Friday, December 13, 2024

SA wild- en jagbedryf nou feller onder skoot

Estimated reading time: 7 minutes

  • Die aanslae van ekstremiste wat gekant is teen die volhoubare privaatbewaring en benutting van natuurlewe, word al hoe heftiger.
  • In ’n ontwerp-witskrif word voorsiening gemaak vir die onteiening en nasionalisering van alle wildlewe, habitat en grond onder die dekmantel van bewaring.
  • Dit lyk of die regering wil terugdwing om produsente van hul eienaarskap van wild en selfs sommige grond te ontneem.
  • Landelike gemeenskappe gaan nie toelaat dat hul grond in bewaringsgebiede omskep word wat middelmatig presteer nie.

Onderwyl die Suid-Afrikaanse wild- en jagbedryf nog besig is om kop op te tel ná die terugslae van ’n ernstige, langdurige droogte en die Covid-pandemie, raak die aanslae van ekstremiste wat gekant is teen die volhoubare privaatbewaring en benutting van natuurlewe, al hoe heftiger.

Onder die dekmantel van ’n ver-Afrikaniseerde benadering van bewaring, mik die Suid-Afrikaanse regering nou ook om die florerende bedryf uit die landelike bevolking se hande te neem. In ’n ontwerp-witskrif word voorsiening gemaak vir die onteiening en nasionalisering van alle wildlewe, habitat en grond onder die dekmantel van bewaring en die voorwendsel dat biodiversiteit ’n gesamentlike erfenis vir almal is.

Die bedryf kan nie gerus wees nie, sê prof Peet van der Merwe van die Skool vir Toerismebestuur aan die Noordwes-Universiteit. Sy indruk is dat die aanslae feller raak en dat daar nou op veldslae gekonsentreer moet word om uiteindelik die oorlog te kan wen.

Lees meer oor die wildvleisbedryf in Suid-Afrika.

Hy sê al die pilare waarop die bedryf gebou is, herstel goed ná die uitdagings van die afgelope paar jaar. Ten opsigte van jag en ekotoerisme is die bedryf baie afhanklik van buitelanders, en dit is waar die ekstremiste nou die besigste is. Opleiding en inligting om gewone buitelanders te vergewis van wat Suid-Afrikaanse wildboere vir bewaring doen, is nou dringend noodsaaklik.

Die groepe wat teen trofeejag gekant is, wil dit verbied hê, maar bied geen oplossing oor hoe benutting die bewaring van wild moet finansier en getalle moet beheer nie.

Suid-Afrikaanse produsente het sowat 31 jaar gelede eienaarskap van die wild op hul plase gekry. Skielik het die wild, wat mededingers van vee vir weiding was, ’n waarde gehad en het die produsente daarmee begin woeker. Vandag is daar meer wild as in enige tyd in die vorige eeu, bedreigde spesies is gered en van die sogenaamde rooilys verwyder, en ondanks die welslae wat daar vir die hele wêreld is om te sien, wil mense in die buiteland, wat baie min hiervan weet, voorskryf hoe dinge hier gedoen moet word.

Leer meer oor die nuutste wetgewing oor jag met honde hier.

Kommer oor nuwe wetsontwerp

Peet sê hy is ook baie bekommerd oor die Ontwerp-witskrif oor die Bewaring en Volhoubare Benutting van Suid-Afrika se Biodiversiteit (die OWS). Dit lyk vir hom al te veel of die regering wil terugdwing om produsente van hul eienaarskap van wild en selfs sommige grond te ontneem, ’n stelsel wat beslis nie gewerk het nie.

In ’n opsomming van die OWS, wat meer as 100 bladsye beslaan, word die oogmerk gestel om ’n oorhoofse beleid daar te stel wat die belange van al die mense in ag sal neem, die biodiversiteitsvertakking doeltreffend sal transformeer, en billike sosio-ekonomiese ontwikkeling wat op die land se ryk biodiversiteit gegrond is, te bevorder.

Wildbedryf Suid-Afrika (WRSA) deel Peet se kommer. Gerhard Heyneke, voorsitter, en Richard York, hoofbestuurder van WRSA, sê soos die OWS nou daar uitsien, is dit ’n belediging vir landelike gemeenskappe. Dit sal dié mense ontneem van hul regte om vrye keuse uit te oefen oor hoe hul grond besit, bestuur en benut word, onder die voorwendsel van ‘beskerming’ en ‘openbare belang’.

Dit kom neer op ’n onteiening, nie van fisiese bates nie, maar van hierdie wildeienaars se vryheid om wild privaat te besit. Kommunale grond is nie staatsgrond nie en moet bestuur word tot die beste voordeel van die mense wat van dié grond afhanklik is.

Die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing het geen poging aangewend om die National People and Parks Community Association (NPPCA), die mees verteenwoordigende organisasie van belanghebbendes in biodiversiteitsbewaring, by die opstel van die dokument te betrek nie.

Lees meer oor hoe om uitmuntende koeilyne te kry hier.

Net ’n paaibeleid

Die OWS word nou as ’n beweging na ’n ver-Afrikaniseerde benadering van bewaring voorgehou, maar vir WRSA is dit ’n Westerse diereregte-beleidsdokument wat ontwikkel is om die Europees-gedomineerde dierewelsynsforum van die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid te paai. ’n Forum wat teen handel, volhoubare benutting en die betekenisvolle voordele voortspruitend uit wildlewe en wildprodukte, gekant is. ’n Forum wat daarteen gekant is dat gemeenskappe voordeel kan trek uit wildlewe en eerder wildlewe waardeloos wil maak.

In die dokument word gemeenskappe, wat tot nou toe grootliks ontmagtig is ten opsigte van eienaarskap, bestuurstelsels en besluitneming rondom die potensiële voordele van hul grond, as sleutelrolspelers genoem. Daar is egter geen voorstelle of aanbevelings oor hoe beplan word om dié beperkings te oorkom nie.

Die belangrikheid daarvan om transformasie in die bedryf te versnel deur toegang en eienaarskap aan die gemeenskappe, Afrikane, vroue en jeugdige entrepreneurs te gee om die volle waarde en potensiaal van die ekostelsel te ontsluit, word beklemtoon.

Volgens WRSA is daar min verskille tussen die huidige OWS en ’n soortgelyke een wat in 1997 gepubliseer is. In die huidige dokument word groot gewag gemaak van vroue en die jeug. Sover dit vroue aangaan, is ál verskil egter dat hul pligte om vuurmaakhout, boumateriaal, medisyne en kos aan te dra, in die nuwe OWS nou ook insluit dat hulle water moet aandra. Dit weerspieël ’n algehele afwesigheid van respek vir die rol van vroue en hul regte om onder meer gelyke geleenthede te hê, grond te besit en in al die voordele van die breër gemeenskap te deel.

Geen praktiese strategieë nie

In die OWS word talle uitdagings en risiko’s genoem, maar geen planne voorgestel van hoe dié probleme die hoof gebied gaan word nie. Van die uitdagings wat voorsien word, is persepsies van oorregulering, oorbestuur, asook sogenaamde onverantwoordelike en onvolhoubare jag- en ekotoerismepraktyke wat die bedryf en Suid-Afrika se beeld kan skaad.

Reëlings ten opsigte van grondgebruik en die eienaarskap van wild en grond gaan Salomo se wysheid verg. Ongelyke toegang tot natuurlike hulpbronne en die swak vertoning van staatsbeheerde bewaringsgebiede gaan ook ’n groot kopseer veroorsaak.

Ondanks die feit dat agt oogmerke in die vooruitsig gestel word wat grootliks op transformasie, bewaring en volhoubare gebruik fokus, is daar geen strategie in die OWS oor hoe die regering die uitdagings en risiko’s gaan gehanteer nie.

Belanghebbendes nie betrek nie

Landelike gemeenskappe gaan nie toelaat dat hul grond in bewaringsgebiede omskep word wat middelmatig presteer, terwyl hulle die reg van eienaarskap oor die grond en wildlewe ontneem word nie.

Die dokument beklemtoon dat biodiversiteit ’n algemene erfenis is en dat dit beskerm, bestuur en gebruik moet word tot almal se voordeel. Daar is egter ook ’n behoefte om te verseker dat die openbare belang beskerm word wat die welsyn van wilde diere in privaatbesit insluit, en dat die private en openbare belang gebalanseerd moet wees.

WRSA voel egter wildlewe en die habitat van wildlewe wat deur gemeenskappe besit word, aan die gemeenskappe behoort. Sulke gemeenskappe moet die basiese reg hê om betrek te word by besluite wat hulle raak.

Eienaarskap, beheer en hulpbronne

In die OWS word daar nie ’n onderskeid getref tussen die staat se regstreekse bewaringsverantwoordelikhede en -gebiede, en die ontluiking van wildlewe as ’n ekonomiese opsie op privaat- of gemeenskapsgrond nie. Trouens, daar word nie eens erkenning gegee dat wildboerdery op sekere grond die hoof bedryfsvertakking is nie. Wildboerdery word bloot gesien as ’n neweproduk van ander ekonomiese bedrywighede.

Die NPPCA onderskryf die verklaring van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG), wat ’n nuwe ooreenkoms vir landelike gemeenskappe, wildlewe en natuurlike hulpbronne behels. WRSA sê hulle het die vermoë om dié nuwe ooreenkoms self vorentoe te neem indien hul regte van eienaarskap, beheer en die gebruik van natuurlike hulpbronne erken en gerespekteer word, en hulle as aandeelhouers, en nie net as belanghebbendes nie, kan deelneem.

Die gemeenskappe van Afrika stel voor dat die regte van gemeenskappe ten opsigte van eienaarskap en hulpbrongebruik erken en versterk word, dat plaaslike vermoë opgebou en ondersteun word om dit reg te doen, dat gemeenskappe se stemme gehoor word, plaaslike kundigheid en kennis gerespekteer en toegepas word, beleggings gelok word en dat die gebruik om goed vír gemeenskappe te doen verander word om goedbestuurde gemeenskappe van geld te voorsien om dit sélf te doen, sê WRSA. – Andries Gouws, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak die WRSA by 012 335 6994 of members@wrsa.co.za, of besoek www.wrsa.co.za.

Popular stories