HomeAgri NewsBrand demper TWK-halfjaarresultate

Brand demper TWK-halfjaarresultate

Estimated reading time: 4 minutes

TWK se halfjaarresultate vir die tydperk wat op 29 Februarie 2024 geëindig het, is ernstig deur ’n naburige brand geaffekteer.

Die resultate, wat onlangs gepubliseer is, toon ’n daling van 13,7% in die gediversifiseerde landbou en bosboumaatskappy se omset tot op R4,2 miljard. Die inkomste voor aftrekkings het met 27,6% gedaal tot R285 miljoen, terwyl die verdienste per aandeel met 10,1% gedaal het tot 351,7 sent. Tog het die maatskappy se batewaarde per aandeel met 6,5% gestyg tot R58,26.

“Resultate is negatief beïnvloed deur eksterne faktore wat buite TWK se direkte beheer was,” sê André Myburgh, uitvoerende hoof van die TWK-groep. “Die houtsegment van ons besigheid se houtspaandervoorraad (wood chips) is ernstig deur ’n brand op ’n buurman se grond beskadig en kon gevolglik vir die meerderheid van die verslagtydperk geen inkomste genereer nie. Ons kunsmis-, graan en finansiële dienste-segmente het egter ’n positiewe bydrae tot die resultate gelewer.”

Lees meer oor TWK hier.

Brandskade

Die brand het verlede September/Oktober vir bykans twee weke by die NCT-houtmeule, wat langs TWK se houtspaanderfasiliteit geleë is, gewoed. Alhoewel TWK se houtspaanders nie direk deur die brand geraak is nie, is die gehalte daarvan beskadig omdat die voorraad met brandbestrydingstoerusting behandel moes word.

Die totale impak van die brand op die TWK-besigheid word op sowat R255 miljoen beraam, terwyl die versekering ingestem het om ongeveer R160 miljoen se skade te dek. “Om finansiële skade verder tot ‘n minimum te beperk het TWK se houtafdeling ’n groot gedeelte van die beskadigde houtspaanders teen ‘n verlaagde prys aan die biobrandstofvervaardigers verkoop binne ’n uiters mededingende markomgewing,” sê Myburgh.

Leer hoe om veldbrande te bekamp hier.

Kleinhandel en meganisasie

Wat die kleinhandel en meganisasie afdeling betref, het verkope met 11,45% tot R2,29 miljard gedaal. “Hierdie daling stem ooreen met die finansiële druk wat die meerderheid produsente en verbruikers beleef in die areas waarbinne TWK funksioneer. Almal sukkel met moeilike finansiële omstandighede, soos verhoogde rentekoerse, stygende brandstofpryse en ’n onsekere politiese omgewing weens die verkiesing wat om die draai is. Produsente en verbruikers beperk hul aankope tot die noodsaaklike items om hul kontantvloei te beskerm.”

Nietemin het die Constantia Kunsmis-arm van hierdie segment daartoe bygedra tot ‘n byna 30% toename in inkomste voor aftrekkings tot R61,53 miljoen (Februarie 2023: R47,44 miljoen). Myburgh sê: “Hierdie verbetering is te danke aan Constantia Kunsmis se winsmarge en goeie kostebestuur.”

Finansiële dienste

Die finansiële dienste segment se omset het met 1,48% tot R 128,89 miljoen (Feb 2023: R127 miljoen) gestyg en die inkomste voor aftrekkings het met 4,75% tot R63,61 miljoen gestyg (Feb 2023: R60,27 miljoen).

“Ten spyte van ’n taai makro-ekonomiese omgewing, kon TWK selfs daarin slaag om heelwat nuwe kliënte te werf,” sê Myburgh. Ongelukkig is hierdie voordeel geneutraliseer as gevolg van die feit dat minder hektare geplante grond en plantasies verseker is.”

Verder het die produksiekredietboek gekrimp met 12,8% oor die periode. Die skuldboek het op R798,8 miljoen gepiek (piek vir die 2023 finansiële jaar was R916,7 miljoen). Die netto krediet-inkomste het egter met 6,86% gestyg as gevolg van hoër rentekoerse op oorbrugingsgeriewe as gevolg van laat betalings.  

Graanbedrywighede

Die omset van die graanafdeling en voorbelaste inkomste vir die periode het met onderskeidelik 21,32% tot R814,88 miljoen (Feb 2023: R671,71 miljoen) en 108,53% tot R23,54 miljoen (Feb 2023: R11,29 miljoen) toegeneem. “Hierdie verbeterings kan toegeskryf word aan goeie prestasie van die graan bemarkingsbesigheid en die styging in mielie- en veevoerpryse,” sê Myburgh. “Die gemiddelde mielie- en sojaboonpryse het deurgaans hoog gebly tydens die verslagperiode as gevolg van ’n verswakte wisselkoers.”

Toekomsvisie

Myburgh sê TWK se finansiële posisie bly stabiel en die maatskappy se totale batewaarde het met 4,4% toegeneem tot R6,9 miljard.

 “Ons verwag beter resultate tydens die tweede helfte van hierdie boekjaar. TWK is vol vertroue in ons strategie en is vasberade om oor die langtermyn waarde vir al ons belanghebbers te skep.” – Susan Marais, Plaas Media

Must Read

Lloyd Short: Optimale ontwikkeling is die sleutel tot sukses

Estimated reading time: 6 minutes Veeplaas het, tydens ‘n onlangse besoek aan die area, by Borden Angoras se plaashek ingedraai. Hier woon en werk...