Estimated reading time: 7 minutes
- Die geslaagde speen van vleisbeeskalwers hou verskeie voordele in.
- Die speenneusringmetode is die stelsel wat waarskynlik speenskok die beste beperk.
- Die aangrensende kamp-metode is ’n stelsel waar die koeie en kalwers met speen geskei word en dan in aangrensende kampe met ’n goeie heining tussen hulle geplaas word.
- Spoorelemente kan ’n groot rol speel om die immuunstelsel te versterk en in stand te hou.
- Kruipvoer wat voor speen aan kalwers beskikbaar gestel word, bied verskeie voordele.
Die geslaagde speen van vleisbeeskalwers hou verskeie voordele in. Dit behels beslis meer as om bloot die koei en die kalf te skei. Wanneer kalwers op gemiddeld sewe maande oud gespeen word, is die kalf nie meer afhanklik van die koei se melk vir sy voeding nie. Daar bestaan dan egter nog ’n baie sterk band tussen die koei en haar kalf, en speen lei dus tot speenskok met gepaardgaande negatiewe gevolge.

Danie van Niekerk, bestuurder tegniese ondersteuning (groot diere) by Virbac RSA, sê ’n speenstelsel wat speenskok die beste beperk, verminder gewoonlik siektes wat weer die gebruik van veral antibiotika beperk. Dit bevorder ook goeie dierewelsyn.
Die neusringmetode
Die speenneusringmetode is die stelsel wat waarskynlik speenskok die beste beperk. Dit bestaan uit ’n ring wat aan die kalf se neus gesit word. Die speenring het stekels aan wat die koei irriteer as die kalf probeer suip. Sy sal dan wegloop en die kalf van haar uier af weghou.
Omdat die kalf steeds saam met die koei loop, word die band tussen hulle nie onmiddellik gebreek nie. Ná ’n paar dae behoort die kalf gespeen te wees en sal hy nie meer probeer suip nie. Die neusringe behoort sowat tien dae voor die beplande speendatum aangesit te word en ’n mens kan dit op die speendatum afhaal.
Dit is ’n stelsel wat geld kos en moeite verg. Die neusringe kan egter weer gebruik word, wat die kostefaktor verlig.
Ander metodes
Die aangrensende kamp-metode is ’n stelsel waar die koeie en kalwers met speen geskei word en dan in aangrensende kampe met ’n goeie heining tussen hulle geplaas word. Die koeie en kalwers kan mekaar nog sien en aan mekaar ruik, maar die kalwers kan nie meer suip nie. Die kalwers raak relatief vinnig daaraan gewoond en kan dan sonder groot speenskok finaal van die koeie geskei word.
Nog ’n manier is om die kalwers in ’n kraal af te hok waar hulle smaaklike voer en water kry. Die proses word vergemaklik as die koeie so ver weggevat word, dat die kalwers hulle nie kan hoor nie. Hulle sal binne ’n paar dae ophou om na die koeie te soek en kan dan weggeneem word.
Met die omruilmetode worddie kalwers en koeie van verskillende troppe omgeruil. Die koeie laat gewoonlik nie toe dat vreemde kalwers aan hulle suip nie. Die troppe moet verkieslik buite hoorafstand van mekaar wees.
Die direkte-speenmetode is die stelsel wat die grootste speenskok veroorsaak. Hier word die kalwers direk van die koeie af weggelaai na ’n voerkraal of afrondingsgerief. Sulke kalwers vat langer om by die nuwe toestande aan te pas en word ook makliker siek.
Ander belangrike faktore
Aangesien die speen van kalwers meer behels as bloot die skeiding van koei en kalf, is dit noodsaaklik dat die proses goed beplan word.
Vleisbeeskalwers word gewoonlik op ’n ouderdom van tussen ses en agt maande gespeen en talle faktore sal dié tydsberekening beïnvloed, waarvan voedingsomstandighede en heersende speenkalfpryse waarskynlik die belangrikste is. Die regte speentyd kan onder meer die reaksie van kalwers in ’n voerkraal bepaal. Jonger (ligter) kalwers pas moeiliker aan as ouer (swaarder) kalwers, maar jonger kalwers behaal gewoonlik ’n hoër prys per kilogram. Heersende omstandighede sal die bepalende faktor wees.
Jonger kalwers se immuunstelsels is nog nie op dieselfde vlak as dié van ouer beeste nie. Daarom speel voorspeense inenting ’n belangrike rol om siektes met en direk ná speen te verminder. Voorspeense beplanning moet dus ook ’n inentingsprogram insluit teen byvoorbeeld sponssiekte, besmetlike misgeboorte (slegs verskalwers) en beeslugwegsiektekompleks (BRD). As lewenskragtige speenkalwers gelewer word wat al die nodige inentings en behandelings gekry het wat voerkrale vereis, kan die produsente dikwels ’n premie beding.
Aanvullings versterk immuniteit
Adrenalien/kortisol word tydens strestoestande afgeskei en kan die immuunstelsel van kalwers onder druk plaas. Dit verlaag hul weerstand wat hulle makliker siektes laat opdoen.
Spoorelemente kan ’n groot rol speel om die immuunstelsel te versterk en in stand te hou. Melk is oor die algemeen ’n swak bron van spoorelemente en kalwers se spoorelementstatus neem geleidelik af om teen drie maande redelik uitgeput te wees. Vetinname alleen is meestal onvoldoende om ’n optimale spoorelementstatus met speen te verseker, wat inspuitbare spoorelementaanvulling regverdig.
Navorsing wys dat die doeltreffende werking van entstowwe verbeter word deur inspuitbare spoorelemente toe te dien wanneer die kalwers ingeënt word. Dit is dus noodsaaklik dat kalwers met inenting minstens vier tot ses weke voor speen, ’n inspuitbare spoormineraal- en vitamienaanvulling kry om die immuunstelsel te optimaliseer.
Kalwers word makliker as volwasse diere deur inwendige parasiete benadeel. As ’n produsent voor speentyd al begin om inwendige parasiete te beheer, kan die speengewig van die kalwers hoër wees. Parasietvrye kalwers sal speenskok beter kan hanteer.
Uitwendige parasiete kan ook optimale groei benadeel en die kalwers onnodig aan bosluisgedraagde siektes blootstel. Dit geld veral wanneer die kalwers aan hoë stres blootgestel word en die immuunstelsel onder druk geplaas word, sê Van Niekerk.
Voordele van kruipvoer
Kruipvoer wat voor speen aan kalwers beskikbaar gestel word, bied verskeie voordele en help kalwers ook om speenskok beter te hanteer. Ilanie Wessels, ’n voedingkundige van Tau Voere, sê buiten dat dit die kalf se spysverteringstelsel bevorder en die koei ’n kans gun om vinniger in liggaamskondisie te herstel (as kalwers vroeër gespeen word), verlaag dit ook skok tydens die speenproses. Kalwers kan vroeër of swaarder gespeen word.
Melkproduksie is gewoonlik in die eerste 90 dae voldoende om maksimum groei by die kalf te verseker, maar ná hierdie tydperk is alternatiewe bronne nodig om in die kalf se behoeftes te voorsien. Terwyl die kalf slegs melk drink, is die rumen nog onaktief en moet dit gestimuleer word om te begin werk. Kruipvoer is ideaal hiervoor.
Sy sê dit is belangrik om die voedings- en geldwaarde teen mekaar op te weeg wanneer kruipvoer beoog word. Kruipvoer is wel winsgewend wanneer die kalfprys hoog en voerpryse laag is. ’n Produsent kan hom soms bankrot voer.
Dit het ook ’n groot invloed op die gewig van die kalf as die ruvoergehalte laag is en die melkproduksie van die koeie afneem, soos dikwels die geval in die laatherfs/winter is. Daarom moet al die voor- en nadele oorweeg word voordat kruipvoer sommer lukraak gevoer word.
’n Koei se melkproduksie bereik ’n piek tussen 30 en 56 dae. Daarna begin dit afneem vir die res van die laktasietydperk. ’n Kalf se dieet bestaan tot op 90 dae hoofsaaklik uit melk. Daarna sal die meeste van die kalf se voedingsbehoeftes deur die veld voorsien word, mits die veld goed is, sê sy. Kruipvoer kan dan gegee word totdat die kalf gespeen word.
Speenskok het gewoonlik ’n gewigsverlies in die eerste paar weke ná speen tot gevolg. Die verlore gewig moet dan weer met behulp van duur voeding aangesit word. Kruipvoer leer die kalwers om uit ’n krip te vreet. Dit stel hulle in staat om speenskok beter te verduur en makliker in ’n voerkraal of voorbereidingstelsel (backgrounding) aan te pas. Omdat die kalwers se rumen dan ook aangepas is om grane te verteer, sal hulle vinniger by die voerkraalrantsoen aanpas en makliker in die voerkraal presteer.
Dit is noodsaaklik dat kruipvoer wetenskaplik voorberei word om in die kalf se spesifieke behoeftes te voorsien. Raadpleeg dus liefs ’n veevoedingkundige. – Andries Gouws, Veeplaas
Vir meer inligting, skakel Colleen Purdy by 083 275 0988 of colleen.purdy@virbac.co.za, of Ilanie Wessels van Tau Voere by 076 215 5957 of ilaniew@taumeule.co.za.

