Wednesday, December 17, 2025

Frikkie Wentzel: Om te boer, is in my hart

Estimated reading time: 5 minutes

Frikkie Wentzel het tydens die Oos-Kaapse Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV Oos-Kaap) se algemene jaarvergadering in Cradock die voorsittersleisels by Niel du Preez oorgeneem. Veeplaas het met hom gesels om meer oor die produsent agter die skerms uit te vind. Hy is ’n man van min woorde wat aan die voet van die Winterberge grootgeword het.

Is jy ’n gebore en getoë Oos-Kapenaar?

Ek is in Adelaide in die Oos-Kaap gebore en moet een van die min mense wees wat kan sê tannie Alma Human, wat by my geboorte was, het my kind ook in die lewe help bring. Ek het in 1989 by Hoërskool Piet Retief op Adelaide gematrikuleer waar ek goeie tegniese ervaring opgedoen het met vakke soos houtwerk en motorwerktuigkunde.

Na skool het ek by Grootfontein Landboukollege studeer, waar ek my diploma ná twee jaar verwerf het. Daarna het ek vir ’n jaar lank diensplig in Potchefstroom gedoen en van daar af is ek Grahamstad toe, waar die Weermag my as natuurbewaarder in die opleidingsveld ingespan het.

Wou jy altyd boer?

Beslis. Ek wou van jongs af boer en het altyd uitgesien na naweke wanneer ek huis toe kon gaan om op die trekker te klim of tussen die vee te wees. Dit was altyd lekker om tyd saam met my pa, Derick Wentzel, in die veld op die familieplaas deur te bring.

Ek boer sedert 1993 voltyds en kan myself nêrens anders sien as op die plaas nie. Dit is ’n familieboerdery waarin ek en my pa saam met my neef, Louis Wentzel, boer. Sy pa, Rex, was deel van die boerdery, maar hy is ongeveer twee jaar terug oorlede. My pa boer self nog op die ouderdom van 82 jaar en dit is ’n groot seën om hom nog hier by ons te hê.

Vertel vir ons van jou boerderyvertakkings

Ons boer nog al die jare met wolskape, en die ideale bouvorm vir ons plaas is ’n medium-tipe skaap wat gemiddeld tussen 18 en 19,5 mikron wol lewer. Ons wil eintlik ’n bietjie fyner gaan en is stadig maar seker besig om dit af te bring en terselfdertyd ons skape se grootte, wolhoeveelheid en -lengte te behou. Verder het ons ’n groot vleisbeeskomponent op die plaas, asook ’n klompie Boerbokke wat ’n goeie inkomste genereer wanneer ons hulle in November en Desember verkoop.

Wanneer skeertyd op die plaas aanbreek, is Frikkie feitlik permanent in die skeerhok om toe te sien dat die skeerproses, wolsortering en -verpakking seepglad verloop.

Grootste struikelblokke wat jou boerdery moes oorkom?

Toe ek destyds op skool was, is die plaas deur ’n groot droogte en sedert ek boer, het ons nog drie ernstige droogtes deurstaan. In hierdie stadium knyp die ekonomie maar ’n bietjie en die grootste rede daarvoor is die produksiepryse van wol en vleis wat eenvoudig nie tred hou met stygende insetkoste, brandstofpryse, Eskom-tariewe, en minimumlone nie.

Wat is dit grootste probleme wat wolskaapboere in jou omgewing in die gesig staar?

Hartwater, predasie en veediefstal. In ons omgewing sukkel ons met veesiektes soos hartwater wat veroorsaak dat die vee gereeld gespuit moet word. Ongediertes bring soms veeverliese mee, en wat veediefstal betref, het ons goeie sekuriteit wat my maandeliks ’n lywige som geld uit die sak jaag.

Ons probeer dus alles in ons vermoë om ons inkomste te verhoog en uitgawes te sny. Ons het onlangs ’n baie nat seisoen gehad, iets wat nie altyd ’n wolskaap se maat is nie. ’n Aangepaste skaap sal altyd beter presteer, en daarom is dit belangrik om met die regte tipe skaap te boer en streng seleksie toe te pas.

Wenke vir medeboere oor hoe om die beste uit ’n wolskaap te kry

Om die beste uit jou skape te kry, moet jy baie goed na jou diere kyk. Hul gesondheid is ’n prioriteit en wanneer dit nodig is, moet die regte hoeveelhede mineraalaanvullings en vitamiene toegedien word. Danksy die beskikbaarstelling van hulpmiddels en tegnologie, kan ’n boer werklik nie meer deesdae sê hy het nie geweet nie. Op hierdie punt wil ek graag ’n lansie breek vir die gratis en puik dienste wat die NWKV se produksie-adviseurs aan die lede van die NWKV lewer, om die waarde van hul wolskape te help ontsluit.

Wat beskou jy as ’n brandpunt vir die NWKV Oos-Kaap?

Dit is werklik van absolute belang vir die produsente in die provinsie om by georganiseerde landbou en bedryfsorganisasies soos die NWKV betrokke te raak. Hoe meer lede die NWKV het, hoe makliker kan die organisasie sekere take en funksies uitvoer, en hoe beter word die wolprodusent van Suid-Afrika verteenwoordig wanneer dit werklik saak maak.

Hoe sien jy jou rol as voorsitter?

Met my bestuur se hulp en ondersteuning, wil ek graag help om die NWKV uit te bou tot die beste bedryfsorganisasie in die Oos-Kaap. Een van die belangrike funksies van die NWKV, en iets wat my na aan die hart lê, is om die wolprodusente te help bemagtig met die beste kundige raad.

Die NWKV bestaan slegs uit produsente, want wie kyk beter na jou eie belange as jyself? Ons ervaar soms teenkanting vanuit sekere oorde en ’n goeie voorbeeld daarvan is om bestuurslede te vind wat ’n passie het om die wolbedryf te dien en bereid sal wees om die NWKV in hul omgewing te verteenwoordig. Verder is dit ook op ons agenda om die NWKV se ledelyste in die provinsie op datum te bring.

Wat is jou boodskap aan wolboere?

  • Ons moet vashou aan ons wolskape. Dit is geharde diere wat altyd hul kant sal bring.
  • Seleksie vir vrugbaarheid moet nooit onderskat word nie. Onthou, ’n vrugbare dier sal altyd meer waardevol wees as net ’n wolvag of ’n kilogram vleis.
  • Suid-Afrika se wol word gereken as die bes-geklasseerde skeersel ter wêreld en ons moet hierdie status koester en bewaar.
  • Daar is ’n gesegde wat lui: ’n Boer se oog maak die skape vet, en goeie bestuur word gekenmerk aan ’n boer se teenwoordigheid in die skaapkraal en skeerhuis.
  • Laastens is dit belangrik om die insetkoste op die plaas so laag as moontlik te hou sonder om jou skape se welsyn af te skeep.

– Carin Venter, Plaas Media

Vir meer inligting oor lidmaatskap en dienste by die NWKV, kontak 041 365 5030 of nwga@nwga.co.za.

Must read

Chubby Chick: Verdagte aangekla vir dubbele moord

Estimated reading time: 3 minutes Die 73-jarige verdagte, wat verbind word met die Chubby Chick-skietvoorval vroeg in November, is steeds onder polisiebewaking in ’n hospitaal...

RSG Landbou – 16 Desember 2025

In vandag se RSG Landbou gesels ons oor handelsooreenkomste met Wolfe Braude van Agbiz en dr Ben Greyling van die Landbounavorsingsraad bespreek die wenners...

Wheat farmers financially strained as Section 7 investigation looms

Estimated reading time: 5 minutes The Wheat Forum has applied for the establishment of a Section 7 Committee to conduct a comprehensive investigation into the...

Agri X Fusion 2026 to align research and industry for the future of South...

Estimated reading time: 2 minutes Agri X, in partnership with the North-West University (NWU), will host the Agri X Fusion Red Meat Value Chain Event...

RSG Landbou: 15 Desember 2025

In vandag se RSG Landbou gesels Agbiz oor hulle fokuspunte vir 2026, ons vind uit wie die 2025 Nasionale Meestersuiwelboer wenners is en dr...