Monday, December 15, 2025

Gesmokkelde diere ’n kommer op RPO Limpopo-kongres

Estimated reading time: 4 minutes

Beeste wat van Botswana na Suid-Afrika gesmokkel word bedreig Limpopo se bek-en-klouseer (BEK)-vrye status. Só het Douw Pelser, herkose voorsitter van Rooivleisprodusente-organisasie in Limpopo (RPO Limpopo) onlangs tydens dié organisasie se kongres gesê.

Die kongres het vanjaar by die Hiesterhof Restaurant in Polokwane plaasgevind.

“Bokke wat oor die Zimbabwiese grens vervoer word is ook ’n probleem,” sê Pelser en voeg by dat dr Mpho Maja, direkteur van dieregesondheid by die Nasionale Departement van Landbou, beloof het om binnekort in ’n vergadering met landbouleiers van Limpopo, Mpumalanga, en Noordwes te belê om hierdie kwessie te bespreek.

Die rede hoekom hierdie verskuiwings van diere vir Pelser kommerwekkend is, is omdat Limpopo in Mei 2023 sy laaste uitbreek van BEK gerapporteer het. Sedertdien word dié staatsbeheerde siekte slegs in die provinsie se tradisionele rooilyn gebied gevind, waar BEK endemies is.

Pelser is besorg dat dié vooruitgang verlore kan wees indien gesmokkelde diere BEK na die provinsie bring.

Veediefstal bespreek

Veediefstal was nog ’n kwessie wat die winsmarges van produsente in hierdie provinsie verlam. “Oor die afgelope jaar is R1,39 miljard se beeste, skape, en bokke gesteel – en dit is nét die gevalle wat aangemeld is. In realiteit kan dit selfs dubbel dié getal wees,” sê Pelser. Daarom was hy dankbaar vir die goeie samewerkingsverhouding wat tussen RPO Limpopo en die provinsiale veediefstal-eenheid bestaan. Sewe polisielede van dié eenheid het ook die kongres bygewoon, omdat hulle die veebedryf se binnekring beter wou verstaan.

James Faber, voorsitter van die RPO Nasionaal, het produsente aangemoedig om enige diefstal by die WhatsApp-telefoonnommer, 071 515 2011, aan te meld. “Dit vervang nie die amptelike aanmelding van ’n saak by die SAPD nie,” sê Faber en voeg by dat daar baie vraagtekens oor die akkuraatheid van die polisie se amptelike syfers is. Daarom hoop die RPO dat dié bykomende prosedure ’n manier sal wees om die amptelike syfers te oudit.

Pelser sê een van die kwessies waarop dié provinsie kan roem is die aantal sekuriteitskameras wat in landelike areas opgerig is. “Die res van die land het altesaam sowat 7 000 kameras langs die pad, terwyl Limpopo ’n duisend funksionerende kameras opgerig het. So, in hierdie opsig is ons baie ver voor die ander provinsies.”

RPO Limpopo se nuwe bestuur is van links, Henk Malan, visevoorsitter; Bekker Pelser; Edmund Fourie; Douw Pelser, voorsitter; Wilma Prinsloo, RPO Limpopo se algemene bestuurder; Peter Moroka; en Lukas Eksteen, tesourier.

Sonde met die bure

Lukas Eksteen, tesourier van RPO Limpopo, het uit die gehoor opgemerk dat hy bekommerd is oor die groot hoeveelheid speenkalwers wat van Botswana na Suid-Afrika uitgevoer word, terwyl Limpopo se produsente gekniehalter word om op hul beurt diere na Botswana uit te voer as gevolg van ’n uitvoerverbod weens BEK.

Faber het egter gesê dat hierdie invoere in die groter ekonomiese prentjie nie net negatief bejeën moet word nie. “Dis beter dat speenkalwers, eerder as verwerkte snitte ingevoer word, omdat dít weer plaaslike werksgeleenthede skep. Daardie diere vreet ook Suid-Afrikaanse kos in voerkrale, wat beteken dat dit die plaaslike mielie- en sojaprodusente ondersteun.”

Dr Frikkie Maré, HUB van RPO Nasionaal, het bygevoeg dat ’n mens nie die hoeveelheid speenkalwers vanuit Botswana moet oorskat nie. “Uiteindelik is die hoeveelheid speenkalwers wat oor ’n jaar van Botswana af ingevoer word net genoeg om Karan Beef se voerkrale een keer te vul.”

Daarom reken dr Maré dat hierdie probleem nie van groot genoeg omvang is om beskermingsmaatreëls in te stel nie. “Die effek op die land se breër handelsbalans is gering.”

Limpopo-gebaseerder Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD)-offisiere het die hele RPO Limpopo-kongres bygewoon om ’n beter begrip van die sektor te vorm. Van links is adjudant-offisier Therens Malatji, konstabel Mukatuni Vhuhwavho, adjudant-offisier Joshua Mantsina, konstabel Xichavo Ngobeni, adjudant-offisier Olga Bekona, en sersant Jeffrey Maluleke.

Ongelukkigheid oor data

Gehoorlede het hul misnoeë uitgespreek oor die Rooivleisbedryfdienste (RMIS) se projek wat produsente aanmoedig om hul plase se geografiese ligging te registreer, omdat hulle voel dat die RMIS besluite eensydig op produsente afdwing en dat dit hul persoonlike data kan beïnvloed.

Dr Maré sê dis nie waar dat produsente hoogs vertroulike data moet deel nie, omdat produsente slegs basiese kontakbesonderhede tydens registrasie moet voorsien wat slegs aan die webtuiste se administratiewe personeel bekend is. “Jy moet net jou naam, selfoonnommer, en e-posadres voorsien, sodat jy ’n PIN-kode kan ontvang.” Produsente ontvang dan ’n unieke nommer wat nêrens op aarde herhaal word nie. Dié nommer word dan aan die produsent se eiendom gekoppel. – Susan Marais, Plaas Media

Samic: Protector of red meat quality

Estimated reading time: 5 minutes If you thought the South African Meat Industry Company (Samic)...

Elke happie tel: Presisievoeding vir optimale produksie

Estimated reading time: 6 minutes Elke produsent het die behoefte om meer winsgewend en volhoubaar...

Flies and blowflies: A serious threat to cattle health

Estimated reading time: 4 minutes Several fly species negatively affect cattle productivity, including biting flies...

’n Karoo-boerdery geskoei op natuur en kennis

Estimated reading time: 7 minutes Sybrand Venter, ’n bekende gemeenskapsleier en produsent van die plaas...