Realistiese mikpunte met behulp van ekonomiese metings

Estimated reading time: 4 minutes

  • Jongooi-klubs wat streng ekonomiese metings voorstaan is nie ’n algemene gesig by kleinveeboerderye nie.
  • Die Overberg-jongooiklub se metings het amptelik aan die einde van Augustus in werking getree en die persone wat die leiding geneem het is Ferdie Naudé van Voermol Voere en Christoff Lourens van Schietpad Merino’s.
  • Die ooie word kunsmatig geïnsemineer en nadat hulle gelam en die lammers gespeen het, word al die resultate bymekaar gesit om die totale ekonomiese inkomste van die ooie te bepaal.
  • Die produsent wat die projek bestuur, is verantwoordelik vir die ooie se kos, gesondheid, en dies meer en kry al die ooie se wol in ruil vir hierdie insette.

Jongooi-klubs wat streng ekonomiese metings voorstaan is nie ’n algemene gesig by kleinveeboerderye nie. Daarom, toe ’n voëltjie fluit dat skaapprodusente by Napier in die Overberg ’n jongooi-klub begin het wat op hierdie beginsel berus, het Veeplaas besluit om ondersoek in te stel.

Die Overberg-jongooiklub se metings het amptelik aan die einde van Augustus in werking getree en die persone wat die leiding geneem het is Ferdie Naudé van Voermol Voere en Christoff Lourens van Schietpad Merino’s. Die inisiatief word ondersteun deur verskeie borge wat elk ’n spesialisbydrae lewer om die nodige data vir ontleding in te samel.

Vind meer uit oor hoe om suurpens onder jou skaapkudde te voorkom.

Skaapboerdery in die saailande

Die Overberg is ’n saailandgebied en Lourens is van mening dat die afname in skaapgetalle in hul streek, met die regte benadering, omgekeer kan word. Hy sê skaapboerdery het beslis ’n plek en toekoms in die Overberg en dus spits die jongooi-klub hom daarop toe om elke lid se onderneming met behulp van goeie bestuur en volhoubare praktyke te verbeter.

“Daar is 15 lede en, behalwe vir finansiële beplanning en presiese meting van ware insette, fokus ons ook op die meting van elke ooi se wolproduksie, wolgroei en wollengte, speenpersentasie, bouvorm en gewig. Sodoende kan ons bepaal watter areas van die boerdery meer aandag verdien en wat wel werk.”

Produksiebepaling van individue

Hannelet Jordaan, ’n kleinveedataontleder by BKB, verduidelik die proses: “Die ooie kom op die ouderdom van tussen ses tot agt maande bymekaar en word sesmaandeliks geskeer om sodoende wolmonsters te neem en die vag se gewig te meet. Reproduksiemetings word ook gedoen.

“Die ooie word kunsmatig geïnsemineer en nadat hulle gelam en die lammers gespeen het, word al die resultate bymekaar gesit om die totale ekonomiese inkomste van die ooie te bepaal. Hierna sal die insetkoste afgetrek word om netto inkomste per ooi te bepaal. Ons wil elke individuele ooi se produksievermoë bepaal met die doel om hul wolproduksie en reproduksievermoë te optimaliseer.”

Elke deelnemer ontvang ’n verslag met ’n uiteengesette ontleding van hul diere in die groep. Jordaan benadruk dat dit nie ’n kompetisie tussen die lede is nie – dit is eerder ’n samestelling van idees en prosesse waaruit almal iets kan leer.

Faktore wat in ag geneem word by die ooie sluit in:

  • Die begin-ouderdom van ses tot agt maande met toetrede tot die groep.
  • Die diere in die groep se ouderdomsverskil mag nie meer as ses weke wees nie.
  • Dit moet ’n verteenwoordigende groep ooie wees wat deur die bank geselekteer is; dus nie net die mooiste of beste nie.

Resultate wat verkry word

  • Data rakende die verskil in wolproduksie met en sonder ’n lam.
  • Verbeterde reproduksiepotensiaal en gewigtige lammers by speen.
  • Goeie wol- en vleisproduksie.
  • ’n Groter inkomste per ooi per jaar.
  • ’n Leerskool waar produsente inligting kan deel.
  • Bepaling van invloed van liggaamskondisie en liggaamsmassa op reproduksie.
  • Vasstelling van die persentasie liggaamsmassaproduksie. (Ooie is op 4 Oktober geweeg, en die gemiddelde gewigstoename vir die afgelope maand was ‘n hele 7kg per ooi.)

Kostes en uitdagings

Die produsent wat die projek bestuur, is verantwoordelik vir die ooie se kos, gesondheid, en dies meer en kry al die ooie se wol in ruil vir hierdie insette. Laparoskopieë word op alle ooie gedoen met dieselfde geselekteerde ram. Die ooie bly die eiendom van die onderskeie deelnemende produsente, en die nageslag word die klub se eiendom. Eienaars het wel die opsie om hul ooie se nageslag te koop teen ‘n markverwante prys. Die opbrengs uit die nageslag word aangewend om die klub se kostes te dra. – Carin Venter, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Christoff Lourens by 072 264 2991, Hannelet Jordaan by 060 500 8190 of hannelet.jordaan@bkb.co.za of Ferdie Naudé by 082 934 2577 of naudef@yahoo.com.

Must read

Landbou in Noordwes verloor ‘n staatmaker

Estimated reading time: 3 minutes Landbou in Noordwes het onlangs een van sy groot geeste, wat diep spore in die bedryf getrap het, aan die dood afgestaan. Leon Bellingan, bestuurder van Agri Vryburg en...

Veesiektes aangemeld gedurende lente 2023

Estimated reading time: 7 minutes Die volgende veeartspraktyke en laboratoriums (132) het gedurende die lentetydperk van September tot Oktober 2023 veesiektes aangemeld. Mpumalanga (13) Bethal – Dr Hardus Pieters Ermelo – Dr Ben Potgieter Grootvlei – Dr Neels...

Van aartappelsiektes tot suiwel – Plaas TV bespreek dit alles

Estimated reading time: 2 minutes Hierdie week het Plaas TV weereens vir interessante kykstof gesorg en vandag is #kykweervrydag. Hier is ’n opsomming van dié week se episodes: Sponsored by Stockfarm (Plaas Media), the 2023 ARC’s National...

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 48

The weekly pork carcass price is brought to you by the South African Pork Producer's Organisation (SAPPO). Click here for this week's report. https://agriorbit.com/rooivleispryse-red-meat-prices-2/ Important notes Domestic pork carcass prices are weighted averaged abattoir purchase prices per category...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 4 minutes Johan van den Berg ken sy storie as dit by die weer kom. Hy het die afgelope week met Lise Roberts oor die nuutste weersake op RSG Landbou gesels....