Tuesday, March 11, 2025
HomeMagazinesSó loop graanmarkte en voerpryse saam

Só loop graanmarkte en voerpryse saam

-

Estimated reading time: 5 minutes

  • Stygende graanpryse laat graanboere juig, maar veeboere kreun.
  • “Graan is beslis die grootste bron van energie in voer,” sê dr Brink van Zyl, en voeg by dat dit spesifiek die koste van graan is wat ’n baie groot ekonomiese trek-effek op die koste van voer het.
  • Graan is dalk nie die duurste grondstof per eenheidsprys nie, maar gegewe die hoeveelheid graan wat by ’n voerrantsoen ingesluit word, is dit een van die grootste drywers van voerpryse.
  • Terwyl redelik min olie in veevoer gebruik word, word groot hoeveelhede oliekoek wel deur die veevoerbedryf gebruik, vertel dr Van Zyl.
  • ’n Produsent moet egter twee somme laat klop wanneer besluite oor voerrantsoene geneem word – finansies en voeding.

Stygende graanpryse laat graanboere juig, maar veeboere kreun. Langs die meeste braaivleisvure word dié stelling waarskynlik nou maar as wors beskou. Maar hoe presies skakel dié sake inmekaar?  

Die veelsydige genie, Leonardo da Vinci, het eeue gelede reeds gesê dit is belangrik om te besef dat alles inmekaar verweef is. Sommige sake, soos graanmarkte en voerpryse, se verbinding is net meer opmerklik as ander.

Lees meer oor die landboumarkoorsig hier.

Graan in voer

“Graan is beslis die grootste bron van energie in voer,” sê dr Brink van Zyl, departementshoof van die Universiteit Stellenbosch se Departement Veekundige Wetenskappe, en voeg by dat dit spesifiek die koste van graan is wat ’n baie groot ekonomiese trek-effek op die koste van voer het.

Graan is dalk nie die duurste grondstof per eenheidsprys nie, maar gegewe die hoeveelheid graan wat by ’n voerrantsoen ingesluit word, is dit een van die grootste drywers van voerpryse.

“Die insluitingspeile in vee se diëte wissel van so min as 15% in droogtevoer, tot soveel as 90% in sommige suiwelkragvoere, maar oor die algemeen is die insluitingsvlakke iewers tussen 40 tot 60%,” sê hy. “Daarbenewens word verskeie neweprodukte vanuit die graansektor, soos koringsemels en hominy chop, ook wyd in veevoer gebruik. Hierdie neweprodukpryse is ook direk aan die graanprys gekoppel, wat dus ook voerpryse beïnvloed.”

Vir dié redes, sê dr Van Zyl, is dit ’n maklike sommetjie om bymekaar te sit. “Graan en graanbyprodukte het ’n wesenlike invloed op voerpryse.”

Oliesaadpryse se invloed

Terwyl redelik min olie in veevoer gebruik word, word groot hoeveelhede oliekoek wel deur die veevoerbedryf gebruik, vertel dr Van Zyl. “Oliekoek is die produk wat oorbly nadat die olie uitgepers is en is ’n uitstekende proteïenbron. In Suid-Afrika gebruik ons meestal katoen-, soja-, kanola-, sonneblom- en grondboon-oliekoek.” 

Heelwat minder oliekoek word by veevoerrantsoene ingesluit – gewoonlik so tussen 10 en 20%. “Die eenheidskoste is egter heelwat meer as dié van grane,” verduidelik hy. “Aangesien prysbewegings in oliesaadkommoditeitspryse die koste van die oliekoeke direk beïnvloed, sal die eenheidspryse ook geraak word. Die netto effek is dus soortgelyk aan dié van grane.”

Lees meer oor die rol van dierevoer in die oliesaadbedryf hier.

Voedingswaarde en finansies

’n Produsent moet egter twee somme laat klop wanneer besluite oor voerrantsoene geneem word – finansies en voeding.

Uiteindelik word die koste van ’n voerrantsoen deur beide die proteïene en energie van daardie rantsoen bepaal. “ ’n Produsent of voedingkundige behoort deurentyd daarna te streef om die mees ekonomies moontlike alternatief te formuleer, sodat produkgehalte steeds op ’n hoë vlak gehandhaaf word.”

Hierdie formules word normaalweg maandeliks aangepas, maar hang ook af van voorraad op hande, sê hy. “Alle produkspesifikasies moet egter te alle tye aan die minimum voedingsbehoeftes van die dier voldoen, omdat diereproduksie (en -reproduksie) weer daarvan afhang. Produksie het immers ’n direkte invloed op die boerdery se inkomstestroom.”

Die feit is dat baie min kommoditeite direk op ’n een-tot-een basis met mekaar vervang kan word; daar is geen sin daaraan om voerkoste af te bring ten koste van produksie en inkomste nie.

Markte se invloed op ruvoerkoste

Nie alle produsente koop egter voer in nie, wat die vraag meebring: Hoe skakel ruvoer en graanmarkte by mekaar in? Binne die konteks van hierdie artikel verwys ‘ruvoer’ na voedingsrantsoene soos weiveld, gepreserveerde ruvoer (hooi en kuilvoer), oesreste en aangeplante weidings.

Dr van Zyl sê dit is belangrik om te onthou dat ruvoer slegs van belang is vir herkouerproduksie. Dit raak dus hoofsaaklik vleisbeeste, melkkoeie en kleinvee. Tog bevat graangebaseerde ruvoer, soos kuilvoer, ongeveer 60% graan en daarom word ook hierdie komponent deur prysskommelings beïnvloed.

Prysskommelings se invloed is egter minder op ruvoerpryse as dít wat by die Chicago Board of Trade (CBOT) opgemerk kan word, omdat dié kommoditeit (ruvoer) nie normaalweg bemark word nie. “Verder is die invloed van verhoogde graankommoditeitspryse relatief vinnig teenoor ruvoerkommoditeite,” voeg hy by. “Aangesien hierdie ruvoer normaalweg seisoenaal geproduseer word, word die pryse eers in die volgende produksieseisoen aan verandering blootgestel.”

Lees meer oor die regte stoormetodes van voer hier.

Ander tipes ruvoer, wat nie aan die graanbedryf gekoppel is nie (soos grashooi of strooi), word baie minder deur graankommoditeitspryse beïnvloed. “Die grootste drywer van ruvoerkommoditeitspryse bly egter weersomstandighede en bewerkingsmetodes wat grootliks die vraag en aanbod beïnvloed.”

Wat groenvoer en aangeplante weiding aanbetref, sê dr Van Zyl dat hoë kommoditeitspryse wel ’n invloed op saadpryse het. “Tog moet ons besef dat die effek heelwat sagter op weiding as op voer is, wat direk aan graankommoditeite gekoppel word; ’n groot deel van die volume van die weiding is nie saad nie.”

Gevolglik sal die uiteindelike invloed van graanmarkte op weiveld nooit so enorm wees soos op diere wat rantsoene gevoer word nie. – Susan Marais, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak dr Brink van Zyl by brinkvz@sun.ac.za.

Must Read

Graan SA deel suksesse met Prieska-boere

Estimated reading time: 3 minutes Bestuurslede van Graan SA het Prieska se saaiboere onlangs besoek om die suksesse wat die organisasie behaal het met die...