Thursday, April 24, 2025

Sekere plantsiektes bedreig tans graanoeste

Estimated reading time:5 minutes

Ondanks wye reënval in die Noordwes en die Vrystaat, is daar tans minder rede tot paniek oor plantsiektes by mielies, sonneblomme, en sojabone. Volgens Gerrie Ludick, tegniese bemarkingspesialis by InteliGro, ’n maatskappy wat in gewasbeskerming, blaarvoeding, chemiese onkruiddoders en saad spesialiseer, is die grootste risiko eerder vroeë ryp wat oesskade kan veroorsaak.

Fisiologiese rypheid

Ludick, ’n agronoom, sê baie gewasse is reeds naby aan fisiologiese rypheid – sonneblom word al gestroop, en sojabone en mielies is amper reg om geoes te word. By laat aanplantings van Januarie in die Noordwes en die Vrystaat, is swamdoder-toediening steeds ’n opsie, maar dit is duur en minder doeltreffend veral waar toegang tot nat landerye beperk is en lugbespuiting nodig is. Die belangrikste behoefte is tans sonskyn, veral vir die stroop van sojabone. In die westelike dele van die Noordwes is boere reeds besig om sonneblom te oes, en sojabone is ryp genoeg om gestroop te word.

Hy sê hierdie seisoen is uniek weens ’n verlengde planttydperk, wat veroorsaak is deur wisselvallige reën. Gewasse op dieselfde plase is in verskillende groeistadia – sommige is ryp, ander het nog tyd nodig. Mielies neem gemiddeld 120–130 dae tot fisiologiese rypheid, wat beteken dat Januarie-aanplantings eers teen middel of laat Mei gereed sal wees. Sonneblomme raak vinniger ryp, maar siektes soos Sclerotinia (stam- en kopvrot) en Alternaria bly ’n risiko in laat-aanplantings, veral op sonneblomblare en in sekere sojaboongewasse. Â

Die siektedriehoek

Volgens Ludick is ’n gesonde plant die beste verdediging teen siektes. Hy verwys na die siektedriehoek, wat uit drie faktore bestaan: Klimaat, patogeen (siektetoestand), en gasheer. As al drie hierdie faktore gelyktydig teenwoordig is, is die risiko vir infeksie groot. As een ontbreek, val die driehoek plat en is die kans op siekte laag. ’n Voorbeeld is die swamsiekte Alternaria, wat net sonneblom (die gasheer) aanval. Sonder die gasheer kan die siekte nie voorkom nie.

Hy sê hierdie seisoen was egter uniek, omdat al die siektedriehoek-faktore in mielies, sonneblom, en sojabone teenwoordig was. Die kombinasie van reën en nat toestande het siektes laat uitbreek, veral Fusarium-infeksies, wat as primêre patogeen optree en primêr teenwoordig is in grond, en verskeie vorme aanneem: Wortelvrot, kroonvrot, stamvrot, en kopvrot. Fusarium dring by beskadigde plantdele (deur hael, wind, insekte, of toerusting) in en skep toegang vir sekondêre patogene soos Gibberella (wortel-, stam-, en kopvrot) en Diplodia (stam- en kopvrot).

Volgens Ludick is ‘skelm-Diplodia’ ’n groot uitdaging vir mielieboere. Hoewel mieliekoppe aan die buitekant gesond lyk, begin die pitte dikwels van binne vrot – veral by die aanhegtingspunt aan die stronk waar vog en infeksie insluip. Die probleem word eers tydens strooptyd sigbaar wanneer silo’s die besmette pitte afkeur. Dit lei daartoe dat ’n goeie oes na Graad 2, Graad 3 of selfs voergraad afgegradeer word, met groot finansiële verliese vir die boer.

Mieliesiektes

Die grootste bedreiging vir mielies tans is kultivargebonde blaar- en stamsiektes. Volgens Ludick is algemene blaarsiektes Noordelike mielieblaarskroei, grysblaarvlek en turcicum-blaarroes, terwyl stamsiektes soos Fusarium, Diplodia en Gibberella-stamvrot, asook kroonvrot deur dieselfde patogene, algemeen voorkom.

Die siektedriehoek was vanjaar volledig. Die gasheer (mielies), hoë humiditeit ná blom, en die teenwoordigheid van patogene in die grond en lug het gunstige toestande vir siekte-ontwikkeling geskep. Ná blom is mielies besonders vatbaar, aangesien die plant energie herlei om die kop en pitte te voed. Indien dit terselfdertyd aan stres blootgestel word, verswak die weefsel, wat patogene soos Fusarium die kans gee om infeksies te begin – dikwels reeds weke voordat enige sigbare tekens verskyn.

Siekterisiko’s by sonneblomme en sojabone

Verskeie blaarsiektes is tans by sonneblomme aktief, met Alternaria-blaarvlek die mees bedreigende een. Hierdie aggressiewe siekte kan ’n oes binne ’n week vernietig as die siektedriehoek voltooi is. Septoria-blaarvlek toon soortgelyke simptome, maar is minder aggressief. Witroes en bruinroes kom ook voor. Witroes het ’n groot impak op meer vatbare variëteite. Stamsiektes soos Alternaria, Septoria, en swartvlek kom dikwels saam met Fusarium-wortel en -stamvrot voor, wat tot kopvrot kan lei.

Die grootste uitdaging bly egter Sclerotinia – ’n klimaatsgedrewe siekte waarvan die spore jare lank dormant in die grond kan bly. Sodra toestande ideaal is kan dit vinnig uitbreek, wat voorkomende bespuiting moeilik en onvoorspelbaar maak. Ludick sê Sclerotinia is ’n ernstige bedreiging vir sonneblomme en sojabone, maar omdat dit tans sojaboon-strooptyd is, is die siekte waarskynlik té laat om wesenlike skade te veroorsaak. ’n Natter voorseisoen sou die risiko egter aansienlik vir albei gewasse verhoog het.   

blank
Sojabone wat nog fisiologies besig is om ryp te word.

Voorkomende metodes teen siektes

Volgens Ludick is daar verskeie metodes wat produsente kan help om siektes doeltreffend te voorkom:

  • Ploeg: Periodieke ploeg, ten minste elke drie jaar, werk patogene dieper in die grond in, waar hulle moeiliker oorleef. Dit is veral nuttig omdat produsente stoppelbewerking toepas, aangesien siektes soos Fusarium, Gibberella en Diplodia in gewasreste oorleef. Gereelde ploeg kan egter grondstruktuur benadeel.
  • Saadbehandeling: Biologiese saadbehandelings met mikro-organismes soos Bacillus en Trichoderma verbeter grondgesondheid en beskerm saailinge. Rhizobium help met stikstofbinding by sojabone en verhoog opbrengs.
  • Plantgesondheid: Minimale stres is belangrik. Volledige voeding in die groeifase, insluitend blaarvoeding met aminosure, versterk weerstand. Boere wat aminosure gebruik het rapporteer minder Sclerotinia-infeksies.
  • Swamdoders: Produkte met Strobelorien en Triazool bied effektiewe voorkomende beheer – die een vir vinnige, die ander vir langertermynbeskerming.
  • Produktoediening: Spesifieke geregistreerde middels is vir mielies, sonneblomme, en sojabone beskikbaar. Indien Sclerotinia reeds teenwoordig is, kan produkte steeds werk as die plant nog genoeg groeilengte oor het om die middel op te neem. – Christal-Lize Muller, Plaas Media

Must read

blank

Clanwilliam-ekspo toon goeie groei

Estimated reading time: 10 minutes Die Canwilliam-eskpo wat na Covid erg onder vandalisme deurgeloop het, het die afgelope paar jaar elke jaar gegroei, en vanjaar...
blank

Gesmokkelde diere ’n kommer op RPO Limpopo-kongres

Estimated reading time: 4 minutes Beeste wat van Botswana na Suid-Afrika gesmokkel word bedreig Limpopo se bek-en-klouseer (BEK)-vrye status. Só het Douw Pelser, herkose voorsitter...
blank

RSG Landbou: 24 April 2025 – geborg deur Plaas Media

Kontantgewasproduksie in die Wes-Kaap is onder ernstige druk as gevolg van hoë insetkoste, lae kommoditeitspryse en die impak van klimaatsverandering. Prof Johann Strauss van...
blank

Beplande speentyd en aksies het groot waarde

Estimated reading time: 7 minutes Die geslaagde speen van vleisbeeskalwers hou verskeie voordele in. Die speenneusringmetode is die stelsel wat waarskynlik speenskok die beste beperk. Die...
meteorology water meter rain gauge

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 1 minute Johan van den Berg is weer terug op sy pos met sy weeklikse weersake-gesprek met Lise Roberts op RSG Landbou....