terselfdertyd ’n op-die-hoef-beoordeling van die studente se skape gedoen.

Die wenners in hierdie afdeling van die uitdaging was:

  • Beste groep ooie: Rassie-Ewe-Rasmus.
  • Beste groep ramme: Ram-Page.
  • Kampioenooi: Rassie-Ewe-Rasmus.
  • Kampioenram: To Kill a Flockingherd.

Bepaling van die wenspan

Studente kry punte vir alles wat hulle tydens die uitdaging doen en word op grond van vyf kriteria getoets. Dit sluit produksieparameters, voeromset, persentasie gewig wat die skape aangesit het, winsgewendheid en finale voorleggings in. Die produksieparameters meet onder andere algemene bestuur, voerhantering, krip- en kraalbestuur.

Nog ’n afsonderlike toekenning wat gemaak is, was vir die finale voorlegging. Flockumentary het hierdie afdeling van die uitdaging gewen. Ram-Pagehet uiteindelik as die algehele wenners uit die stryd getree.

Maak ’n draai op Plaas Media se YouTube-kanaal, Plaas TV, en kyk na die video “Skaapstreke en sterk kompetisie by 2024 Onderstepoort-voerkraaluitdaging” om te sien wat al die spanne te sê gehad het oor vanjaar se uitdaging. Alika Steyn deel ook hul span, Ram-Page, se wenresep. – Deidré Louw, Plaas Media

Vir meer inligting, stuur ‘n epos aan deidre@plaasmedia.co.za.

Wees lief vir jou motor

Estimated reading time: 4 minutes “Waarom poets Mbali ons Stout se wiele blink?” vra Gert...

Boosting communal sheep production

Estimated reading time: 8 minutes The National Wool Growers’ Association (NWGA) has significantly increased wool...

Veldverbetering is ’n 100-jaar wedloop

Estimated reading time: 7 minutes Charl, 2024 se Veeplaas Klimaatslim-ambassadeur, sê dit is vir hom...

A healthy gut makes for a healthy pig

Estimated reading time: 5 minutes The diets of healthy pigs consist of a series of...