Tuesday, December 16, 2025

Plaagdoders: Wanneer foute duur lesse word

Estimated reading time: 6 minutes

Presisieboerdery word dikwels laks toegepas. Dit lei daartoe dat basiese beste praktyke afgeskeep of heeltemal oor die hoof gesien word. Selfs met toegang tot gevorderde tegnologie kan swak of verkeerde advies van diensverskaffers, sowel as foute tydens plaagdodertoediening, ernstige gevolge hê.

So waarsku dr Charlie Reinhardt, voormalige professor en hoof van die departement plantproduksie en grondkunde aan die Universiteit van Pretoria (UP). Dr Reinhardt, tans ’n onafhanklike konsultant in onkruiddoders en probleemplantbeheer, se reaksie volg ná ’n onlangse uitspraak in die Gautengse hooggeregshof ten gunste van Limpopo-boere. Die boere het skade gely ná indringerplantbestryding deur die regering se nasionale Werk vir Water-program op die plaas Hartbeesfontein in die Alma-distrik naby Vaalwater.

Besoedeling en vergiftiging

Petrus Johannes Barnard, eienaar van die plaas en eerste eiser, en Nicolaas Röntgen, tweede eiser, het in 2019 regstappe geneem nadat twee besproeiingsdamme besoedel is en gewasse, hoofsaaklik tabak, tekens van vergiftiging getoon het. Hulle het tabak, pampoene, en waatlemoene op die plaas verbou en met beeste en skape geteel.

Die besoedeling spruit uit die Werk vir Water-program, wat Kaput 100 Gel in Junie 2016 gebruik het sonder om die eisers daarvan in kennis te stel. In totaal is 24kg van dié boomdoder in ’n wateropvangsgebied aangewend wat direk na die damme lei, sowel as in die damme self. Teen Oktober 2016 is skade aan tabaksaailinge opgemerk.

Waarnemende regter Caroline Nicholson het in Julie 2025 bevind dat die Departement van Omgewingsake via die Werk vir Water-program nalatig was. Kaput 100 Gel is onwettig gebruik in die sin dat dit strydig met die registrasie en eitiketvoorskrifte gebruik was. Die program was aanvanklik ’n gesamentlike projek van drie departemente: Omgewingsake (eerste verweerder), Landbou (tweede), en Watersake (derde). Slegs die Departement van Omgewingsake het die saak teengestaan.

Aangesien dié departement erken het dat aanspreeklikheid by hom berus, het die hof slegs na hom as verweerder verwys. Die hof het beslis dat die departement skadevergoeding én regskostes aan die eisers moet betaal. Vergoeding dek vorige én toekomstige skade, aangesien die dam en damwater onbruikbaar was vir gewasbesproeiing. Die bedrag is nog nie vasgestel nie.

Barnard is in 2022 oorlede waarna die eksekuteurs van sy boedel as eerste eisers opgetree het.

Ooreenkoms het verval

Barnard het die Departement van Omgewingsake in Januarie 2015 versoek om indringerplante op sy plaas te verwyder via die Werk vir Water-program. ’n Ooreenkoms is gesluit waarin daar bepaal is dat die werk binne ses maande voltooi moes wees. Dit het nie gebeur nie. Die hof het bevind dat die kontrak verval het weens geen werk wat binne die gestelde tydperk verrig is nie. Regter Nicholson het verder bevind dat die werk wat later in 2015 gedoen is, tot almal se tevredenheid was. Die dispuut het ontstaan ná die opvolgbehandeling in 2016.

Strafregtelike oortreding

Die hof het verder bevind dat die buite-etiket gebruik van die onkruiddoder ’n strafregtelike oortreding was. Die Werk vir Water-program het nalatig opgetree. Die kontrakteur, sonder toepaslike kwalifikasies, was deel van ’n werkskeppingsprogram en het saam met ’n span behoeftige plaaslike werkers direk volgens die projekkoördineerder se instruksies gewerk. Die hof het bevind dat aanspreeklikheid by die verweerder lê, nie by die kontrakteur nie. Die departement moes toesien dat alle werkers behoorlik opgelei en ingelig was oor veilige gebruik van onkruiddoders vir hul eie én die grondeienaars se veiligheid.

Lesse geleer

Dr Reinhardt, wat reeds in 2016 die aanvanklike ondersoek namens die eisers gedoen het en later as deskundige getuie opgetree het, sê die onkruiddoderproduk is op indringerplante, waaronder die Vaalpopulier, op die walle en oewers van die plaas se besproeiingsdamme toegedien. Na die foutiewe gebruik van Kaput 100 Gel, is water uit dié damme gebruik om oorgeplante tabaksaailinge te besproei.

Volgens dr Reinhardt is pikloram uiters gevaarlik vir breëblaarplante, met tabak wat baie sensitief is. Hy meen waardevolle lesse kan uit hierdie hofsaak geleer word, wat nou as ’n toetssaak dien vir onder meer die oortreding van sogenaamde buite-etiket (off-label) gebruik van onkruiddoders.

Volgens hom is daar insigte vir boere, plaagdoderverspreiders, tussengangers soos landbou-adviseurs, en die regering. Almal moet besef dat plaagdoders beperkings het in terme van veiligheid en doeltreffendheid. Etiketvoorskrifte bestaan om optimale, veilige gebruik te verseker. Hy waarsku egter dat selfs wanneer voorskrifte streng nagekom word, dinge steeds verkeerd kan loop. Onvoorsiene omstandighede soos spesifieke klimaattoestande wat die werking van plaagdoders beïnvloed, of weerstandontwikkeling by peste – kan steeds tot probleme lei.

Volgens hom moes die betrokke onkruiddoder glad nie in hierdie geval gebruik gewees het nie. Die etiketvoorskrifte verbied uitdruklik die gebruik van produkte met die aktiewe bestanddeel pikloram in omgewings waar water en gewasse direk of indirek daaraan blootgestel kan word. Die produk is dus onder streng beperkings geregistreer. Hy sê die korrekte prosedure in en om besproeiingsdamme sou gewees het om ’n veiliger, minder riskante onkruiddoder te gebruik. Die beste opsie sou egter meganiese beheer wees, soos die fisiese verwydering van indringerplante.

Dr Reinhardt stem saam met die hof se bevinding dat Kaput 100 Gel in hierdie geval onwettig gebruik is. Hoewel die produk geregistreer is ingevolge die Wet op Veevoere, 1947 (Wet 36 van 1947) vir spesifieke probleemplante en onder streng voorwaardes, was die gebruik hier buite dié bepalings, en dus onwettig én gevaarlik. Indien die produk volgens etiketvoorskrifte gebruik word, is dit nie gevaarlik nie.

Korrekte gebruik van onkruiddoders

Dr Reinhardt sê die hofsaak beklemtoon weer die belang van korrekte onkruiddodergebruik. “Onkruiddoders is plantdoders. Dit moet só gebruik word dat nie-teikenplante, soos gewasse en natuurlike plantegroei, beskerm word.” Hy verduidelik dat veilige gebruik afhanklik is van streng nakoming van etiketvoorskrifte. Afwyking of ignorering daarvan is die hoofrede waarom onkruiddoders skade aanrig en as gevaarlik beskou word.

Al die betrokkenes het ’n verantwoordelikheid om korrekte gebruik te verseker:

  • Die registrasiehouer stel etiketvoorskrifte op as deel van die registrasieproses wat ingevolge Wet op Veevoere, 1947 (Wet 36 van 1947) en daaropvolgende wetgewing en regulasies bestuur word.
  • Die verkoopsagent is die eerste gebruiker en maak aanbevelings aan die tweede gebruiker.
  • Die tweede gebruiker, soos produsente of toedieningskontrakteurs, moet ook aan voorskrifte en aanbevelings voldoen.

Volgens hom rus die grootste verantwoordelikheid op dié verkoopsagente met toepaslike opleiding, kennis, en ondervinding. Hy wys daarop dat daar in Suid-Afrika, spesifiek in kommersiële landbou, nie beduidende voorligtingdiens van staatskant aan produsente gelewer word nie. Oor dekades het dié rol verskuif na verkoopsagente, wat weens hul verbintenis met ’n bepaalde maatskappy nie binne ’n formele, objektiewe voorligtingraamwerk funksioneer nie.

Opleiding, toepassing en verantwoordelikheid

Dr Reinhardt meen die probleem in meeste onkruiddoder-verwante skadegevalle in gewasproduksie lê nie by die produk self nie, maar by hoe dit gebruik word. Die menslike faktor is dikwels die hoofoorsaak. Die kernprobleem in Suid-Afrika is ’n gebrek aan toepaslike opleiding vir plaagdodergebruikers. Ervaring alleen is nie genoeg nie.

Die ideale benadering is ’n kombinasie van toepaslike indringende opleiding met ’n diploma of graad as kwalifikasie, voortdurende kennisopdatering, en praktiese ondervinding. Hy moedig boere aan om krities te kyk na die advies wat hulle ontvang. Hulle moet verseker dat diensverskaffers behoorlik opgelei is en gesertifiseerde professionele kundiges is.

’n Lansie vir diensverskaffers

Dr Reinhardt sê maatskappye se verkoopsagente en tegniese personeel wat kennisoordrag- en adviesdienste verantwoordelik en kundig lewer, verdien erkenning. Daarmee saam moet produsente self meer krities wees oor die objektiwiteit en gehalte van die advies wat hulle ontvang, sodat besluite op betroubare inligting gegrond is. – Christal-Lize Muller, Plaas Media.

Vir meer inligting kontak dr Charlie Reinhardt by 083 442 3427 of dr.charlie.reinhardt@gmail.com

Related Posts

Chubby Chick: Verdagte aangekla vir dubbele moord

Estimated reading time: 3 minutes Die 73-jarige verdagte, wat verbind...

Wheat farmers financially strained as Section 7 investigation looms

Estimated reading time: 5 minutes The Wheat Forum has applied...

Agri X Fusion 2026 to align research and industry for the future of South Africa’s red meat sector

Estimated reading time: 2 minutes Agri X, in partnership with...

Chubby Chick skietvoorval – tweede direkteur sterf

Estimated reading time: 6 minutes Deon Fourie, mede-direkteur van Chubby...

Voer oppad na kurkdroë Boesmanland

Estimated reading time: 3 minutes Terwyl swaar reënbuie die afgelope...

BEK-oorwinning laat Wes-Kaap juig

Estimated reading time: 3 minutes Wes-Kaap kan BEK-beeste begin slag Agri...