Wednesday, September 11, 2024

Wes-Kaap se Jongboer van die Jaar: “Daar is plek vir ons kleinboere”

Estimated reading time: 5 minutes

Dean Barnard (40) van Oppie Plaas-boerdery in die Waboomskraal-area naby George, is as 2024 se Agri Wes-Kaap en Santam se Jongboer van die Jaar aangewys. Hy is al 19 jaar by die boerdery betrokke en boer met hops, pruime, amandels en pekanneute.

Nadat hy die toekenning ontvang het, het hy gesê hy het altyd gedink hy is te klein. “My boerdery is net 45ha. Nou gaan my visie vir die volgende jaar wees om vir die kleinboer te sê daar is plek vir ons klein outjies in die landbou. Maak nie saak hoe groot jy is nie, jy moet vorentoe gaan,” het Barnard gesê.



Hy glo dit is ’n roeping om te boer. “Die Here kies jou om te boer,” sê Barnard. Dit is ook vir hom baie spesiaal dat sy gesin en ouers by die boerdery betrokke is.

Hy het agt jaar gelede die boerdery by sy pa oorgeneem. Sedertdien is nuwe, doeltreffender besproeiingstegnologie wat waterbesparing meebring, sowel as nuwe pruim- en amandelaanplantings en hops-uitbreidings op huurgrond die vernaamste veranderinge wat hy in die boerdery teweeggebring het.

Een van beste hopsboere

Oppie Plaas-boerdery is een van net sewe hopsboere in Afrika. “Ons boerdery is die afgelope 15 jaar onder die top drie hopsprodusente in Suid-Afrika. Daarby het ons Autumn Treat-pruime in 2023 ’n oes van net onder 100t/ha gelewer en ek glo een van die pruime wat op die plaas geproduseer is, gaan die Guinness World of Records haal. My pruim weeg 486, terwyl die rekord tans 354,37g is,” het Barnard gesê.

Volgens hom bied elke jaar nuwe uitdagings. Met die beperkte hoeveelheid grond tot sy beskikking, moet hy intensief boer en elke besluit laat geld. “My langtermyn-visie vir ons boerdery is om die pruim-aanplantings uit te brei na tussen 15ha en 20ha en ’n pakstoor op die plaas op te rig waar ons eie vrugte, sowel as dié van ander boere in die gemeenskap, verpak kan word,” het hy gesê.

Kompetisie is ’n maatstaf vir elke boer

Die gala-geleentheid waar Barnard as die Agri Wes-Kaap en Santam se Jongboer van die Jaar aangewys is, het by Ashanti Estate naby die Paarl plaasgevind. Hy sal later vanjaar as die Wes-Kaapse kandidaat aan die Nasionale Jongboer van die Jaar-kompetisie deelneem.

Inus Oosthuizen, sameroeper van die beoordelingskomitee, het gesê elke kandidaat wat vir die kompetisie inskryf, het ’n ongelooflike storie en is ’n voorbeeld en inspirasie vir elke boer in Suid-Afrika. Die kompetisie gee almal kans om te wen. “Maak nie saak hoe groot jy boer nie, jy kan wen,” het Oosthuizen gesê.

Niel Bruwer, voorsitter van Agri Wes-Kaap se Jongboerkomitee, het in sy verwelkoming gesê die Jongboerkompetisie dien vir elke jong boer wat deelneem as ’n maatstaf waarteen hy homself kan meet.

Versekering deel van volhoubaarheid

Emile Pretorius, besigheidsbestuurder: Santam Landbou, het gesê Santam se sukses in die landbou is gebou op sy verhouding met georganiseerde landbou. Boere moet versekering as deel van die volhoubaarheid van hul boerderye beskou. Santam het twee jaar gelede in ’n enkele jaar eise van R29,8 miljard herskryf. “Ek kan nie glo dat daar nog boere is wat nie in versekering glo nie,” het hy gesê.

Annalie Lerm, distrikbestuurder: verkope en naverkope, Toyota SA, die hoofborg van die Nasionale Jongboer van die Jaar-kompetisie, het gesê die Jongboer van die Jaar-kompetisie bied die geleentheid om jongboere te vereer vir hul harde werk, deursettingsvermoë en bydrae tot die ekonomie. Sy het al die boere se vroue vereer en bedank vir die rol wat hulle in boerderye vervul. “Ons boervroue is boere se ondersteuningsnetwerk en dra so by tot boere se suksesse deur moeilike en goeie tye,” het Lerm gesê.

Christi van den Heever, 2023 se Agri Wes-Kaap en Santam se Jongboer van die Jaar, het gesê die verhouding wat hy verlede jaar met ander kandidate gebou het en die boerdery-planne wat onder mekaar uitgeruil is, is van onskatbare waarde. Daar is nie ’n perfekte boerdery nie, daar is altyd plek vir verbetering.

“Die kompetisie bied kans om te groei, verhoudings te bou, planne te maak en ander jongboere te motiveer om aan te hou en in landbou te belê. Dit is wat ons land dryf,” het Van den Heever gesê. – Hugo Lochner, Plaas Media

Die Sybokhaarbemagtigingstrust: Ekonomiese vordering deur inklusiwiteit en diversiteit

Estimated reading time: 5 minutes Die Sybokhaarbemagtigingstrust funksioneer onder die sambreel van Sybokhaar Suid-Afrika en...

Cover crop mixes: Composition and species for summer

Estimated reading time: 7 minutes Soil health is a key objective when designing a cover...

Prickly pears as a grazing crop

Estimated reading time: 8 minutes The first prickly pears arrived in South Africa shortly after...

’n Belegging in prestasietoetsing verseker volhoubare kuddeverbetering

Estimated reading time: 4 minutes Diere se prestasie word bepaal deur hul genetiese samestelling sowel...