Estimated reading time: 5 minutes

  • Die ideale voerkraallam is laat-volwasse, toon uitstekende groei, handhaaf goeie gesondheid, en produseer ’n hoë-gehalte karkas.
  • Kruislammers is verkieslik weens vinniger groeitempo, groter karkasse, en korter aanpassingstye.
  • Gesonde lammers met behoorlike inentingsprogramme presteer beter en het ’n verbeterde voeromsetverhouding (VOV).
  • Streshantering deur kalm hantering, skadu, en konstante voedingstye verhoog groeiprestasie en voerdoeltreffendheid.
  • GDT en VOV is belangrike aanwysers van voerkraaldoeltreffendheid, met teikens van 280-320g/dag en 5,5:1 onderskeidelik.

Die borge van hierdie jaar se UP Agric-voerkraaluitdaging was: Kyron Agri, Molatek, Vet 2 Farm, Octavoscene, RMIS, Cavalier, DataMars en Plaas Media (Veeplaas en Stockfarm).

Talle faktore speel ‘n rol by die produksie van ’n goeie voerkraallam. Dit sluit in raskeuse, groeipotensiaal, bouvorm, veerkragtigheid en karkaseienskappe, en dra alles tot die voerkraal se sukses en winsgewendheid by. Hierdie artikel deur die Lamb-berjacks van die Departement Veekunde by die Universiteit van Pretoria, bestudeer die ideale voerkraallam en die optimalisering van produksie.

Die Lamb-berjacks. Voor van links is Ivan Coetsee, Lize-Mari Snyman, Este Spoelstra en Cilé-Mari Schultz. Agter is Lesedi Diphofa en Tristan Prinsloo.

Selekteer die regte lam

Die eerste stap na sukses behels die seleksie van die regte tipe lam vir afronding in die voerkraal. Die algemene keuse is rasse wat laat- tot medium-volwassenheid bereik, en nie op ’n vroeë ouderdom vet aansit nie. Kruislammers het gewoonlik ’n groter karkas en ’n vinniger groeitempo as wolrasse.

Die doelwit is ‘n maksimale slaggewig met ’n goeie uitslagpersentasie. Dit is belangrik om die koste van die lammers, hul voer en uiteindelik die vleis in aanmerking te neem, aangesien dit die keuse van volwassenheidstipe en die winsgewendheid van die voerkraal sal beïnvloed. Dae gevoer moet ook in aanmerking geneem word, omdat lammers minder doeltreffend raak hoe langer hulle gevoer word. Kruipvoerlammers word verkies, aangesien die aanpassingstydperk korter is.

Lees meer oor die regte dieet vir optimale prestasie in ’n skaapvoerkraal.

Weerstand teen siektes

’n Gesonde lam is die basis van ’n suksesvolle voerkraal. Voordat lammers by ’n voerkraal ingeneem word, moet hulle teen respiratoriese siektes, bloednier, bloutong, hartwater en lamsiekte ingeënt word. ’n Program vir die prosessering en inenting van die lammers moet saam met ’n veearts opgestel en toegepas word ten einde optimale produksie reg deur die afrondingstydperk te verseker.

Lees meer oor die bestuur van gesondheid in ’n voerkraal.

’n Gesonde lam sal ’n beter voeromsetverhouding (VOV) hê as een wat minder gesond is. Lammers moet geleidelik by voerkraalomstandighede en rantsoene aangepas word. Lammers wat tekens van ongemak of siekte toon, moet na hopitaalhokke geskuif en gemonitor word.

Bestuur van spanning

’n Kalm, maklik-hanteerbare lam presteer beter as lammers wat onder stres verkeer. Wanneer lammers stres ervaar, stel hul liggame kortisol af. Hierdie hormoon kan immuunfuksie onderdruk en die energie wat vir groei nodig is, tap. Dit kan weer tot swakker gewigstoename, laer voerdoeltreffendheid en groter vatbaarheid vir siektes lei.

Goeie bestuur van stres begin met behoorlike hanterings- en voertegnieke. Skielike vinnige bewegings, harde geluide en oorbevolking is voorbeelde van faktore wat stres kan veroorsaak. Deur die lammers gereeld elke dag op dieselfde tyd te voer, word die stres van voeronsekerheid verminder. Hittestres is ’n omgewingfaktor wat bestuur kan word deur die verskaffing van skadu en skoon, koel water. Hierdie is standaardpraktyke wat die invloed van hoë temperature versag.

Die lammers het ’n rugbybal gehad om mee te speel as deel van fisiese verryking.

Groeiprestasie

Die meet van lammers se groeiprestasie van begin tot bemarking, bied ’n goeie aanduiding van die voerkraal se doeltreffendheid. Die twee belangrikste aanduiders is gemiddelde daaglikse toename (GDT) en VOV. GDT verwys na hoeveel gewig ’n lam daagliks aansit, terwyl VOV aandui hoe doeltreffend die voer in liggaamsgewig omgesit word. ’n Ideale voerkraallam moet ’n GDT van 280 tot 320g/dag, en ’n VOV van sowat 5,5:1 hê.

Groei-implantate kan tydens prosessering by die lammers se aankoms toegedien word om GDT en VOV te verbeter. Hierdie metings sal aandui of die produksiestelsel sy teikens behaal. Indien lammers stadiger groei as wat verwag word, sal die voerkraal minder winsgewend raak.

Karkasgehalte

Karkasgehalte en -eienskappe is van die hoofbepalers van die prys wat voerkrale ontvang. Voerkraallammers is gewoonlik tussen ouderdom drie en ses maande gereed vir slag, wanneer hul karkasse tussen 18 en 24kg weeg. Suid-Afrikaanse verbruikers verkies ’n Graad A2- of A3-lam, wat in lyn is met die beste opbrengs vir die voerkraal.

Kortom: Die ideale voerkraallam is laat-volwasse, toon uitstaande groei, handhaaf goeie gesondheid, verkeer onder minimale stres, en produseer ‘n hoë-gehalte karkas. Hierdie sleuteleienskappe kan maksimum winsgewendheid vir ‘n voerkraal beteken.

Vir meer inligting, kontak die uitdaging se studieleier, dr Lindeque du Toit, by epos linde.dutoit@up.ac.za.

– Lesedi Diphofa, Tristan Prinsloo, Ivan Coetsee, Lize-Mari Snyman, Este Spoelstra, en Cilé-Mari Schultz (Foto’s: Hannah Gross-fotografie)