Estimated reading time: 7 minutes
Desert Beef Voerkraal en Boomplaats Abattoir het op 27 Mei 2025 ’n baie geslaagde inligtingsdag wat met ’n jaarlikse slagos- en slaglam-kompetisie gepaard gaan, by hul perseel sowat 30km oos van Upington op die N14 gehou.
Gert Human, die eienaar van Desert Beef Voerkraal en Boomplaats Abattoir, het aanvanklik net op klein skaal geslag, maar die boere het hom so goed ondersteun dat hy die abattoir nege jaar gelede begin het. Vandag is dit die antwoord vir baie boere in die Kalahari.
Die sukses van Desert Beef
Die meeste boere wat die inligtingsdag bygewoon het, vertel dat Human se sukses toe te skryf is aan die goeie diens wat sy personeel lewer en sy voortdurende betrokkenheid by die gemeenskap.
Drie jaar gelede het hy die Desert Beef slagos-kompetisie begin waar beeste op dieselfde dag in die voerkraal opgeneem is en almal dieselfde voeding en behandeling gekry het, om te sien wie het die beste presteer.
Sedert die eerste kompetisie het die belangstelling elke jaar toegeneem. Vanjaar was daar 16 boerderye wat 96 osse vir die kompetisie ingeskryf het. ’n Slaglamkompetisie is ook aangebied, maar die skape is nie in die voerkaal gevoer nie. Die 208 lammers het van verskeie produsente gekom, en hulle moes self die diere voer en versorg.
Paul Avenant, die bestuurder van die voerkraal, sê hulle sien elke jaar daar is nie ’n spesifieke ras of geslag dier wat beter as die ander vaar nie. Alles gaan eintlik oor die genetika van die kalf, die versorging wat die kalf op sy geboorteplaas gehad het, en die bestuur op die plaas waar die kalf gebore is. Volgens hom is daar nie uitsonderings nie.
Slagvee-kompetisiewenners
Vanjaar se wenners was:
- Superos-wenner (97,95%) sowel as reserwe superos-wenner (89,6%): Francois Page met Brangus-kruisings. Hy het ook die groep-wenners vertoon.
- Slagos-wenner: Ellewee van Zyl met ’n Santa Gertrudis (98,62%).
- Slagos tweede plek: Goosen Boerdery met ’n Droughtmaster-kruising (94,36%).
- Slagos derde plek: Theuns Engelbrecht met ’n Droughtmaster (92,87%). Hy het ook die groep slagos-wenners vertoon.
- Slaglam-wenner: Bertus Steenkamp met ’n Dorper (99,28%). Hy was ook die groep-wenner.
- Slaglam tweede plek: Dirk Human met ’n Dorper (98,67%).
- Slaglam derde plek: Bertus Steenkamp met ’n Dorper (98,54%).

Die Kalahari-boere het ook verlede jaar uitstekend in die Suid-Afrikaanse Vleisbedryf-maatskappy (Samic) se nasionale slagos-kompetisie gevaar en hulle beplan om vanjaar weer met heelwat pryse huis toe te kom.

In die 2024 Samic nasionale karkaskompetisie het die superos-wenner uit die kudde van Karsten boerdery gekom. Die slagos-groepwenner was ’n Bonsmara van Petrus Goussard en die reserwe slagos-wenner was ’n Santa Gertrudis van Ellewee van Zyl. Theuns Engelbrecht se Droughtmasters is as die slagos nasionale kommersiële groepwenner aangewys. Desert Beef is ook as die 2024 nasionale skouwenner aangewys.

Geheime van ’n goeie voerkraal
Tydens die Desert Beef-inligtingsdag het Elanco Animal Health se dr Alnora le Riché, ’n bekende veterinêre konsultant met herkouers as vakgebied, met die boere gesels. Sy het op voerkraalgesondheid gefokus en veral op die vereiste van ’n gesonder rumen vir die dier wat na die voerkraal geneem word, klem gelê. “Kortpaaie maak nie geld nie” was haar raad aan boere en bestuurders van voerkrale. Die volgende aspekte is ononderhandelbaar in die voerkraal:
- Gehalte van diere wat ingekoop word: Volgens dr Le Riché is dit baie moeilik om ‘n swak dier met ’n agterstand in voeding, na ‘n winsgewende karkas te verander. As die dier se toestand swak is wanneer hy by die voerkraal ingeneem word, neem dit ongeveer drie weke om hom op standaard te kry en dit hou hoë koste in.
- Uitleg van krale: Die korrekte uitleg van voerkrale is baie belangrik ten einde optimale toestande te handhaaf. Faktore soos kripspasie, plasing van water, en genoeg skaduwee is van die kernpunte in die uitleg van ’n voerkraal.
- Biosekuriteit: “Ek weet administrasie is nie ’n boer se gunsteling-gebied nie, maar die byhou van rekords en data is krities,” het lê Riché gesê. Hier is dit veral belangrik om te weet wat is die geskiedenis van die dier, inentings, siektes, en so meer is, sodat daar duidelike voetspore is om op terug te gaan wanneer daar ’n probleem ontstaan. As daar ’n data-spreiblad (“spread sheet”) is, kan daar pro-aktief in probleemgevalle opgetree word.
- Higiëne: Die netheid van voerkrale is van uiterste belang in pesbeheer. Dit moet skoon en droog bly ten einde te keer dat dit ’n teelaarde vir muggies en vlieë word wat as vektore dien in die ontstaan van siektes soos bloutong, knoppievelsiekte en drie-dae-stywesiekte. Toegangsbeheer van werkers, wilde diere, en besoekers is uiters belangrik om die oordrag van infeksies te voorkom.
- Gesondheid: Dit is belangrik om jou kuddeveearts te ken en nuwe vreemde siektes onmiddellik aan te meld. Veral toestande buite die normale. Post-mortems is baie belangrik sodat jy buitengewone toestande dadelik kan hokslaan. Neem monsters en foto’s vir die veearts.
Read more here about preventing respiratory diseases in the feedlot.
- Voeding: Hierdie is een van die belangrikste aspekte in die voerkraal en dr Le Riché het beklemtoon dat die voedingsrantsoen nie ’n ingewikkelde formule hoef te hê nie, maar eerder ’n goedgebalanseerde, uniforme voeding moet wees. Dit is ook belangrik dat toerusting behoorlik gediens en gekalibreer moet wees om seker te maak elke dier kry die korrekte voeding. “Kyk na die kriplesings en maak seker van die inname van elke dier.”
Dr Le Riché het ook die anatomie van ’n gesonde rumen en die ontwikkeling daarvan tot die grootpens aan boere verduidelik, asook die faktore wat tot die ontwikkeling van ’n volwaardige rumen wat vir ’n voerkraal gereed is, bydra.
Finansies van die rooivleisprodusent
Bertie Huggett, uitvoerende hoof van FNB Landbou en Charl van Rensburg, ’n kliëntediensbestuurder van Standard Bank op Upington, was ook onder die sprekers wat boere ingelig gehou het.
Huggett se boodskap aan die boere was dat daar baie geleenthede en hoop vir die rooivleisbedryf in Suid-Afrika is. In die laaste paar maande was daar ’n goeie verhoging in die kalfpryse en vleispryse oor die algemeen wat daarop dui dat daar ’n verhoging in die vraag na rooivleis is. Hoewel daar ’n geringe hoop vir ekonomiese groei in Suid-Afrika is het die uitvoerbedryf wel goed opgetel. Hy het daarop klem gelê dat die protokolle ten opsigte van biosekuriteit die nodige aandag moet kry aangesien dit keer op keer uitvoere pootjie.Volgens hom is dit belangrik dat almal in die waardeketting, van die produsent tot die uitvoerder, hande moet vat en hierdie probleem moet aanspreek. Vir Hugget het rooivleis altyd ’n plek in die Suid-Afrikaanse mark.
Een van die boere het die bekommernis van talle boere op die tafel geplaas. Hy wou weet wat gaan gebeur as ’n boer van sy grond onteien word, en of hy aanspreeklik gehou sal word vir die skuld hy aangegaan het om die plaas te bou. Bertie se antwoord was dat dit nie vir produsente ’n terughoudende faktor moet wees nie. Almal in die waardeketting sal saam baklei om boere op die plase te hou.
“Die bank moet ook tot die stryd toetree omdat hy die geld wat hy uitgeleen het, wil terughê. Aan die ander kant wil ons almal voedselsekerheid hê. Almal weet dat die suksesvolle en produktiewe boere ’n behoudende faktor in die Suid-Afrikaanse samelewing is omdat hulle vir kos op elkeen se tafel sorg,” was Huggett se boodskap.
Die Desert Beef Slagvee-kompetisie was vanjaar weereens ’n reusesukses, en volgens Human en sy span gaan hulle dit aanstaande jaar beslis weer doen. – Koos du Pisanie, Plaas Media
Vir meer inligting kontak gerus vir Gert Human by 082 826 2349 of Ria Ludick by 084 517 3638.
















