Regsaanspreeklikheid ten opsigte van dieresiektes

Estimated reading time: 4 minutes

Die aanhou van vee- en ander diere is een van die boerdery-aktiwiteite wat waarskynlik die meeste plesier aan produsente reg oor die land besorg. Van die grootste vee- of wildboere tot die opkomende pluimveeboer, put genot daaruit om met die hulpbronne tot hul beskikking vir hulle diere te sorg, en met groeiende kennis die beste moontlike produksie uit hul diere te verseker.

Die aanhou van diere bring egter ook groot verantwoordelikhede mee, omdat diere besmet kan raak met oordraagbare siektes of draers daarvan kan wees, sonder om self enige siektetekens te toon. In beide gevalle kan die oordrag en/of uitbreek van dieresiektes ernstige gevolge inhou.

Regsaanspreeklikheid van eienaars

Die Wet op Dieresiektes, 1984 (Wet 35 van 1984) plaas ’n verpligting op die bestuurder of eienaar van grond waarop diere loop, asook ’n eienaar van diere, om alle redelike stappe te neem om die besmetting van diere met dieresiektes en parasiete, asook die verspreiding daarvan te voorkom, en om dieresiektes en parasiete op die plaas uit te roei.

Dit sluit in die behandeling van siek diere met voorgeskrewe behandeling wat onder die bepaalde omstandighede geskik en gebruiklik is. ’n Versuim om aan die vereistes te voldoen, kan tot strafregtelike vervolging lei.

Buiten strafregtelike vervolging, kan ’n versuim om die bogenoemde stappe te neem, veral waar dit vir ander persone, soos aangrensende bure of vee-eienaars by ’n gemeenskaplike veiling, skade veroorsaak, daartoe lei dat die eienaar van die siek diere aanspreeklik gehou word vir skadevergoeding. Dit staan bekend as deliktuele aanspreeklikheid, of aanspreeklikheid op grond van ’n delik wat gepleeg is.

Deliktuele aanspreeklikheid

’n Delik kan gepleeg word deur onregmatig op te tree of om te versuim om op te tree soos wat regtens en redelikerwys in bepaalde omstandighede van jou verwag word. Wanneer ’n persoon ’n delik pleeg en dit vir iemand anders skade veroorsaak, kan regsaanspreeklikheid vir skadevergoeding ontstaan.

Die volgende optrede of versuim om op te tree, kan regsaanspreeklikheid veroorsaak:

  • Versuim om siek diere betyds te identifiseer en te behandel. Dit sluit ’n versuim om diere op ’n gereelde grondslag te ondersoek vir die aanwesigheid van dieresiektes en parasiete in.
  • Versuim om siek diere te behandel volgens wat redelikerwys in die omstandighede nodig was, en die siekte te laat versprei na ander diere.
  • Versuim om siek diere weg van gesonde diere te hou om siekte-oordrag te verhoed.
  • Versuim om diere wat met ’n dodelike siekte besmet is, waar die omstandighede dit regverdig, van kant te maak om siekteverspreiding na ander diere te voorkom.
  • Versuim om voorsorg te tref om gesonde diere, wat wel draers van dieresiektes is, te bestuur en siekte-oordrag te keer.
  • Versuim om roetine-behandeling van diere, volgens bestaande boerderypraktyke in die omgewing waar diere aangehou word, toe te pas.
  • Versuim om enige voorkomings- en/of verspreidingsmaatreëls wat vanuit owerheidsweë en ingevolge die Wet op Dieresiektes opgelê word, na te kom.
  • Versuim om die aanwesigheid van bepaalde dieresiektes aan te meld of betyds aan te meld.

Lees meer oor Die hof se bevoegdheid om deliktuele eise te bereg.

’n Kultuur van bedagsaamheid

Die bestaan van regsvereistes wat met die aanhou van diere gepaard gaan, veronderstel ook op ’n morele vlak ’n mate van bedagsaamheid onder eienaars van grond waar diere aangehou word en eienaars van diere. Die omvang van skade wat kan ontstaan as gevolg van die oordrag en/of uitbreek van dieresiektes, kan enorm wees. By stoetvee kan dit byvoorbeeld tot gevolg hê dat onvervangbare kuddes, wat oor jare gevestig is, uitgewis moet word.

Probleme met kriminele klagtes.

Binne die bestek van die bogenoemde regs- en morele pligte, is dit noodsaaklik dat alle rolspelers in die veebedryf ’n kultuur bevorder waarin bedagsaamheid aan die dag gelê word ten opsigte van die voorkoming en bestryding van dieresiektes.

Dit dien ’n gemeenskaplike belang maar, meer belangrik, dit is die enigste manier om te verhoed dat veeboere hulself aan óf die ontvangkant van ’n vernietigende siekte, óf die aanspreeklikheidskant van ’n siviele eis bevind. – HJ Moolman, Moolman & Pienaar Ingelyf

Vir meer inligting, kontak HJ Moolman by 018 297 8799, 018 297 0397 of hj@mmlaw.co.za.

Must read

Weeklikse rooivleispryse / Weekly meat prices

Estimated reading time: 5 minutes Plaashekpryse/Farm gate prices Die jongste vleispryse word weekliks aan u gebring deur Absa en die RPO. Neem kennis dat hierdie nie...

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 32 of 2026

The weekly pork carcass prices are brought to you by the South African Pork Producer's Organisation (SAPPO). Click here for this week's report. How are these...

Landboumarkverslag: Julie 2026

Estimated reading time: 2 minutes Gedurende Julie het die rand effens verswak teenoor die Amerikaanse dollar, dit het met 10 sent verswak en Julie het...

Prime Brangus produksieveiling: Top Brangus genetika op aanbod in die Vrystaat

Estimated reading time: 3 minutes Die Suid-Afrikaanse veebedryf ervaar toenemende uitdagings wat wissel van veranderlike klimaatstoestande tot die behoefte aan maksimum doeltreffendheid op die veld....

LandbouRadio: 14 Augustus 2026

In Vrydag, 14 Augustus se LandbouRadio, kan jy uitsien na die volgende: Vandag skop ons af met 'n kraakvars landbounuusbulletin. Dr Danie Odendaal, direkteur van Veearts...