Wintertyd is veldbrandtyd, veral in die meer noordelike provinsies. Almal weet watter risiko dit inhou.
Dit is juis waarom dit so belangrik is vir boere om seker te maak dat hulle brandpaaie, brandtoerusting, en brandversekering in orde is. Tewens, grondeienaars in Suid-Afrika se somerreënvalstreke behoort op hierdie stadium druk besig te wees om voor te berei vir die brandseisoen, wat in die meeste provinsies in Junie amptelik afgeskop het.
’n AgriOrbit-span het bietjie by kenners kers opgesteek om uit te vind hoe verskeie provinsies vir hierdie vlambare tydperk voorberei.
Mpumalanga se brandseisoen-planne lyk só
Tussen Mei en Oktober verlede jaar het brande sowat R21 miljard se verwoesting in Mpumalanga gesaai. En dít is konserwatief geskat, sê André Scheepers, voorsitter van die Mpumalanga-sambreelliggaam vir brandbeskerming (MUFPA).
Om dié syfer in perspektief te plaas: Dit is amper dertien keer die begroting van hierdie provinsie se Departement van Landbou, Landelike Ontwikkeling en Omgewingsake se totale begroting van net oor die R1,6 miljard vir die finansiële jaar van 2025/2026.
Meer as 1,4 miljoen hektaar is verlede jaar deur brande geraak. Die provinsie het sowat 15 000 hektaar plantasies verloor in ’n tydperk waarin meer as 37 000 brande aangemeld is.
Na die verwoestende 2024-brandseisoen moet klem vanjaar op brandveiligheid en -voorkoming geplaas word, sê Scheepers. Daarom het MUFPA en die 15 brandverenigings wat onder hulle val sedert die begin van Junie erns gemaak om gereed te wees vir die komende brandseisoen. Scheepers moedig egter alle gemeeskappe aan om paraat, gereed, en proaktief op te tree om brandrisiko tot ’n minimum te beperk.
“Gereelde instandhouding van brandpaaie, nakoming van brandveiligheidsprotokolle, en vinnige rapportering van enige brandvoorvalle is van kritieke belang om ’n suksesvolle brandseisoen te verseker. Met samewerking en versigtigheid, kan ons lewens, eiendom, en die omgewing teen die verwoestende gevolge van veldbrande beskerm,” sê Scheepers en beklemtoon dat deeglikheid en veiligheid altyd eerste geplaas moet word.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens voorspel ondergemiddelde reënval vir die meerderheid van die land hierdie winter, terwyl die minimum- en maksimum-temperature tydens die brandseisoen glo meestal bogemiddeld sal wees.
“Alhoewel seisoenale plantegroei tans welig lyk, sal die voorspelde afwesigheid van reënval veroorsaak dat dit vinnig uitdroog, met potensieel rampspoedige gevolge. Sodra dit uitdroog, sal toestande bevorderlik wees vir die verspreiding van veldbrande,” sê Scheepers. Daarom word grondeienaars aagemoedig om by georganiseerde brandstrukture aan te sluit, omdat dié strukture baie hulpbronne en kundigheid het wat waardevolle gereedskap vir brandvoorkoming kan wees.
Die NWUFPA berei vir hoë-risiko brandtydperk voor
Die Noordwes-sambreelliggaam vir brandbeskerming (NWUFPA) en sy 20 plaaslike verenigings tref voorbereidings vir ’n hoë risiko-brandtydperk.
Voorsitter, Eric Stoch sê internasionale navorsing oor gemiddelde grondtemperature toon dat 2023 die warmste jaar sedert 1850 was, en vanjaar kan selfs warmer wees. Dit verhoog die risiko van ’n langer brandtydperk en verminder die venster vir veilige voorbrande. Die toestande dra ook by tot vroeë hittegolwe wat langer kan aanhou, en meer en sterker winde wat gaan voorkom. Daar kan ook ’n toename in sogenaamde “brandtornados” wees, vlamkolke wat vinnig deur brandbare materiaal beweeg en brande vinniger en teen hoër temperature versprei, wat brandbestryding kan bemoeilik.
Noordwes het nie ’n vaste brandseisoen nie. Brande kom regdeur die jaar voor en word as hoë of lae risiko-tydperke geklassifiseer. Die hoë risiko-brandtydperk is van 1 Junie tot 30 Oktober. Stoch sê vanjaar word ’n meer intense hoë brand-tydperk as verlede jaar verwag, weens onvoldoende voorbrande na hoër reënval.
In 2024 is 13 876 veldbrande aangemeld wat 442 410ha vernietig het, met skade van sowat R3 miljard. Dit sluit kostes vir skade aan infrastruktuur, toerusting, vee, en toerismeverliese in. Die meeste brande was in die JB Marks-munisipaliteit, waar 80 000ha afgebrand het. In Rustenburg het 70 000ha in die slag gebly. In 2023 was daar 15 529 brande, wat 1,4 miljoen ha verwoes het. Die skade het R8,7 miljard beloop.
Alle voorbrande moet deur plaaslike brandverenigings goedgekeur word. Nie-lede betaal vir ’n inspeksie deur die brandweer of betrokke brandvereniging om die maak van voorbrande goed te keur. Brandbane is ook doeltreffend, maar die sny van gras is net ’n stap in die proses. Grond moet binne eiendomsgrense geskraap, gespuit, of geploeg word. Padreserwes mag nie geploeg of gedis word nie.
Asgate verg ook spesiale aandag. Alle brandbare materiaal rondom die asgat moet verwyder word. Toestemming is nodig en die brandgevaarindeks moet oorweeg word. Stoch sê brandbeheer in Noordwes toon vordering en die NWUFPA se programme vir opleiding, bewusmaking, wetstoepassing, en toerusting dra daartoe by.
Maatreëls vir brandvoorkoming in die Oos-Kaap
Thinus Botha, uitvoerende hoof van die Oos-Kaap-sambreelliggaam vir brandbeskerming (ECUFPA) sê die plantegroei in die noordelike gedeeltes van die Oos-Kaap bestaan hoofsaaklik uit grasveld. “Gedurende die vroeë herfstyd veroorsaak ryp grasverdroging wat dit vlambaar maak en die vuurgevaar in die gebiede drasties verhoog.”
Volgens Botha woeker die provinsie se 30 brandbeskermingsverenigings (BBV’s), lede van ECUFPA, jaarliks veral gedurende die tydperk van Mei tot die einde van Julie om voorbereiding vir die brandseisoen te tref – die rook trek behoorlik soos wat almal brandbane gereed kry! Terselfdertyd word toerusting gediens, getoets, en in gereedheid gebring. Personeel word opgelei en, waar nodig, selfs aan diens geplaas vir vinnige reaksie tydens enige ongevraagde vuur.
Vanjaar gaan daar weereens twee Huey-helikopters te Stutterheim op bystand wees. Elk van hulle dra sowat 1 000l water. Hul word deur vastevlerk-“spotters” (beheer- en bevelvliegtuie) ondersteun. Daar is ook twee helikopters met ’n beheer- en bevelvliegtuig in Ugie op gereedheid.
Johan Appelgrein, voorsitter van die Midlands-Karoo-brandbeskermingsvereniging, sê dat voorbrande tydens die brandseisoen nie voordelig is vir hul tipe veld nie weens die sensitiewe aard en lang hersteltydperk van die Karoo-bossies. “Ons fokus op die vestiging van ’n gesonde brandbeskermingsvereniging met voldoende toerusting. Die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande, 1998 (Wet 101 van 1998), vereis dat elke grondeienaar voorbrande op plaasgrense moet maak. Die vereiste val weg indien ’n grondeienaar ’n lid van ’n brandbeskermingsvereniging is wat aan die wet voldoen.”
Hy sê verder dat die brandbeskermingsvereniging ’n brandplan moet opstel wat voorbrande sowel as mensgemaakte (paaie) en natuurlike (bv. riviere) vuurhindernisse identifiseer wat gebruik kan word om vure tydens die brandseisoen te beveg. “Ons ondersteun mekaar en reageer vinnig indien daar ’n brand is. Dit is noodsaaklik omdat die brandweerdienste in die platteland onbetroubaar is.”
Noord-Kaap-brandbeskermingsvereniging paraat na goeie reënseisoen
Produsente in die Noord-Kaap kan hulle vanjaar gereedmaak vir veldbrande. Na die goeie reënseisoen is daar baie brandmateriaal in die veld en die kanse op meer brande is baie goed. Dit is die boodskap van die Noord-Kaap-sambreelliggaam vir brandbeskerming (NKSBBV) se voorsitter, Sarel de Wet, na afloop van die organisasie se algemene jaarvergadering op 20 Mei 2025.
Hy het weereens ’n beroep op produsente gedoen om voorbereid te wees vir moontlike veldbrande en Boereverenigings aangemoedig om toe te sien dat hul lede georganiseerd is vir moontlike veldbrande. Hy het ook genoem dat die vyf streke in die Noord-Kaap baie beter georganiseerd is as in die verlede.
In die verlede het verskillende streke soos Kuruman en Kimberley behoorlik onder veldbrande deurgeloop en is daar ’n poging aangewend om al die gebiede onder een sambreelorganisasie te kry sodat die veldbrande in die toekoms beter bestuur kan word.
“Drie van die vyf munisipale streke is reeds volle lede van die NKSBBV, en die ander twee is in die proses om aan te sluit en betrokke te raak. Hulle is die Francis Baard-munisipaliteit van die Kimberley-omgewing en die ZF Mgcawu-munisipaliteit van die Kakamas- en pington-omgewing. Dit is egter jammer dat baie min munisipaliteite in die Noord-Kaap by die vereniging betrokke is,” het hy gesê.
KwaZulu-Natal en Vrystaat verseker só teen vurige verrassings
Volgens Bernard Habig, bestuurder van die Noord-Oos Vrystaat Brandbeskermingsvereniging is dit by die meeste versekeringsinstansies ’n voorvereiste dat versekerdes lid van die plaaslike brandbeskermingsvereniging moet wees. “Voordat ’n mens dus enigsins verder oor voorbereiding teen veldbrande praat, is dit krities dat jy seker maak jou versekering is in plek en dat jou lidmaatskap by die brandbeskermingsvereniging betaal is.”
Bobby Hoole, brandbeskermingsbeampte by die Lions River Brandbeskermingsvereniging in KwaZulu-Natal beaam dit, en voeg by dat die hoeveelheid brandbare materiaal in die veld vanjaar besonder groot is, wat die risiko vir veldbrande wat buite kan beheer raak, soveel groter maak.
Brandbeskermingsverenigings in die Vrystaat en in KwaZulu-Natal het ’n omvattende lys van aksies opgestel wat in elke maand van die jaar uitgevoer moet word om grondeienaars in hulle brandvoorbereidingskedule by te staan.
Hier is ’n klompie punte wat tydens die brandseisoen van toepassing is:
- Ken die reëls en regulasies van die BBV, asook die toepaslike wette.
- Herbevestig voorbrandbeplanning met jou bure en maak seker jou voorbrandbeplanning is in samewerking met die bure op gesamentlike grense gedoen.
- Verkry elke dag die nodige toestemming van jou BBV om voorbrande te doen.
- Hou by die reëls rondom afsnydatums vir brande, veral in gebiede waar bosbou bedryf word.
- Wees bedag op die reëls rondom die brand van vullisgate en ander plantmateriaal.
- Maak seker al jou vuurvegtoerusting is in goeie werkende toestand en word gereeld gediens.
- Maak seker al jou personeel dra voldoende beskermende klere tydens brand-operasies.
- Onderwerp alle personeel aan gereelde opknappingskursusse.
- Maak seker jou radio is in goeie werkende toestand as jy op ’n radio-netwerk is.
- Geen brand oor naweke of na sonsondergang nie, tensy deur die plaaslike BBV goedgekeur.
- Onthou dat jy alle brande op eie risiko onderneem.
- Maak eerste voorbrande om die plaashuis, werkershuise, skure, en hooi.
- Maak voorbrande om die kampe wat in die lente afgebrand gaan word.
- Working-on-Fire (WoF) kan versoek word om te help met voorbrande.
- Ken die WoF uitroep-prosedure.
- Maak seker al die waterbronne het voldoende water.
- Maak seker al die voorbrande is teen die einde van Julie afgehandel.
- Gedurende Augustus tot Oktober mag geen vure meer gemaak word nie.
- Skakel in op die BBV se daaglikse kommunikasie rondom brandrisiko.
- Indien ’n brand sou ontstaan, rapporteer onmiddellik op die BBV-groep en oor die radio, en plaas ’n location pin op die BBV se WhatsApp groep.
- Die mikpunt by die veg van vure is: a) Veiligheid van vegters, b) veiligheid van die publiek, c) veiligheid van vee en infrastruktuur, en d) om die vuur te blus.
- Aksies na die vuur: a) Versorg diere wat beseer is en wat sonder voer is, b) herstel infrastruktuur, en c) rapporteer aan die BBV.
- BBV-verslag moet lewensverlies, veeverlies, infrastruktuurskade, en verlies aan voertuie en toerusting insluit.
- Nabetragting: Wat het gebeur en hoe kan ons verbeter?
- Rapporteer die vuur aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en maak seker die brandbeskermingsbeampte van die BBV lê klagtes waar nodig.
- Grondeienaars kan eise vir skade instel.
– Christal-Lize Muller, Carin Venter, Izak Hofmeyr, Koos du Pisanie, Susan Marais, Plaas Media
Vir meer inligting kontak die Oos-Kaap-sambreelliggaam vir brandbeskerming (ECUFPA) by 043 683 2659 of fpo@ecufpa.co.za; vir Johan Appelgrein, voorsitter van die Midlands-Karoo-brandbeskermingsvereniging, by 084 699 8011; die Mpumalanga-sambreelliggaam vir brandbeskerming (MUFPA) by admin@mufpa.co.za; of Eric Stoch by 071 0776 653 of nwufpa@gmail.com
