Estimated reading time: 7 minutes
Die Sandveld-aartappelkwekersorganisasie (Sako) het sy jaarvergadering in die NG Kerksaal in Lambertsbaai gehou. Van die vernaamste onderwerpe wat bespreek is, is ondergrondse water in die Sandveld, die regulerende omgewing waarbinne landbou moet funksioneer, klimaatsverandering en hoe dit landbou in die Sandveld beïnvloed, die Aartappel Suid-Afrika-toepassing, aartappelpryse, sowel as produksie- en bemarkingstendense.
Monique Coetzee, voorsitter van Sako, het gesê in die Sandveld draai alles rondom water. Deurlopende navorsing deur Sako en weerstasies verskaf data wat boere in staat stel om water te bespaar en beter te boer. In dié opsig neem Sako se werkgroep die leiding om beter praktyke te ontwikkel.
Kommer oor watergebruik
Coetzee het haar kommer oor ’n ekologiese reserwebepaling van die Sandveld se waterbronne deur die Departement van Waterwese en Sanitasie uitgespreek. Die voorlopige bevindinge van die studie kan ’n negatiewe impak op die voortbestaan van aartappelboerdery in die Sandveld hê.
Daarom het Sako vir Aartappels Suid-Afrika (ASA) en Agri Wes-Kaap gevra om kommentaar daarop te lewer om die moontlike ekonomiese gevolge van die verslag aan die departement uit te wys. “Die departement is tans besig om die finale verslag vir publikasie in die Staatskoerant voor te berei, het Coetzee gesê.
Volgens haar doen die geohidrologie-maatskappy GEOSS onder leiding van sy besturende direkteur, Julian Conrad, al vir 30 jaar ondergrondse watermonitering in die Sandveld. Vanweë die komplekse aard van die gebied verskil die beskikbaarheid en die gehalte van die water aansienlik tussen die verskillende dele van die Sanveld. Dit is daarom noodsaaklik om die gebied in individuele sones te bestudeer.
“’n Oorhoofse aanbeveling kan nie vir die hele gebied gemaak word nie. Dit is van kardinale belang dat deurlopende monitering gedoen word om waterbestuur te verbeter, en ingeligte en doelgerigte besluite te neem,” het Coetzee gesê.
Eiendomsreg bring vooruitgang
Annelize Crozby, Agbiz se hoof van regsintelligensie, het op die vergadering gesê die beskerming van eiendomsreg is belangrik omdat dit ’n hoeksteen van ons kapitalistiese stelsel en demokrasie is, en ’n belangrike rol in ekonomiese ontwikkeling en beleggingsvertroue speel. “As jy wil hê al jou mense, ryk en arm, moet beter daaraan toe wees in terme van hul hoeveelheid besteebare inkomste, dan moet jy die hoogste moontlike mate van beskerming aan eiendomsreg verleen.”
Hou dié wet fyn dop
Crosby het gesê daar was in die verlede baie radikale voorstelle wat eiendomsreg in gedrang kon bring, maar gelukkig het baie min daarvan ’n werklikheid geword. Die wetgewing wat nou potensieel ’n negatiewe impak kan hê en mooi deur die landbou dopgehou moet word, is die Wetsontwerp op Billike Toegang tot Grond.
Sy is bekommerd dat daar in dié wetgewing onteieningsbevoegdhede vir herverdelingsdoeleindes ingeskryf kan word. Op hierdie stadium is daar nog nie wetgewing wat onteiening vir herverdeling magtig nie. “Die Wetsontwerp op Billike Toegang tot Grond gaan ’n herverdelingswet wees, daarom sal ’n mens baie mooi moet kyk vir watter tipe van herverdeling onteieningsmagte alles toegeken kan word,” het Crosby gesê.
Onteieningswet het gevare
Volgens Crosby is die Onteieningswet nog nie in werking nie, hoewel dit geteken is. Sy staan daarby dat dit ’n prosedurele wetgewing is. “Die wet gee nie nuwe onteieningsbevoegdhede aan enigiemand nie. Die onteieningsbevoegdhede, met ander woorde die mag om te kan onteien vir ’n spesifieke doel, sit al lankal in ’n klomp stukke ander wetgewing. Dit is nie iets nuut nie.” Al wat verander is dat almal nou die prosedure wat in die nuwe wet voorgeskryf word, moet volg. Hierdie prosedure is heelwat moeiliker vir die staat en die onteieningsgesag as die prosedure in die 1975-wet.
Die gevare van die Onteieningswet lê in die definisie van onteiening wat te eng is en die R0-vergoedingklousule, omdat dit ’n deur ooplaat dat die Wet ook vir ander doeleindes gebruik kan word as die goed wat in die wet gelys word.
”Landbou-organisasies moet hier proaktief optree om seker te maak boere word ondersteun as hul grond onteien word, en die boer en die staat in dispuut is oor die prys wat die staat aanbied. Die boer moet dan hof toe gaan – dit is die enigste uitweg. Dit is goed dat die hof beslis, maar dit kos geld. Hierdie litigasie moet op ’n manier befonds word en daar sal toetssake gemaak moet word rondom die litigasie, het Crosby gesê.
regsintelligensie.
Meer geld met elektroniese aartappel
Aartappels Suid-Afrika (ASA) het ’n elektroniese aartappel wat boere kan gebruik om deur hul paklyn te sit om uit te wys waar aartappels moontlik op die paklyn beskadig kan word. Boere kan dan aandag aan hierdie plekke op die paklyn gee om skade aan die aartappels te voorkom en so meer geld maak, het FP Coetzee, ASA se hoof van inligting, op die vergadering gesê.
Alles gaan oor handelsmerk en gehalte, het Coetzee gesê. “Aartappels met relatief min meganiese skade kan R5 tot R10 per sakkie meer as aartappels met baie meganiese skade behaal. Teen ’n verskil van R10 per sakkie is dit R35 000 per vrag (‘link’) wat jy verloor.”
Swak voorraadbestuur lei tot reuseverlies.
Volgens Coetzee is voorraadbestuur op markte van kardinale belang en het boere die afgelope paar jaar miljoene rand weens swak voorraadbestuur verloor. Hy het twee gevalle uitgelig. Eerstens het hy 2022 met 2024 vergelyk. Hoewel die lewerings in die twee jaar met net een miljoen 10kg-sakies verskil het, was die prys in 2024 meer as R20 per sakkie hoër.
Coetzee het gesê die beter prys kan aan beter voorraadbestuur in 2024 toegeskryf word. Dit is algemeen bekend dat enigiets bo 800 000 sakkies per dag beteken die markte is oorvoorsien. In 2022 was die markte 5,1 dae per week oorvoorsien en in 2024 net 2,7 dae. Hoe meer dae per week wat meer as 800 000 sakkies voorsien word, hoe meer sal die negatiewe reaksie op die prys wees.
”As die twee jare met mekaar vergelyk word, dan het die bedryf byna R500 miljoen verloor omdat die voorsiening aan die markte nie goed bestuur is nie,” het Coetzee gesê. Dieselfde het in 2024 in week 41 tot 46 gebeur. “Die prys het oor ’n kwessie van ses weke met 172% gestyg, maar omdat die Noorde se boere nie inligtingsvergaderings bygewoon het en nie ingeligte besluite kon neem nie, het hulle die mark oorvoorsien en het die prys binne twee weke met 199% geval. Dit was gelykstaande aan ’n verlies van R250 miljoen vir die bedryf van week 41 tot 46,” het Coetzee gesê.
Sandveld word warmer en droër
Stephanie Midgley, spesialiswetenskaplike vir klimaatsverandering by die Wes-Kaapse Departement van Landbou, het gesê die Weskus (Sandveld) het ’n baie stabiele klimaatstelsel oor die lang termyn, maar met klimaatsverandering kom die stabiliteit van die stelsel in gedrang en is die stelsel baie kwesbaar. Die gebied raak warmer en dit is interessant dat die verwarming van minimumtemperature in die nag en nie in die dag, plaasgevind het.
Langtermyn studies oor reënval dui op groter uitdroging gedurende die herfsmaande. Die rede daarvoor is die winter se frontale winterreënvalstelsels wat later as tevore kom. Gevolglik begin die reënvalseisoen later.
Droogte-risiko groter
Volgens Midgley is die risiko van ’n matige droogte in die Wes-Kaap reeds op van een in tien jaar tot twee in tien jaar, en in die toekoms kan dit selfs vermeerder tot vyf in tien jaar. “Die risiko’s vir rampe word al groter. Ons moet meer aandag aan rampbestuur gee, en sorg dat ons die risiko’s beter verstaan en goed in plek sit om die skade te verminder.”
Sy het gesê klimaatsverandering lyk baie erg. “Ons is bekommerd daaroor, maar sien dat boere reeds baie van die maatreëls implementeer wat ons as noodsaaklik beskou om by klimaatsverandering aan te pas. As hulle dit op ’n ekonomiese en volhoubare manier doen, sal dit met verloop van tyd vrugte afwerp,” het Midgley gesê. – Hugo Lochner, Plaas Media


