Swartlandskou Moorreesburg vier sy 90ste bestaansjaar met grootste skou ooit

Estimated reading time: 3 minutes

Die Swartlandskou, wat jaarliks sowat 20 000 besoekers lok, vind vanjaar van Woensdag 4 tot Saterdag 7 September plaas. Hierdie landbouskou in Moorreesburg het hom oor die laaste nege dekades gevestig as een van die grootste skoue in die Suid- en Wes-Kaap met sy propvol program wat deur die hele familie bygewoon kan word.

Die skou, met Afgri as ankerborg, is veral bekend vir sy masjienerie-uitstalling van R320 miljoen wat die grootste, beste en nuutste tegnologie ten toon sal stel.

Volgens die President Jacques Bester is Swartlandskou bevoorreg om hul 90ste skou aan te bied. “Wat begin het as ‘n klein samekoms vir plaaslike boere wat idees oor saaimetodes en oesverbetering gedeel het, het danksy aktiewe ondersteuning deur die gemeenskap gegroei tot een van die gewildste landbou- en landboumasjinerie skoue in Suid-Afrika,” sê Bester.

400 diere ding mee in Wes-Kaap se grootste vleisbeesskou

Swartlandskou se beesafdeling gaan spog met meer as 400 beeste, wat dit die grootste vleisbeesskou in die Wes-Kaap maak. Die interraskampioenskap is ‘n groot trekpleister met verskeie rasse, insluitend SA Angus Swart en Rooi, SA Hereford, SA Simmentalers, SA Santa Gertrudis, SA Charolais en SA Afrikaner, wat sal meeding om gesogte titels​.

Ongeveer 400 perde van verskeie rasse soos Vlaamse en Hackney– en saalperde sal in die perdeskou te sien wees. Topperde sal in die ring pronk met die agtspan-waperde Saterdag as die hoogtepunt waarvoor mense van heinde en verre reis.

Lees meer oor die Wes-Kaapse regering se bystand aan Citrusdal hier.

‘n Eerste: Die Swartlandskou Skeerkampioenskappe

‘n Nuwigheid in die kleinvee-afdeling is die Skeerkampioenskappe wat in samewerking met die SA Skaapskeer-federasie en dr Jasper Cloete van Elsenburg Landbou-opleidinginstituut aangebied word. Tydens hierdie kampioenskappe op 7 September kan skeerders kwalifiseer vir die 2025 Nasionale Kampioenskappe. “Kom ervaar die vernuf en kennis van ons skeerders en skolierskeerders wat in ses verskillende klasse sal meeding en sowat 300 skape wat geskeer sal word,” sê Bester.

Besoekers kan ook uitsien na die BKB & FNB Merino-kampioenskappe, die SA Vleismerino Super 10-kampioenskappe, die OVK-Interrasuitstalling en die jaarlikse slaglamkompetisie. In die pluimvee-afdeling sal rasegte skoupluimvee te sien wees. In die Jeugskou gaan meer as 230 leerlinge van verskeie streke in die Wes-Kaap in 11 dissiplines teen mekaar meeding.

Landbou 2025: Waarheen is ons op pad

Op 6 September bied Graan SA ‘n landbouseminaar vir 400 gaste aan met Theo Vorster, die uitvoerende hoof van Galileo Capital, as die voorsitter van die paneel. Die seminaar se tema is ‘Landbou 2025: Waarheen is ons op pad’. Drie ander landboukenners, Sean Walsh van die KAL Group, dr Frikkie Maré van die Rooivleis Produsente Organisasie (RPO) en dr Dirk Strydom van Graan SA, sal aan die paneelgesprek deelneem.

Meer as 500 vroue sal die Afgri-damesdag op 4 September in die InteliGro-wyntuin bywoon met Marciel Hopkins as die gasspreker en The Muses Strykkwartet wat musiek sal maak. Die skoudans vind op 30 Augustus plaas waartydens die kroning van die Swartlandskou se skoukoningin vir 2024 ook plaasvind.

Die skou sluit ook stalletjies in met ‘n groot verskeidenheid produkte; musiekoptredes deur Jay, Chris Else, Viljoen Retief, Dodo Nyoka, Jan Rhaap en ander; asook verskeie kinderaktiwiteite.

Kaartjies vir die skou is beskikbaar op Ticketpro (www.ticketpro.co.za) en by die hekke teen R50 vir die Woensdag, R70 vir die Donderdag, R100 vir die Vrydag en R150 vir die Saterdag. Daar is ook afslag vir kinders, pensioenarisse en groepe of as jy meer as een dag bywoon.

Besoek die webwerf https://www.swartlandskou.co.za/ vir die volledige program en volg @SwartlandskouMoorreesburg op Facebook en @Swartlandskou op Instagram. Vir navrae, stuur ‘n e-pos na marketing@swartlandskou.co.za. – Persverklaring, Swartlandskou Moorreesburg