Wednesday, August 10, 2022
HomeMagazinesVeldbrande: Bly uit die spervuur met goeie risikobestuur

Veldbrande: Bly uit die spervuur met goeie risikobestuur

Estimated reading time: 6 minutes

Vanjaar het dit oral in Suid-Afrika goed gereën en die gras in die veld staan hoog. Selfs waar daar nie gereeld veldbrande voorkom nie, is produsente bekommerd oor moontlike brande wat kan ontstaan. Baie mense glo egter dit is nie juis ’n probleem nie en dit lyk dalk eenvoudig om ’n vuur te blus, maar ’n wegholveldbrand is niemand se speelmaat nie.

Veldbrande en bosbrande: Samewerking vir bekamping

Johann Breytenbach, bestuurder van die Vrystaatse Sambreel-brandbestrydingsvereniging en aanbieder van brandbestrydingskursusse, sê die publiek is nie altyd bewus van die risiko’s wat ’n veldbrand inhou nie. Daarom gebeur dit soms dat veldbrande hande uitruk en duisende hektare verwoes, omdat die saak verkeerd aangepak is.

Korrekte bestuur

Daar is baie risiko’s verbonde aan ’n veldbrand wat verminder kan word met die korrekte bestuur. Volgens hom is daar vyf prioriteite wat aandag moet geniet as jy ’n veldbrand aanpak, en om die vlamme dood te spuit is eintlik laaste op dié lys.

Die eerste is om jou eie veiligheid te verseker, anders raak jy in die proses ook ’n risiko. Die tweede prioriteit is die beskerming van mense en diere, daarna die beskerming van vaste eiendom, daarna om die veldbrand se verspreiding te beperk deur dit binne vasgestelde grense te hou, en die laaste is om die vlamme te spuit en blus.

Met goeie voorkomingsmaatreëls en kennis van veldbrandbeheer, kan jy die risiko’s verminder. “Die beste voorsorgmaatreëls is om brandpaaie te skep, seker te maak dat jy die regte toerusting het om die veldvuur te pak en die mense op jou plaas op te lei om die werk te doen,” sê hy.

Kyk na jou eie veiligheid

Johann verduidelik dat die eienaar van die grond of die grondgebruiker ’n verantwoordelikheid het om eerstens te sorg dat hy veilig en in staat is om die vuur te bestry. Dit kan ’n groot risiko wees as die eienaar, wat die plaas ken, buite aksie raak.

Volgens hom het elke vuur ’n bepaalde anatomie en patroon wat gevolg word, maar as dit op spoed is, moet daar iemand wees wat die opdragte kan gee en die insidentbestuur oorneem. Die eienaar van die plaas ken sy omgewing en is gewoonlik die beste persoon vir hierdie taak. Daarom is dit ’n risiko as die eienaar self te moeg en uitgeput raak om die veldbrand te help blus.

Hy sê dit is ook elke grondeienaar se plig om toe te sien dat die toerusting wat gebruik moet word beskikbaar is, en dat sy werkers die regte kleredrag moet dra ten einde hulle sover as moontlik te beskerm.

Beskerm mense en diere

Die tweede prioriteit is om seker te maak jy beskerm die mense en diere wat deur die vuur geraak word. Vir enige plaaseienaar hou ’n veldbrand ’n groot skadegevaar in, omdat die diere op die plaas sy inkomste is én hy verantwoordelik is vir die mense wat by die brandbestryding betrek word.

Ten opsigte van die beskerming van diere, moet beskermingsmaatreëls vooraf in plek gestel word. Die belangrikste hiervan is om brandpaaie te maak.

“Vee het die manier om te staan en toekyk hoe die vlamme nader aan hulle kom, omdat hulle nie weet watter kant toe hulle moet beweeg nie. As daar brandpaaie is, kan hulle makliker in die pad aangejaag word. Nog ’n voorstel om dié risiko te bestuur, is om die voer- en drinkplekke van die diere in veilige areas te omskep, deur brandbare materiaal om die area te verminder met ’n bossiekapper.”

Aan die mense wat by die brandbestryding betrokke is, bied sulke areas en brandpaaie ook skuiling en ’n ankerplek vanwaar hulle kan werk.

“Dit is verder belangrik om te onthou dat jy verskillende soorte brandmateriaal kry. In krale kan die mis van diere ’n baie gunstige brandmateriaal wees. Hoewel dit nie hoë vlamme maak nie, kan dit vir ’n lang tyd smeul.”  

Beskerm vaste eiendom

Johann sê vaste eiendom soos skure en huise kan maklik aan die brand slaan indien daar droë gras en ander materiaal rondom die strukture is wat maklik kan vlamvat. Sy raad is om altyd toe te sien dat dit skoon is om ’n gebou. “Sny die gras en maak skoon rondom geboue om die risiko van verlies aan eiendom tot die minimum te beperk,” sê hy.

Maak vroegtydig brandpaaie

Brandpaaie is van die beste grense wat jy kan trek om die plaas in blokke te deel. Dit kan dien as ’n beheerde lyn vanwaar jy voorbrande kan maak, en verskaf ook toegang en ontsnappingsroetes vir brandbestryders en diere.

Johann verduidelik dat daar verskillende faktore is wat by die beplanning van brandpaaie oorweeg kan word. “Op elke plaas is daar verskeie hindernisse wat aangewend kan word. ’n Geploegde land, ’n dam, rotse of reeds-bestaande paaie is alles voorbeelde van wat gebruik kan word in die uitleg van brandpaaie. Deel jou plaas in blokke op, sodat wanneer ’n brand iewers ontstaan, dit net tot by ’n bepaalde plek sal brand waar dit bestry kan word. Dit is beter om 100ha as ’n paar duisend hektaar weidings te verloor.”

Die gebruik van voorbrande is baie nuttig vir die bestryding van veldbrande. ’n Veldbrand kan daardeur beperk word sodat slegs die kleinste moontlike stukkie weiding vernietig hoef te word. (Foto: Kestia Breytenbach)

Hy verduidelik verder dat elke gebied se brandpaaie anders lyk. Dit hang af van die hoeveelheid en soort brandmateriaal wat in die omgewing voorkom. Volgens hom moet ’n brandpad minstens drie maal so breed wees as wat die hoogte van die gras of bossies langs die pad is. In gebiede waar die brandmateriaal dig en hoog groei, moet ’n brandbaan vyf tot ses keer breër wees.

In gebiede met ’n lae plantegroei of kort gras en bossies, behoort ’n brandpad van drie meter breed voldoende te wees. “In laasgenoemde gevalle kan jy bestaande grondpaaie gebruik. Maak net seker die middelman van die pad is skoon, sodat vlamme nie van die een kant na die ander kan oorspring nie,” sê hy.

Dit is natuurlik ook baie belangrik om die topografie van die plaas te bestudeer, voeg hy by. “Vermy skerp draaie, styl opdraandes, klowe en areas met hoë-impak brandmateriaal as jy brandpaaie beplan. Gebruik die hindernisse wat beskikbaar is. Sien die brandpad altyd as ’n toegang tot die brand, ’n ankerplek vanwaar jy die brand kan beheer, en as ’n ontsnappingsroete, sodat jy nie in die vlamme vasgekeer word nie.”

Spuit van vlamme

Met goeie beplanning sal jy die veldbrand op jou plaas tot ’n groot mate onder beheer kan bring. Johann noem dat dit baie help om die anatomie van ’n brand te verstaan en ook te weet wat die geaardheid van die brand gaan wees voordat jy hom aanpak.

“Die anatomie van ’n veldbrand word altyd deur drie elemente gevoed. Dit is wind, temperatuur en vogtigheid. Om risiko’s te verminder is dit noodsaaklik om altyd bewus te wees van die omgewing rondom jou. Moet byvoorbeeld nie op ’n winderige dag enige take in die veld aanpak wat ’n vuur kan veroorsaak nie.”

Hy beklemtoon verder dat daar net een ‘bevelvoerder’ moet wees wanneer die brand bestry word. Hierdie persoon moet op ’n plek staan waar hy die vuur vanuit ’n posisie kan bekyk om die groter prentjie te sien, terwyl hy die vuurslaners leiding gee en die spuit van vlamme koördineer. Goeie kommunikasie tussen die vuurslaners, die persoon in beheer en alle ander betrokke partye is onontbeerlik. – Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Johann Breytenbach by 074 467 4450.

Must Read

General feedlot management

Estimated reading time: 5 minutes Management is imperative in any enterprise, including the feedlot industry. With a small profit margin, it is important to...