Boerperd: Trots Suid-Afrikaans met geen gelyke

Estimated reading time: 7 minutes

  • Die SA Boerperd het ‘n lang, roemryke geskiedenis wat verweef is met die van Suid-Afrika.
  • In 1973 is die Boerperdgenootskap van SA op Memel in die Oos-Vrystaat gestig. ’n Grondwet is geskryf en ’n rasstandaard is saamgestel.
  • In 1996 het die registrateur van veeverbetering aan die Historiese Boerperd die status van ’n ten volle erkende en inheemse ras toegeken.
  • Die ras se veelsydigheid en uitstaande temperament maak die ras uniek en baie gewild.
  • Die SA Boerperdgenootskap gebruik die afgelope drie dekades ’n inspeksiestelsel om die hoë rasstandaard te handhaaf.

Die SA Boerperd het ’n lang, roemryke geskiedenis wat verweef is met dié van Suid-Afrika. Die ontstaan van hierdie ras kan teruggeneem word na kort ná die aankoms van Jan van Riebeeck in Tafelbaai in 1652 en die vestiging van ’n halfwegstasie om skepe van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie te bedien.

As gevolg van perdesiekte het geen perde natuurlik suid van die Sahara voorgekom nie, en dus het die eerste perde saam met Jan van Riebeeck in die Kaap aangekom. Uit die Javaanse ponie, volbloedperde, Friesperde en selfs ’n paar Andalusiese perde het die Boerperd mettertyd ontwikkel tot die unieke ras wat dit vandag is.

Met die Boere-oorlog van 1899 tot 1902 het die Boerperd baie roem verwerf en as ras of tipe bekend geword. In 1973 is die Boerperdgenootskap van SA op Memel in die Oos-Vrystaat gestig. ’n Grondwet is geskryf en ’n rasstandaard is saamgestel. Perde wat genotipies en fenotipies geskik is vir teling, is geïdentifiseer en ’n baie streng seleksiebeleid is aanvaar.

In 1977 is die naam verander na die Historiese Boerperd-telersgenootskap en in 1980 is die ras amptelik deur die Departement van Landbou erken. Daarna is die ras by die Suid-Afrikaanse Stamboek- en Veeverbeteringsvereniging (SA Stamboek) geaffilieer. In 1996 het die registrateur van veeverbetering aan die Historiese Boerperd die status van ’n ten volle erkende en inheemse ras toegeken. In 1998 is die naam na SA Boerperd verander, en vandag is dit een van die eg Suid-Afrikaanse perderasse. Die SA Boerperdgenootskap vier in 2023 sy 50ste verjaarsdag.

Lees meer oor Afrika-perdesiekte en hoe om dit te bekamp.

Uniek Suid-Afrikaans

“Die SA Boerperd is die enigste suiwer inheemse perderas in Suid Afrika,” meen Michiel Burger, president van die SA Boerperdgenootskap. Sy konstitusie en goeie hoewe is aangepas vir ons land se omstandighede en maak hom baie ekonomies om aan te hou. Die ras se veelsydigheid en uitstaande temperament maak hom uniek en baie gewild.

Die Boerperd is veral bekend vir sy uitstekende temperament, wat beteken dat ’n sterk vertrouensverhouding tussen ruiter en perd baie maklik ontstaan. Die perde is kalm, ambisieus, wakker, intelligent en gewillig om te dien. Daar word sterk vir hierdie eienskappe geselekteer as telers hul teeldiere identifiseer.

Volgens Michiel Burger is die Boerperd beslis nie meer die plaasperd van 50 jaar gelede nie. Die ras word in die universele en tradisionele afdelings gedeel om by die moderne vereistes vir die gebruik van perde aan te pas.

Die universele afdeling het ’n laer knie-aksie as die tradisionele afdeling, en word geselekteer vir die sportwêreld, terwyl die tradisionele afdeling die vyfgang en dryfklasse in die oog het. “Tog word by nie een van die afdelings die unieke eienskappe van die ras verwaarloos nie,” sê Michiel.

Kyk saam na hoe ‘n veeperd sy werk doen.

Streng fokus op seleksie en teling

’n Boerperdvul waarvan die geregistreerde ouers deur DNS bevestig is, kan vanaf ouderdom twee jaar vir keuring gebring word deur die eienaar. Die paneel keurders bepaal dan of die vul aan die minimum-rasstandaard voldoen, waarna die aanvaarbare vullens die Boerperd-brandmerk op hul regterboud kry. Eers dan is die perd ’n geregistreerde SA Boerperd. Alle perde wat goedgekeur en vir teling gebruik word, se DNS-profiele word by Unistel in Stellenbosch gehou.

SA Boerperd het ‘n geslote stamboek. “Die ras het uit ses onverwante bloedlyne ontstaan, wat ons genepoel baie groot gemaak het. Tans word elke perd se intelingspersentasie uitgewerk en op Logix vertoon. Met SA Stamboek se hulp word die inteling fyn dop gehou en bestuur,” sê Michiel.

Die SA Boerperdgenootskap gebruik die afgelope drie dekades ’n inspeksiestelsel om die hoë rasstandaard te handhaaf. By die geboorte van ’n vul van geregistreerde ouers, word sy data aangeteken. Wanneer die ouderdom van 12 maande bereik word, moet elke vul vir identifikasiedoeleindes op die boonste tandvleis getatoeëer word met ’n unieke nommer wat aan die teler toegeken word.

Om as SA Boerperd te kwalifiseer, moet hingste minstens 75%, merries 70% en reuns 65% van die rasstandaard behaal. Nadat aan die standaardvereistes voldoen is, mag die perd aan die regterkantste boud gebrandmerk word met die Boerperd-merk. Dit is eers in hierdie stadium dat die perd in werklikheid as ’n geregistreerde SA Boerperd beskou word. Ná DNS-verifikasie word ’n registrasiesertifikaat deur SA Stamboek uitgereik.

Lees meer oor hoe perde op ‘n Karoo-plaas ingespan word.

Kyk na dié eienskappe

Baie streng rasstandaarde sluit onder andere die volgende in:

  • Algemene voorkoms: Goeie vel- en haargehalte.
  • Kop: Die vooraansig moet plat wees met ’n breë voorkop tussen prominente oë. Die ore moet medium lengte, skerppuntig en redelik naby mekaar wees. Die profiel moet reguit of effens konkaaf wees met ’n diep, goed gedefinieerde kakebeen. Wange moet goed gespierd wees, maar nie vlesig nie.
  • Nek: ’n Goed gevormde nek van gemiddelde lengte.
  • Skouer: ’n Goeie skuins skouer met ’n prominente skof.
  • Buik en flanke: Breed en goed bespierd, sterk met goed ontwikkelde lende. ’n Goed ontwikkelde ribbekas met kapasiteit.
  • Agterkwart: Goed gespierd, lank en sterk tot by die bobeen. Moet breed en afgerond van agter af lyk.
  • Bene: Sterk, droë en goed bespierde bene met harde hoewe.
  • Beweging: Matig hoë, lang gang wat grond dek.
  • Tipe: Simmetriese bouvorm, gebalanseerd, wakker en adellik in voorkoms.
  • Temperament: Kalm, ambisieus, betroubaar en wakker. Gewillig om sy ruiter te dien.

’n Maksimum van 100 punte word vir elke eienskap toegeken. As ’n perd enige kategorie druip, sal dit nie geregistreer word nie. As verwag word dat die betrokke perd in ’n laat stadium aan die minimum standaard kan voldoen, wanneer die dier volwassenheid bereik het, kan dit weer op ’n latere datum geïnspekteer word. Ter wille van eenvormigheid binne die ras word spesiale aandag gegee aan die tipe om te voldoen aan die standaard wat neergelê word.

Lees ‘n Engelse artikel oor perdegenetika.

“Die ras het in die afgelope 50 jaar ontwikkel van ’n onbekende plaasperd tot ’n gesogte veelsydige dier wat aangepas is vir die moderne uitdagings. Die ras het gegroei tot die derde grootste perderas in Suid-Afrika, en is uiters gewild. Volgens Burger stel die streng keuringsproses telers in staat om hoë gehalte perde aan kopers te bied. Die genootskap is leiers wat betref die gebruik van moderne middele soos BLUP-syfers om genetiese vordering te monitor. Ons inligting is oop vir enigiemand om op Logix alles van enige perd te gaan besigtig, soos ouerskap, nageslag, skouprestasies en selfs sy punte met keuring,” sê Michiel. – Elmarie Helberg, Veeplaas

Vir meer inligting, skakel Michiel Burger by 082 674 9595.

’n Beplanningskalender vir herkouerprodusente

Estimated reading time: 8 minutes Veeplaas het by finansiële kenners gaan aanklop om uit...

Regverdige en billike vergoeding vir grond

Estimated reading time: 5 minutes Artikel 25(2) van die Grondwet van die Republiek van...

Predators and problem animals on South African livestock farms

Estimated reading time: 6 minutes Livestock producers face many challenges, such as predator-related losses....

Ondersoek na vleisgehalte van die Boran-bees

Estimated reading time: 6 minutes Die Boran word beskou as ‘n vroeg-volwasse, medium-raam dier....