Kan ’n plaaseienaar uitsettingsverrigtinge van stapel stuur alvorens ’n arbeidsgeskil afgehandel is? Die kort antwoord op hierdie vraag is nee.
’n Hof kan ’n uitsettingsbevel in terme van die Wet op Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg, 1997 (Wet 62 van 1997), oftewel die ESTA-wet, verleen indien:
- ’n Plaasbewoner se verblyfreg regsgeldig beëindig is.
- Die plaasbewoner weier of versuim om die plaas te ontruim na die beëindiging van sy/haar verblyfreg.
- Daar aan die voorwaardes van ’n uitsettingsbevel voldoen is.
- Die grondeienaar of persoon in beheer die okkupeerder, die plaaslike munisipaliteit en die provinsiale kantoor van die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming twee kalendermaande kennis van sy/haar voorneme om ’n uitsettingsbevel te verkry, gegee het.
Die proses van uitsetting
Die beëindiging van ’n plaasbewoner se regte op die plaas is dus die eerste stap in die voorgeskrewe proses wat volg. Hierdie artikel handel slegs oor die geval waar ’n plaasbewoner se verblyfreg uit ’n diensooreenkoms voortspruit en waar ’n grondeienaar uitsettingsverrigtinge teen so ‘n ontslane plaasbewoner loods.
Meganisasie en arbeidsbesparing op ’n skaapplaas
In hierdie verband is dit belangrik om die bepalings van artikel 8(2) en (3) van die ESTA-wet te ontleed:
- Artikel 8(2): “Indien ’n okkupeerder ’n werknemer is wie se verblyfreg slegs uit ’n diensooreenkoms voortspruit, kan die verblyfreg beëindig word indien die okkupeerder uit die diens bedank of ooreenkomstig die bepalings van die Wet op Arbeidsverhoudinge ontslaan word.”
- Artikel 8(3): “ ’n Dispuut oor die vraag of ’n okkupeerder se diens beëindig is soos in subartikel (2) beoog, word ooreenkomstig die bepalings van die Wet op Arbeidsverhoudinge hanteer, en die beëindiging tree in werking wanneer ’n dispuut oor die beëindiging in ooreenstemming met daardie Wet besleg is.”
Artikel 191(1)(b)(i) van die Wet op Arbeidsverhoudinge, 1995 (Wet 66 van 1995),oftewel die WAV, bepaal dat ’n gegriefde werknemer ’n dispuut rakende ’n onbillike ontslag binne 30 dae ná diensbeëindiging na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA), of ’n bedingingsraad met die nodige jurisdiksie, kan verwys.
Artikel 190(1) van die WAV beskryf die datum van ontslag as die datum waarop die diensooreenkoms beëindig is, of die datum waarop die werknemer die diens van die werkgewer verlaat het, welke een ook al die vroegste is.
Beëindiging van verblyfreg
Indien ’n plaasbewoner ontslaan is en die billikheid van die ontslag wil beveg, is dit, volgens die bepalings van artikel 8(2), uiters belangrik om te onthou dat ’n arbeidsgeskil afgehandel moet wees voordat die plaasbewoner se verblyfreg op die plaas in terme van die ESTA-wet beëindig word.
Met ander woorde, indien die plaasbewoner wie se verblyfreg uit hoofde van ’n diensooreenkoms voortspruit sy of haar ontslag betwis, moet die dispuut rakende die billikheid van ontslag eers finaal bereg word, voordat die grondeienaar of persoon in beheer die okkupeerder se verblyfreg mag beëindig.
Die gevolg is dat die eienaar of persoon in beheer verplig sal wees om huisvesting aan die ontslane werknemer te verskaf tot tyd en wyl die geskil rakende die geldigheid van die betrokke ontslag afgehandel is.
Gevolglik maak die ESTA-wet nie voorsiening vir die beëindiging van ’n plaasbewoner se verblyfreg terwyl die arbeidsdispuut onopgelos is nie. Indien ’n eienaar sou poog om regte te beëindig alvorens die dispuut opgelos is, sal hy of sy die risiko loop dat alle stappe in die uitsettingsverrigtinge ongedaan gemaak kan word.
Betwisting van ontslag
Wat artikel 8(3) aanbetref, het die Grondeisehof nie die regsbevoegdheid om te beslis of die beëindiging van die plaasbewoner se diensverhouding in ooreenstemming met die WAV was nie. Indien ’n plaasbewoner die regmatigheid van sy ontslag wil aanveg, sal hy/sy die diensbeëindiging ooreenkomstig die prosedures soos deur die WAV voorgeskryf, moet aanveg.
Dit is egter belangrik om te onthou dat indien ’n plaasbewoner nie betyds die nodige stappe neem om sy ontslag te betwis nie, die hof sal aanvaar dat die ontslag billik was.
Wanneer ’n okkupeerder dus ontslaan is (of selfs bedank het), sal ’n eienaar of die persoon in beheer gevolglik moet wag totdat die tydperk in terme van artikel 191(1)(b)(i) van die WAV verstryk het, vóór die okkupeerder se verblyfreg in terme van die ESTA-wet beëindig word, sodat dat daar nie ’n geskil hangende is wanneer uitsettingsverrigtinge geloods word nie.
Is daar ‘n alternatief vir wrede uitsettings?
Sodra die 30 dae (ná die datum van ontslag) verstryk het, en met die veronderstelling dat die ontslane werknemer nie die dispuut verwys en kondonasie vir die nievoldoening aan die voorgeskrewe tydsraamwerk vra nie, kan daar voortgegaan word met die beëindiging van verblyfreg en verdere stappe in terme van die ESTA-wet. – Clarissa Pienaar, Moolman & Pienaar Ingelyf
Vir meer inligting, kontak Clarissa Pienaar by 018 297 8799 of stuur ’n epos aan clarissap@mmlaw.co.za of hj@mmlaw.co.za.