Jongste wetgewing oor jag met honde

Estimated reading time: 5 minutes

  • Die kwessie random onwettige jag met honde duur voort, Dr Jane Buys, veiligheidsrisiko-ontleder van Vrystaat Landbou, sê die praktyk hou ‘n bedreiging in vir wild en vee.
  • In die meeste gevalle is die motief om kos te bekom, maar dit het ook in ’n tipe sportsoort (sogenaamde trofeejag) ontaard waar groot geld ter sprake is vir die hond wat die meeste wild vang.
  • Die polisie word egter voortdurend aangespoor om klagtes in voorvalleboeke aan te teken en ’n saakdossier te open.
  • Francois Rossouw, uitvoerende hoof van die netwerkorganisasie Saai, sê onwettige hondejag het die afgelope dekade toegeneem.
  • Volgens die Lane-riglyne is betreding die mees voor-die-hand-liggende oortreding as dit by onwettige hondejag kom.

Die kwessie rondom onwettige jag met honde duur voort en bly ’n toenemende probleem op plase. Dr Jane Buys, veiligheidsrisiko-ontleder van Vrystaat Landbou (VL), sê jagters wat eiendom onwettig betree en wild en vee jag hou ’n bedreiging in vir spesies, terwyl skade aan infrastruktuur aangerig word.

In die meeste gevalle is die motief om kos te bekom, maar dit het ook in ’n tipe sportsoort (sogenaamde trofeejag) ontaard waar groot geld ter sprake is vir die hond wat die meeste wild vang.

Die polisie se rol

Sy sê as gevolg van die polisie se reaksietyd, tekort aan voertuie en die feit dat dit nie as ’n ernstige misdryf beskou word nie, word voorvalle grotendeels nie aangemeld nie. Die polisie word egter voortdurend aangespoor om klagtes in voorvalleboeke aan te teken en ’n saakdossier te open.

In die lig hiervan het adv Leandra Lane van die polisie se regsdienste ’n provinsiale riglyn vir polisiekantore in die Vrystaat opgestel. Relevante wetgewing met betrekking tot misdrywe in hierdie verband word hierin uitgelig. Agri SA het ’n regsdokument op nasionale vlak vir provinsiale affiliasies daargestel.

Volgens dr Buys verwys die polisie (insluitend die minister) geensins na statistieke of voorvalle van onwettige hondejag nie, grootliks omdat die omvang en impak daarvan nie bepaal kan word nie. Dit is deels weens ’n verskeidenheid klagtes wat betrekking het en die feit dat daar nie een misdryfkode op die misdaad-administrasiestelsel daarvoor bestaan nie. Dit kan verkeerdelik geïnterpreteer of uitgewys word dat daar nie ’n groot probleem in hierdie verband is nie, terwyl dit wel die geval is.

Lees meer oor die nuwe opleidingsplanne vir professionele jagters.

Wetgewing van belang

Francois Rossouw, uitvoerende hoof van die netwerkorganisasie Saai, sê onwettige hondejag het die afgelope dekade toegeneem. Volgens dié organisasie se regspan, by monde van adv Johan Hamman, is die reg ten opsigte van hierdie omstrede onderwerp ’n mynveld.

Adv Hamman, ‘n kenner van grondeise en verblyfregte, sê remedies vir boere word grootliks deur dikwels verouderde provinsiale wetgewing bepaal wat steeds melding maak van voormalige provinsies soos Transvaal. Dít terwyl daar vandag vier provinsies in dié voormalige gebied voorkom. Dit moet ook in ag geneem word dat die voormalige tuislande (soos Transkei, Bophuthatswana, Venda en Ciskei) vir lank nie as deel van die ou provinsies erken is nie. Hierdie verouderde wette is dikwels radikaal.

Aspekte soos dié laat die deur oop vir nuwe moontlike dispute. Daar moet dus versigtig met hierdie verouderde wette omgegaan word, omdat dit dalk nie ’n toekomstige grondwetlike toets in ’n hof kan deurstaan nie.

Volgens hom kan daar dus nie genoeg beklemtoon word dat produsente voor enige optrede, sekerheid oor hul regsposisie moet kry nie. Die regsimplikasies kan verskillend op twee afsonderlike plase in verskillende gebiede wees. In hierdie verband moet presies vasgestel word in welke gebied ’n plaas voorkom en of ’n nuwe provinsie dalk die verouderde ordonnansie in die nuwe afgebakende gebied herroep het.

Lees meer oor die onwettige gebruik van honde met jag hier.

Tipes verwante oortredings

Volgens die Lane-riglyne is betreding die mees voor-die-hand-liggende oortreding as dit by onwettige hondejag kom. Ingevolge die Wet op Oortreding, 1959 (Wet 6 van 1959) is ’n persoon skuldig aan ’n misdryf as grond betree word of as eiendom betree word sonder die toestemming van die wettige okkupeerder, eienaar of persoon in beheer daarvan. Die Wet op Veediefstal, 1959 (Wet 57 van 1959) (Veediefstalwet) en die Wet op Diefstal van Wild, 1991 (Wet 105 van 1991) (Wilddiefstalwet) bevat soortgelyke bepalings ten opsigte van persone wat grond betree met die doel om vee of wild te steel.

Volgens hom bepaal Artikel 4 van die Veediefstalwet dat dit ’n misdaad is om ’n toegespande eiendom of kampe te betree met die doel om vee of gedomestifiseerde wild te steel. Hy sê Artikel 3 van die Wilddiefstalwet bepaal dat dit ’n misdaad is om wild te steel of weg te lok. Die teenwoordigheid van honde vir die pleeg van hierdie misdaad is irrelevant.

Artikel 2 van die Dierebeskermingswet, 1962 (Wet 71 van 1962) maak voorsiening vir ’n misdryf wat verband hou met onwettige hondejag en bepaal dat enige persoon wat ’n dier aanhits of uitlok om ’n ander dier aan te val, aan ’n misdryf skuldig sal wees. Hy sê daar is in die meeste provinsies nuwer natuurbewaringsregulasies waarin jag met honde geheel en al verbied of streng gereguleer word. Win dus in alle gevalle regsadvies in.

Lees meer oor die nuutste verwikkelinge in die jag- en wildbedryf.

Laaste gedagtes

In ’n regsinligtingsdokument van Agri SA word grondeienaars aangemoedig om konfrontasie te vermy. Moenie skiet (mens of hond) tensy die gevaar vir ernstige beserings bestaan nie.

Vang en lewer honde sover as moontlik aan die Dierebeskermingsvereniging (DBV) uit. Die doodmaak van ’n hond om wild of vee te beskerm kan ’n siviele eis van kwaadwillige saakbeskadiging tot gevolg hê.

Onwettige jagters moet gewaarsku word dat hulle oortree. Enige verdagte aktiwiteit moet by die polisie aangemeld word en bewyse moet op die misdaadtoneel vir die polisie bewaar word. – Christal-Lize Muller, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak jane@vslandbou.co.za, of francois@saai.org of Saai se WhatsApp-nommer 066 071 6094.

Popular stories