HomeAgri NewsGoeie veldbestuur lewer klimaatslim resultate

Goeie veldbestuur lewer klimaatslim resultate

Estimated reading time: 6 minutes

Kyk jy na die weiding op Willie Storm se plaas Elliesrust naby Olifantshoek, wonder jy of hy dan nou meer reën as ander plase gekry het. Die geheim is egter dat hy oor die laaste 16 jaar, sy veld met goeie veldbestuur verbeter het sodat die weiding nou geil staan. Die drakrag van sy plaas was aanvanklik 20ha/GVE (grootvee-eenheid) en veral in die vlaktekampe het die bosse so dig gestaan, dat hy beswaarlik sy beeste daar kon instuur.

Hy moes eers bosverdigting bestry, omdat dit die meeste water gebruik en die weiding kon nie gedy nie. Willie het sy begroting uitgewerk en met een kamp begin. Daarna het hy dit jaarliks deel van sy beplanning gemaak om ’n ekstra stukkie skoon te kry. Dit is ’n baie duur proses en hy en ’n kontrakteur uit die gemeenskap het gevolglik met ’n houtprojek begin en 900 000 sakkies braaihout uit die bome en bosse gemaak. Met hierdie inkomste kon Willie ’n groot deel van sy projek finansier.

Sy harde werk het dividende gelewer. Op dieselfde plaas waar hy met 20ha/GVE kon boer, het hy nou net 5ha/GVE nodig. Sy beestroppe, wat aanvanklik uit 30 tot 35 beeste bestaan het, moet hy nou verhoog na tussen 90 en 120 beeste per kamp. Die diere bly gewoonlik tot drie maande in ’n kamp voordat die weiding gebruik is.

Erosieslote word weiding

Selfs in droogtetye moes Willie ekstra beeste koop om sy weiding ten volle te benut. Selfs die erosieslote op sy plaas, wat plek-plek tot 1,8m diep was, het begin toegroei en is nou goeie weiding. Sy gronddamme raak nie meer vol van goeie reën nie – die plantegroei gebruik die water voordat dit kan wegvloei na die damme.

Op ander plekke op die plaas sien hy deesdae al hoe meer seldsame grasse en struike (baie goeie voeding vir die beeste) wat oral begin kop uitsteek, omdat dit nie meer deur indringerbosse en -bome bedreig word nie.

Willie glo daar is ’n volhoubare toekoms vir landbou in Suid-Afrika en moedig graag medeboere aan om ook suksesvol te boer. Daarom het hy onlangs ’n boeredag oor veldverbetering op sy plaas gehou. Hy het die sowat 200 boere deur sy plaas geneem en verduidelik hoe hy sy veld so ongelooflik verbeter het.

Die gasspreker op die dag, dr Louis du Pisani, is ‘n bekende en onafhanklike weidingkundige wat ook as mentor vir Willie opgetree het. Hy het gesê dit is een ding om ’n visie en droom te hê, maar iets anders om die moeilike tye te trotseer. Hy het Willie gebruik as ‘n voorbeeld van iemand met passie, insig, ’n toekomsvisie, aanpasbaarheid, doelgerigtheid en fokus, en veral deursettingsvermoë. 

Vier stappe tot verbetering

Dr Du Pisani sê daar is vier stappe verbonde aan veldverbetering:

  • Verwyder die plafon wat veroorsaak dat jy nie die plaas se drakrag kan verhoog nie. In Willie se geval was dit bosindringing.
  • Pas goeie veldbestuur toe en selekteer vir ’n koeikudde wat gemaklik sal wees in al die kampe op die plaas.
  • Pas radikale verbetering toe, soos om saad uit die veld te kry en erosie te bekamp.
  • Die belangrikste stap is om te besef dit is nie ’n eenmalige aksie nie. Volgehoue beheer van herindringing is noodsaaklik.

“Willie het niks buitengewoon gedoen nie. Hy het net die basiese dinge buitengewoon goed gedoen,” was dr Du Pisani se boodskap.

  • Hierdie gedeelte op Elliesrust het ’n paar jaar gelede nog toe gestaan onder haakdoring, maar met harde werk het hy sy veld só verbeter dat hy nou troppe bees van 90 tot 120 in hierdie kampe moet aanhou, waar hy voorheen troppe van 30 en 35 gehad het.

Urbanus Badenhorst van Lubern Voere, ook ‘n spreker by die dag, het gesê optimale aanvullingspraktyke begin met goeie weiveldbestuur. Klimaatsverandering is ’n gegewe en navorsing dui daarop dat as die CO2-vlakke in die atmosfeer en temperature dramaties styg, droë soetveldgrasvlaktes in woestyn, gemengde grasveld in haak-en-steek-ruigtes (verbossing), en klimaat-klimaksgrasvlaktes in droë grasveld verander. So raak byvoeding nodig en die veld se drakrag raak al hoe minder. Veld se voedingswaarde is ’n resultaat van voedingstofinhoud, verteerbaarheid en die vrywillige droëmateriaal (DM)-inname vanaf die veld. By herkouers is die inname van laegraadse weiding minder, word die groei en aktiwiteit van rumenmikrobes vertraag, en daarmee saam ook die vertering van die voer. Daarom moet proteïen- en mineraalaanvullings en genoegsame energiebronne hierdie proses verbeter en versnel.

Sorg vir genoeg ruvoer

Badenhorst sê ’n goeie leksamestelling vul mineraal- en spoormineraaltekorte op só ’n manier aan, dat die vrywillige inname van die lek gekorreleer is met die voedingswaarde en hoeveelheid veld tot die dier se beskikking, wat dan die dier se produksiepotensiaal ekonomies ontsluit.

Carina le Roux, ’n voedingkundige van Feedtek, het beklemtoon dat lek saamgestel word sodat dit die voedingstofbehoefte waaraan die weiding nie voldoen nie, aanvul om weidingsinname te stimuleer eerder as om dit te vervang. Daarom moet daar altyd voldoende ruvoer (veld/weiding) wees.

Sy het ’n paar praktiese beginsels ten opsigte van lekaanvulling bespreek. Sy raai produsente aan om te begin met ‘n sout/fosfaatlek vir sewe tot 14 dae voordat die winterlekke gegee word, veral waar diere lanklaas lek gekry het. Dit sal verseker dat enige sout- en/of fosfaathonger bevredig word, wat andersins kan lei tot oorvreet en hoër lekinnames. Dit sal diere ook gewoond maak aan iets in hul bakke. Vermy ook om winterlekke met ’n hoë ureuminhoud vir honger diere te gee.

Genoeg vreetspasie by lekbakke is net so belangrik omdat dit oorvreet voorkom. Haar belangrikste wenk is om eerder te vroeg as te laat te begin met lekke, en dat die lek in pas moet wees met die produksiestadium van die dier en die veldsituasie. “Hou jou diere dop. Hul lekinnames, mis en kondisie is die beste aanduiding van hul aanvullingsbehoeftes.”

Basiese beginsels van veldbestuur

Dr Josef van Wyngaardt van Voermol Voere het veral klem gelê op ‘n holistiese benadering tot beesvoeding. Vir hom is dit belangrik dat produsente vir ’n slag teruggaan na die basiese beginsels van veldbestuur, kuddegesondheid en lekbestuur. “Dan kan jy in meer detail kyk watter voeding die diere vanaf die weiding kry en in watter produksiestadium hulle verkeer. Met hierdie inligting kan jy ’n strategiese voedingsplan opstel.”

Dr Van Wyngaardt glo ’n mens is eers ’n grondboer, dan ’n veldboer en daarna ’n veeboer. “As jy die holistiese benadering reg aanpak, begin jy by die fondasie van die weiding en die res sal makliker volg. Deur seker te maak watter tekorte daar in die weiding is en slegs die nodige aanvullings te doen, sal jou begroting uiteindelik beter klop.”

  • Danie Visser en Willem Zwiegers van Aranos in Namibië en Goley Storm van Olifantshoek was van die 200 boere wat die geleentheid meegemaak het.

Sy raad aan produsente is om ingeligte besluite te neem. Om dit te doen, is dit wenslik om veldmonsters te laat neem om die veldgehalte te bepaal. Dit gee ’n aanduiding van watter lek gegee moet word. “Dalk het jy nie eens lek nodig nie.” Hierdie toetse bied ook ’n aanduiding van watter diere in watter kamp gesit moet word sonder dat weiding vermors word.

Die uiteindelike boodskap van al die sprekers was om eerstens te sorg dat weidings optimaal is, sodat oorbodige aanvullings onnodig is. Produsente moet eers seker maak wat die veld hul diere bied voordat ‘n program vir aanvullende voeding beplan word. – Koos du Pisanie, Plaas Media

Vir meer inligting, skakel Willie Storm by 083 654 5460.

Must Read

Lloyd Short: Optimale ontwikkeling is die sleutel tot sukses

Estimated reading time: 6 minutes Veeplaas het, tydens ‘n onlangse besoek aan die area, by Borden Angoras se plaashek ingedraai. Hier woon en werk...