Brusellose is ’n siekte wat streng beheer moet word omdat dit ’n groot gesondheidsrisiko vir die boerderygemeenskap skep. Ons kyk in dié artikel, wat op deel 1 volg, na die voorkoming en beheer van dié gevaarlike siekte.

Lees Deel 1.

Geen enkele stap kan gevolg word om Brucella-besmetting te voorkom nie. Die kompleksiteit van die siekte verg ’n totale aanslag op alle aspekte van bestuursmaatreëls.

Die eerste stap is om besmetting sover moontlik te voorkom. Plase word gewoonlik besmet deur die inkoop van besmette diere, deur weiveld te deel, weiding te huur, kontak met besmette diere op buurplase en die besoedeling van voer- en waterbakke.

Nuwe diere is dus die eerste punt om op te fokus. Maak seker dat diere van ’n gesertifiseerde negatiewe kudde gekoop word en maak seker van die hele kudde se toetsgeskiedenis. Toetse op enkele diere is nie goed genoeg nie. Koop verkieslik diere met ’n inentingsgeskiedenis – dit verhoog die immuniteit van die hele kudde.

Nuutgekoopte diere moet apart gehou word van die res van die kudde totdat twee negatiewe toetse, twee maande uitmekaar, ná kalwing gedoen is. Indien enige verse gekoop word, kan hulle status eers met sekerheid bevestig word deur ná die eerste kalwing te toets. Moenie geflous word deur ’n negatiewe toetsresultaat op ’n twaalf maande oue vers nie.

Risiko van totale kuddebesmetting

Verminder die risiko van totale kuddebesmetting. Werk in kleiner kampe met minder diere. ’n Kleiner hoeveelheid diere sal dus blootgestel word indien besmetting wel in ’n kamp voorkom. Dit maak die bestuur van daardie klein groepie diere makliker. Werk soveel moontlik met ’n vaste kalfseisoen. Dit vergemaklik weereens die bestuur van enige besmette koeie tydens die kalwingsperiode, wanneer bakterieë in die omgewing vrygestel word.

Indien ’n melkery bestuur word, maak seker dat koeie op sement of ’n ander maklik ontsmetbare oppervlak kalf. Verwyder en verbrand alle nageboortes en abortiewe materiaal. Moenie dat honde dit oor die hele plaas ronddra nie.

Teken ’n plaasdiagram wat kampe, waterpunte en die beweging van diere aandui. Dit sal help om hoë risiko groepe, soos dragtige verse, weg te hou van gebiede waar besmetting makliker kan plaasvind. Plaas eerder bulle, uitskotkoeie en speenkalwers wat vir slagdoeleindes bemark gaan word, langs grensdrade.

’n Geskikte inentingsprogram

Beplan en voer ’n inentingsprogram uit saam met jou kuddeveearts. Slegs twee geregistreerde entstowwe is beskikbaar wat beesbrusellose beheer. Die entstof alleen kan nie jou kudde teen Brucella-besmetting beskerm nie. Indien ’n koei aan ’n groot genoeg konsentrasie bakterieë blootgestel word, kan die weerstand wat die entstof verleen het, oorskry word.

Volgens wetgewing moet alle verse tussen die ouderdom van vier en agt maande teen brusellose ingeënt word. Ent so na aan vier maande as moontlik in. Dit verkort die tydperk wat die jong versie nie beskerm is nie. Geen moederlike immuniteit word deur die kolostrum van koei na kalf oorgedra nie. Skraagdosisse in ouer diere verhoog die kudde se weerstand, veral in gebiede met ’n hoë potensiaal vir besmetting.

Verantwoordelike optrede

Indien toetse wys dat besmetting op die plaas voorkom, tree onmiddellik op. Neem verantwoordelikheid vir dit wat op jou plaas gebeur en moenie toelaat dat iemand ’n vinger na jou kan wys nie. Laat slag besmette diere onder ’n rooikruispermit wat deur die staat uitgereik work. Dit stel die abattoir van die status van die dier in kennis sodat personeel hulself teen moontlike besmetting kan beskerm.

Laat toets die res van jou kudde elke 30 dae om so vinnig as moontlik alle besmette diere te identifiseer.

Brucella-toetse is nie 100% akkuraat nie en gereelde toetse moet gedoen word om positiewe diere te identifiseer.

Om van brusellose ontslae te raak, is nie ’n vinnige en maklike proses nie. Dit neem tyd en deursettingsvermoë, maar dit is die moeite werd. –dr Chriche du Plessis, MSD Dieregesondheid

Vir meer inligting, skakel MSD Animal Health by 011 923 9300 of besoek www.msd-animal-health.co.za.

***

Die Nasionale Dieregesondheidsforum het einde 2016 hulle splinternuwe webwerf bekendgestel, wat as platform vir die deel van noodsaaklike inligting en skakeling met kundiges kan dien. ‘n Baie belangrike fokus van die webtuiste is om kennis oor Brusellose te deel. Besoek www.nahf.co.za vir meer inligting. 
Lees hier nog oor Brusellose op AgriOrbit.

***
Luister hier na ‘n potgooi oor Brusellose: