Niks is jollie aan hierdie jeuk nie

Estimated reading time: 4 minutes

Daar is ’n Afrikaanse gesegde wat lui: “Een brandsiek skaap steek die hele trop aan”. Die uitdrukking het eintlik op mense betrekking en beteken dat een vrot appel die hele gemeenskap kan benadeel. Dit is duidelik dat hierdie spreekwoord uit die geledere van skaapboere kom, want ’n brandsiek skaap gaan nie net jou hele kudde aansteek nie – dit kan ook jou bure se troppe affekteer.

Skaapbrandsiekte is ’n aanmeldbare siekte en volgens wet moet al die boere in ’n area hul skape doseer as ’n brandsiekgeval in die omgewing sou voorkom.

Oorsake van brandsiekte

Dr Willie Harris, ’n veearts van Noord-Kaap Repro en Veeartsenydienste op Upington, sê brandsiekte word veroorsaak deur ’n mikroskopiese klein myt genaamd Psoroptes ovis wat op skape of bokke se velle bly.

“Die wyfies lê tot 100 eiers wat binne drie dae kan uitbroei. Myte leef en voed op die vel, maar grawe nie in die vel in nie. Wanneer hulle die vel prik om op limf te voed, veroorsaak dit ontsteking met ‘n gevolglike afskeiding van serum wat bo-op die vel stol,” verduidelik hy.

Hy voeg ook by dat ’n onderskeid getref moet word tussen Psoroptes ovis en die skaapjeukmyt, Psorergates ovis. Laasgenoemde kom gewoonlik by fynwolrasse voor. Hierdie twee myte kan net op mikroskopiese vlak deur ’n deskundige onderskei word.

Voorsorg is beter as nasorg

Skaapbrandsiekte kan beheer word en voorkomende optrede is die beste medisyne. Wanneer die probleem eers posgevat het, is dit moeilik om verspreiding daarvan na ander diere te keer en dit kan die veeprodusent én sy bure baie duur te staan kom.

Volgens dr Harris is biosekuriteit die eerste en belangrikste verdedigingsmeganisme teen brandsiekte-uitbrekings. “Behandel nuwe diere met inspuitbare ivermektien voordat hulle tot die bestaande kudde toegevoeg word. Dit is ook noodsaaklik om besmetting wat op buurplase voorkom, te monitor,” sê hy.

Hy beveel ook aan dat boereverenigings die spuit van langwerkende ivermektien koördineer, sodat dit in dieselfde tydgleuf op verskillende plase plaasvind. Sodoende kan herbesmetting vanaf buurplase ook voorkom word. Hy voeg by dat hierdie roetinebehandeling minstens een keer per jaar moet plaasvind.

Tekens van brandsiekte

Tekens van skaapjeukmyt en skaapbrandsiekte is baie soortgelyk. In die geval van jeukmyt toon die besmette diere erge irritasie en jeuk. In hierdie geval is die parasiete gewoonlik baie min en kan hulle nie maklik met die blote oog gesien word nie. ’n Opvallende kenmerk is dat die wol gewoonlik slierterig en gekoek is, met ’n skilferigheid wat op die vel voorkom. Die wol kan ook ’n geel-oranje kleur hê.

In die geval van skaapbrandsiekte toon die skaap ook ’n gejeuk en irritasie. Dit veroorsaak dat die skaap aan sy vag byt en trek, wat die toestand vererger. Die diere is ook geneig om hulle teen pale of gespande draad te skuur om van die irritasie ontslae te probeer raak – dit is op hierdie manier dat die siekte dikwels van die een plaas na ‘n ander oorgedra word. Omdat die myt die vel prik om te voed, is daar kaal kolle wat korserig vertoon of die wol is gekoek en sit aan die korse vas.

Oordrag na ander diere

Die oordrag van die skaapbrandsiekmyt vind hoofsaaklik tydens kontak tussen diere plaas. In dr Harris se ervaring versprei die siekte veral in die wintermaande tussen vee, omdat die klimaat in langer wol gunstig is vir hierdie parasiete. In hierdie tyd is die skape ook meer geneig om saam te drom of ingekraal te word.

“Dit is belangrik om te onthou dat skaapbrandsiekte ’n beheerde siekte is. Enige verdagte gevalle moet aan die staatsveearts gerapporteer word. Indien skaapbrandsiekte positief gediagnoseer word, sal die plaas en buurplase vir sowat ses weke onder kwarantyn geplaas word na geskikte behandeling. Enige laksheid van die produsent se kant om die staat by te staan om die siekte te beheer, kan tot boetes of selfs tronkstraf lei,” waarsku hy.

Diere met skaapbrandsiekte kan wel geslag en in ’n geseëlde voertuig na ’n geskikte abattoir vervoer word, mits suksesvol aansoek gedoen is vir ’n rooikruispermit hiervoor. – Koos du Pisanie, Plaas Media

Vir meer inligting, skakel dr Willie Harris van Noord-Kaap Repro en Veeartsenydienste by 054 331 2660.

Must read

Agri Wes-Kaap stel Jongboer van die Jaar 2026-kandidate bekend

Estimated reading time: 4 minutes Agri Wes-Kaap het vandeesweek die kandidate vir sy 2026 Agri Wes-Kaap Santam Jongboer van die Jaar-kompetisie aangekondig. Die organisasie het...

Biosecurity under pressure: What it means for South African agriculture

Estimated reading time: 4 minutes Biosecurity has become one of the most pressing challenges facing South African agriculture in 2026. This is underscored by the...

Karoo Winter Wool Festival returns in 2026 – better than ever!

Estimated reading time: 5 minutes This July, all roads once again lead to the heart of the Karoo and the historic town of Middelburg in...

Oorvloedige reën bring hoop én uitdagings vir Noord-Kaapse produsente

Estimated reading time: 2 minutes Almal in die Noord-Kaap het verwag dat boere die winter met ’n swaar hart sou ingaan. Die reën het egter...

Stamboek Times Mei 2026

Die jongste weergawe van SA Stamboek se nuusbrief, Stamboek Times, is nou beskikbaar. In die Mei-uitgawe kan lesers uitsien na die volgende: BGP2: Jaar 3 skop...