Tuesday, January 13, 2026
HomeAgri NewsRosynbedryf sterk en vol selfvertroue

Rosynbedryf sterk en vol selfvertroue

Estimated reading time: 7 minutes

In ’n tyd van wêreldwye onsekerheid, plaaslike uitdagings, en toenemende internasionale vereistes, wys Suid-Afrika se rosyntjiebedryf dat volhoubare groei, gehalte, en aanpasbaarheid hand aan hand kan loop.

Tydens ’n Raisins SA/FNB Landboupraatjie, wat by die Upington-landbou-ekspo plaasgevind het, het ’n paneel kenners en bedryfsleiers hul insigte oor produksievooruitsigte, bemarkingsgeleenthede, ESG-vereistes, en logistieke werklikhede gedeel. Wat duidelik geword het, is Suid-Afrikaanse rosyntjies het die potensiaal om wêreldwyd uit te staan.

Rekord rosynoes

Vir die eerste keer in die geskiedenis het Suid-Afrika se rosyntjie-oes vanjaar die kerf van 100 000 ton verbygesteek. Die volgende mikpunt van 150 000 ton rosyne is volgens die bedryf baie haalbaar sonder dat meer grond noodwendig onder wingerd hoef te kom. Beter produksiepraktyke, kultivars met ’n hoër opbrengs per hektaar, en beter waterbenutting bring hierdie teiken binne sig.

Rosyntjies word hoofsaaklik langs die Oranjerivier in die Noord-Kaap en die Olifantsrivier in die Wes-Kaap verbou. Omdat daar min peste en plae in dié gebiede voorkom, is daar bitter min neerslae van ongewenste chemikalieë in die rosyntjies. Daarom word daar klaar aan die meeste vereistes ten opsigte van ’n veilige produk op internasionale markte voldoen.

Wessel Lemmer, uitvoerende hoof van Raisins SA, het die bal aan die rol gesit om sake soos volhoubaarheid, wêreldbeleid ten opsigte van voedselsveiligheid, mededingendheid in die internasionale markomgewing, en die uitvoer-logistiek van landbouprodukte te bespreek. Hy het 150 000 ton rosyntjies as die volgende mikpunt gestel en gesê verhoogde produksie kan met beter kultivars op bestaande wingerdgrond of met groter aanplantings bereik word. Saam met die verhoogde produksie sal markte dienooreenkomstig uitgebrei moet word.

Finansiering

Dawie Maree, hoof van landbou-inligting en bemarking by FNB, het gesê finansieringinstellings gebruik volhoubaarheid as ’n toenemend belangrike maatstaf om geld aan landbouers te leen. Om finansiële slaggate te vermy, moet boere probleme vroegtydig identifiserer en dit aanspreek. Produsente moet waak teen oordrewe optimisme, hul finansiële kennis uitbrei, en finansiële bestuur opskerp.

Hou noukeurige rekords, verminder en bestuur vaste koste, hou kontantvloei noukeurig dop, bou ’n goeie baanrekord by diensverskaffers op, gebruik kundige en ingeligte raadgewers om ingeligte besluite te kan maak, en beplan vroegtydig vir ’n opvolger vir die onderneming. Goeie kommunikasie met jou gesin en mense betrokke by die onderneming is noodsaaklik.

Gebruik die nuutste hulpmiddels en tegnologie om produktiwiteit te verhoog, fokus op die belangrike goed wat ’n mens kan beheer, en pak uitdagings by die horings.

Logistiek

Annelize Marais, nasionale vertikale bestuurder van landbou by GAC Laser, ’n internasionale logistieke maatskappy, het gesê as alles reg verloop kos die logistiek vir die uitvoer van rosyntjies sowat 10% van die produksiekoste. Alles loop egter gewoonlik nie glad nie en daar is vertragings in die meeste Suid-Afrikaanse hawens. Dit kan meebring dat die produk die mark laat bereik en swakker pryse behaal, die rente op die kapitaal kan ’n aardige bedrag beloop, en dit kan ’n nadelige invloed op die boer se kontantvloei hê. Sowat 90 tot 95% van die rosyntjie-oes word deur die Kaapstadse hawe uitgevoer waar gure weer dikwels vir vertragings sorg. Met die nodige kennis van die logistieke ketting kan dit bestuur word en kan die koste baie laer wees.

Op ’n vraag het Marais gesê die regering bestee nou geld aan die verbetering van die vervoerstelsel, maar die meeste verbeterings sal aan die bestaande hawens aangebring word. Sy voorsien ook nie dat nuwe uitvoergeriewe by Saldanhabaai binnekort gereed sal wees nie en produsente moenie te veel hoop op bespiegelings oor ’n nuwe hawe aan die Weskus plaas nie.

Die terminaal vir skeepshouers in Walvisbaai, Namibië is geprivatiseer en dit kan ’n opsie raak om rosyntjies na Afrika, Amerika, en Europa uit te voer. Sy voorspel dat die koste-prentjie van uitvoerlogistiek oor vyf jaar anders gaan lyk as nou. Mense moet kyk wat ander landboubedrywe doen wat produkte uitvoer en die goeie van daardie stelsels benut.

Jolanda Andrag, hoofbedryfsbeampte van Agri SA, het verduidelik wat die invloed van die bepalings van die Environmental, Social, and Governance (ESG)-stelsel op rosyntjieboere het. Boere kan nie hul oë daarvoor sluit nie, dit bestaan en is ’n werklikheid. Dit is een van die faktore wat ander lande, wat rosyntjies uitvoer, so negatief stem.

Die goeie nuus is dat baie van die vereistes nie vir baie SA boere nuut is nie. In die meeste gevalle sal die reëls wat vir die plaaslike boere geld ook vir ingevoerde produkte geld. Die uitdaging is dat die produksieomgewings in lande verskil en dit is belangrik om te verstaan wat dit vir die rosyntjieboer in die Noord-Kaap beteken.

Die standaarde wat in die lande geld, verander ook heeltyd en kleinhandelaars dring dikwels daarop aan om presies te weet hoe die produk verbou is met betrekking tot die vereistes van die ESG-stelsel. In die rosyntjiebedryf voldoen baie boere klaar aan baie van die vereistes en dit moet grootliks net bekendgemaak word.

Produksie

Stefan Jordaan, algemene bestuurder van die Vine Academy and Model Farm, het gesê die bedryf is baie nader daaraan om 150 000 ton rosyne te produseer as wat mense dink. ’n Paar veranderings aan die bestaande aanplanting kan die knoop deurhak.

Sowat 20% van die aanplanting van ongeveer 15 200ha is wingerde ouer as 20-jaar, en daarvan is 18% nog onder sultana-druiwe. Die gemiddelde produksie is nou sowat 6,8 ton, maar die ou sultanas is die blokke wat gemiddeld 4 ton per hektaar gee. Deur die ou aanplantings met moderne hoogproduserende kultivars te vervang kan 12 000 ton by die huidige produksie voeg.

Sowat 9% van die totale aanplanting is jonger as drie jaar en teen volle produksie kan dit ’n verdere 6 000 ton rosyntjies byvoeg. Met moderne produksiepraktyke kan die opbrengs maklik met ’n half ton per hektaar opgestoot word en dit gee ’n bykomende 4 000 tot 5 000 ton rosyntjies. Uitbreidings onder die Clanwilliamdam in die Wes-Kaap en die vervanging van swak tafeldruiwe met nuwe kultivars kan die totale rosynoes verby 150 00 ton druk.

Voedselveiligheid

Peter Kuilman, hoofuitvoerende beampte van die verwerkingsaanleg RedSun op Keimoes, sê wêreldwyd is mense bekommerd oor chemiese neerslae in landbouprodukte, maar hy glo die Suid-Afrikaanse rosyntjieboere bestuur dit baie goed en is die wêreld ver vooruit.

Tydens verskeie besoeke oorsee het hy opgemerk dat die Suid-Afrikaanse rosyntjiebedryf trots en positief oor die bedryf is, terwyl die res van die wêreld se produsente negatief en bekommerd is oor die toekoms.

Hy glo nuwe kultivars, opgeskerpte boerderypraktyke, en die vervanging van wyndruiwe met rosyntjiedruiwe gaan die bedryf binnekort by die nuwe mikpunt van ’n produksie van 150 000 ton bring.

Die gehalte van die rosyntjies wat die land produseer sal dit maklik maak om die produk te bemark. Suid-Afrika het min van die uitdagings wat ander lande se produksie knou en daarby produseer die land ’n wye verskeidenheid produkte wat aan die Fruit Safe-standaarde voldoen wat dié rosyntjies gesog maak.

Politieke omgewing

Prof Theo Venter, ’n bekende politiese analis verbonde aan die Noordwes Universiteit se besigheidskool, het gesê die politieke omgewing het ’n invloed op die rosyntjiebedryf en dit is noodsaaklik om met die regering te probeer saamwerk al hou ’n mens nie van hulle nie.

Dit het sowat ’n jaar gevat vir die regering van nasionale eenheid (RNE) om sy voete te vind. Van die begrotingsdebakel en die daaropvolgende gebeure by die Withuis in Amerika, het die politieke vennote in die regering groter insae en seggenskap in sleutelportefeuljes soos die buitelandse beleid, finansies, handel en nywerheid, en diplomatieke aangeleenthede gekry.

“Onlangse aanstelling in ’n paar sleutelposte wat voorheen vir ANC-lede bestem was, is nou gevul met mense wat daar is weens hul bekwaamheid. Dit dui op ’n meer soepel beleid,” sê prof Venter. Hy het ’n ernstige beroep op boere gedoen om by georganiseerde landbou aan te sluit omdat ’n organisasie ’n groter bedingingsmag as ’n enkeling het.

Die verhoogde invoerheffings van die Trump-regering sal moontlik verlaag word namate geskilpunte tussen die regerings aandag kry, volgens prof Venter. As die Suid-Afrikaanse regering aandag gee aan die sake wat Amerika pla, soos onder meer dat die land ’n bedreiging vir Amerika se nasionale veiligheid inhou, sal die tariewe aangepas word. Dat die aankondiging van die tariewe groot onsekerheid deur die wêreld geskep het, is gewis.

Ondanks wêreldwye uitdagings in logistiek, finansiering, en marktoegang, staan Suid-Afrika se rosyntjiebedryf sterk en vol selfvertroue. Met uitmuntende gehalte, stewige volhoubaarheidspraktyke, en tegniese aanpassings soos nuwe kultivars en verbeterde verwerking, is die mikpunt van 150 000 ton nie net haalbaar nie, maar waarskynlik. Rosyne rond en soet – met minder korrelsteeltjies – maak Suid-Afrika trots, en bevestig die bedryf se plek as ’n wêreldklas-rolspeler in die droëvrugteomgewing. – Andries Gouws, Plaas Media

Kontak gerus Raisins SA by admin@raisinsa.co.za of 054 495 0283 vir navrae.

Must Read

A breed that you like will work with you

Estimated reading time: 6 minutes Pat Bailey and his son, Wade, run a Beefmaster stud and commercial herd at Lily Park farm The farm consists of...

BEK: Wat is nuut?