Plofbare brandseisoen lê voor

Estimated reading time: 3 minutes

Alles dui daarop dat vanjaar ’n besonder strawwe brandseisoen kan wees, volgens die bestuurder van die Noord-Oos Vrystaat Brandbeskermingsvereniging, Bernard Habig.

“Ons kan vanjaar weer ’n strawwe brandseisoen verwag as gevolg van die groot persentasie brandmateriaal in die veld na die baie reën in die tweede helfte van die somer. Verder voorspel die weerdienste dat vanjaar nie uitermatig koud gaan wees nie. Dit, tesame met die lae humiditeit in die winter veroorsaak die perfekte omstandighede vir veldbrande. Dit is dus uiters noodsaaklik dat grondeienaars betyds deeglike brandvoorbereiding moet tref.”

2023, 2024 was swaar jare

Volgens die brandbestrydingsvereniging (BBV) se statistiek, sê Bernard, is veldbrande besig om dramaties toe te neem. Sedert 2018 was 2023 by verre die ergste brandjaar, maar in 2024 was daar 30% meer hektare as in 2023 afgebrand. Ongelukkig was 2024 ook die eerste jaar dat daar lewensverlies was toe ’n bejaarde persoon is ’n huis vasgekeer is. 

Om sake te vererger, sê hy verder, het die ryp vanjaar baie laat so grondeienaars kon nie betyds met voorbereiding vir voorbrande begin nie.

Tekort aan brandbestrydingsvoertuie

Daar bestaan tans ’n akute tekort aan brandweervoertuie in die Working on Fire-strukture in die Vrystaat, sê Habig. Hierdie situasie sal na verwagting nog ’n ruk voortduur, en plaas die effektiewe bestryding van veldbrande in die provinsie onder aansienlike risiko.

Hy verduidelik die probleem het ontstaan toe die sogenaamde ‘geel vloot’ van brandbestrydingsvoertuie wat aan Working for Fire basisse toegedeel is, weens ouderdom vervang moes word, en die nuwe ‘wit vloot’ nie betyds ontplooi kon word nie. 

Waar die meeste van die Working on Fire-spanne wat in die Vrystaat ontplooi is, met voertuie uit die ‘geel vloot’ toegerus was, sit baie van hierdie spanne tans sonder enige voertuie. In die Noord-Oos Vrystaat is daar tans slegs een voertuig wat deur die vyf spanne in sy gebied gedeel moet word, sê hy.

BBV maak ’n plan

“Gelukkig beskik ons BBV oor twee van sy eie voertuie, en help baie van ons boere-lede ook goedgunstiglik om brandbeskermingspersoneel en -toerusting na brandtonele te vervoer. Hierdie situasie is egter nie bevredigend nie. Daar is spesifieke wetgewing wat voorskryf hoe personeel en toerusting vervoer mag word, en dis nie altyd moontlik om aan die wetgewing te voldoen as die voertuie nie daarvoor ingerig is nie.”

’n Verdere aspek wat die situasie vererger is wanneer daar meer as een veldbrand op dieselfde tyd beveg moet word. As elke span nie sy eie voertuig het om by die brande uit te kom nie raak dit ’n logistiese nagmerrie.

“Ons as BBV’s kry baie min finansiële ondersteuning van die staat. Meer as 80% van ons befondsing kom van ons lede se lidmaatskapsgelde. So het ons byvoorbeeld in Oktober 2023 laas befondsing van die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing (DBVO) ontvang. Dit maak dit uiters moeilik om ons pligte uit te voer.”

Habig doen ’n beroep op alle grondeienaars om ten spyte van die moeilike omstandighede, seker te maak dat hulle brandtoerusting gediens is, voorbrande gemaak word, en personeel deeglik opgelei word sodat die moeillike brandseisoen so goed as moontlik tegemoet gegaan kan word. – Izak Hofmeyr, Plaas Media

Vir meer inligting, skakel Bernard Habig op 061 501 7193.

Popular stories