Estimated reading time: 6 minutes
- Onkruiddoders behoort nie die enigste of laaste uitweg vir onkruidbeheer wees nie.
- Deur gewasplante en gewenste plante in natuurlike weiding se groei en ontwikkeling te verstaan en te bevorder, kan hulle as biologiese beheeragente ingespan word vir die onderdrukking van skadelike plantsoorte (onkruid).
- Vir enige onkruiddoder om behoorlik te werk, moet dit die teikenplant in genoegsame hoeveelhede bereik.
- Opname van onkruiddoders deur plante geskied deur die plante se loof en/of wortels.
- Die hoofoogmerk van enige onkruidbeheerprogram behoort te wees die beperking van die teikenplant se vermoë om voort te plant, deur blom- en saadvorming te verminder en beter nog, te verhoed.
Onkruiddoders behoort nie die enigste of laaste uitweg vir die beheer van onkruid te wees nie, maar eerder nuttige hulpmiddels in enige onkruidbeheerprogram. Dit kan ook die gebruik van ander beheermetodes insluit. Onkruiddoders behels ’n chemiese beheermetode, terwyl fisiese metodes aksies soos grondbewerking met implemente, handskoffel en die sny van onkruidsoorte behels.
Addisioneel, of tegelykertyd, kan biologiese beheermetodes in die vorm van gewaskompetisie en beweiding deur vee ingespan word vir die onderdrukking van onkruid. Deur gewasplante en gewenste plante in natuurlike weiding se groei en ontwikkeling te verstaan en te bevorder, kan hulle as biologiese beheeragente ingespan word vir die onderdrukking van skadelike plantsoorte (onkruid).
Lees meer oor onkruid as voerplante.
Tesame met doeltreffendheid van onkruidbeheer moet die allerbelangrikste oorweging by die gebruik van onkruiddoders die kort- en langtermynveiligheid daarvan vir mens en dier asook vir die groter omgewing, wat nie-teikenplante en waterbronne insluit, wees. Die mees basiese versekering vir die veilige en verantwoordelike gebruik van onkruiddoders is nougesette nakoming van aanbevelings en agting vir die waarskuwings wat in die produketiket opgeneem is.
Korrekte toediening
Vir enige onkruiddoder om behoorlik te werk, moet dit nie alleenlik akkuraat onder ideale omgewingstoestande toegedien word nie; dit moet ook die teikenplant in genoegsame hoeveelhede bereik. Uiteindelik moet die onkruiddoder tot so ’n mate deur die plant opgeneem word, dat dit in ’n toksiese hoeveelheid by die setel-van-aksie iewers binne-in die plant kan uitkom.
Sonder akkurate toediening kan onkruiddoders nie behoorlik werk nie. Insgelyks sal die beste toedieningstegniek nie goeie werking kan verseker tensy genoegsame onkruiddoder die setel-van-aksie binne-in plante bereik nie. Die baie bekende onkruiddoder, glifosaat, se setel-van-aksie is ’n spesifieke proteïen, die EPSPS-ensiem, wat in alle plantsoorte aangetref word.
Waaraan is die veilige gebruik van glifosaat in glifosaatverdraagsame mielie-, katoen- en sojaboonkultivars te danke? Sulke kultivars is bestand teen glifosaat, omdat ’n glifosaatbestande variant van die EPSPS-ensiem deur middel van ‘n genetiese transformasietegniek na hulle oorgedra is.
Opname deur plante
Opname van onkruiddoders deur plante geskied deur die plante se loof en/of wortels. ’n Menigte faktore bepaal tot watter mate ’n onkruiddoder deur plante opgeneem word nadat dit in druppelvorm op blare en grond beland.
Onkruiddoders in korrelvorm is uiteraard bestem om direk op die grond te beland. Ongeag die tipe onkruiddoder en die manier waarop dit toegedien word, is water die medium waarin onkruiddoders deur plante opgeneem word. Daarom is minstens die korttermynwerking van onkruiddoders in die algemeen swak wanneer teikenplante onder waterstres verkeer en die grond droog is. Die beste opname van onkruiddoders geskied wanneer plante aktief groei en daar voldoende grondvog is vir wortelopname.
Omdat plantoppervlakke van nature waterafwerend is, is dit algemene praktyk om in die geval van looftoegediende onkruiddoders ’n chemiese bevorderingsmiddel by te voeg om die spuitdruppels met die plantoppervlak versoenbaar te maak, sodat opname van die onkruiddodergedeelte van die spuitdruppel bevorder kan word.
Gevare van oordosering
Tydens die beheer van bosverdigting met onkruiddoders (spesifiek in dele waar reënval min en verspreiding onegalig is) moet gewaak word teen oordosering weens die gewaande verwagting dat plante vinnig gaan reageer op toediening. Ongeag of sulke onkruiddoders in vloeistof- of korrelvorm toegedien word, gaan dit beduidende hoeveelhede reën en tyd verg om die onkruiddoder by die wortels van teikenplante soos bome en struike uit te kry.
Lees meer oor die verspreiding van onkruid deur saad.
Vermy die versoeking om onder sulke toestande die toediening van onkruiddoders te gou te herhaal ‒ onbedoelde, maar ook doelbewuste oordosering van hierdie aard kan oor baie jare heen ontsettende skade aan gewenste plantegroei veroorsaak. Waar onkruiddoders teen bosverdigting ingespan word, is die seleksievermoë van die middels gewoonlik gefokus op die beheer van sekere bome en struike, terwyl grasse veronderstel is om beheer vry te spring. Sulke onkruiddoders se algemene gebrek aan ‘n onderskeid tussen houtagtige en kruidagtige spesies is egter problematies, want waardevolle nieteikenplante kan ook gedood word.
Beperk nuwe groei
Die hoofoogmerk van enige onkruidbeheerprogram behoort te wees die beperking van die teikenplant se vermoë om voort te plant, deur blom- en saadvorming te verminder en beter nog, te verhoed. Daadwerklike optrede in een groeiseisoen kan groot besparings in opvolgende seisoene meebring.
Sade van die meeste grasonkruidsoorte bly oor die algemeen vir ’n relatief kort tydperk (een tot twee jaar) kiemkragtig, maar talle van die sogenaamde breëblaarsoorte kan vir jare en selfs dekades kiemkragtig in grond oorleef. ’n Onkruidsaailing wat gister opgekom het, kan tien of meer jaar oud wees indien die ouderdom van die saad bygereken sou word.
Die langslewendheidseienskap van baie onkruidsoorte se sade dra by tot ’n geleidelike aanwas van ontsaglike saadgetalle in grond. Hierdie saadgetalle, die sogenaamde grondsaadbank, kan oor die algemeen in die orde van etlike miljoene, en selfs miljarde, per hektaar wees. Daarom kan dit gebeur dat in ‘n bepaalde groeiseisoen op ’n gewasland ontkieming en groei vanaf slegs 1% van die sade teenwoordig in ’n erg-besmette grondsaadbank as onbevredigende onkruidbeheer beskou word. Die valsbeskuldigde onkruiddoder het inderdaad besonder goed gevaar deur 99% beheer te verskaf.
Mense se beste pogings tot oorheersing van onkruid word gefnuik, omdat onkruidsade nie op een slag ontkiem nie. Ontkieming op gewaslande kan in baie gevalle oor die volle groeiseisoen strek en só volhoubare beheer moeilik maak. In die geval van meerjarige probleemplante, soos bome en struike, moet gereken word met die groot hoeveelheid sade wat oor jare tot die grondsaadbank bygedra is. Verwydering van ’n enkele boom of struik gaan waarskynlik lei tot ‘n opslag van honderde en selfs duisende nakomelinge.
Menige indringerplantgerigte beheerprogram in natuurlike veld, hetsy inheemse plante wat bosverdigting veroorsaak óf uitheemse plante wat natuurlike plantegroei binnedring en verplaas, gaan mank aan opvolgaksies en gereelde monitering wat volhoubare langtermynbeheer moontlik maak. ‘Een-skoot’-tipe beheeraksies het min kans op sukses, minstens wat betref die herstel van veld tot so na as moontlik aan die ontwykende ‘histories-natuurlike’ plantegroeigemeenskap. – Prof Charlie Reinhardt, Universiteit van Pretoria