Parasietbeheer by skape verg ‘n holistiese benadering

Estimated reading time: 7 minutes

  • Interne parasiete by skape is hier om te bly en die beste wat ’n boer kan doen, is om dit só te bestuur dat die impak daarvan op sy kudde so laag as moontlik is.
  • Dit is belangrik om te besef dat die gebruik van chemiese middels teen wurms die heel laaste faset van ‘n bestuursprogram is.
  • Praktyke wat met omsigtigheid toegepas moet word, is langwerkende middels, kombinasiemiddels, ultrawyespektrummiddels, generiese middels, spesiale aanbiedinge, die nuutste ‘beste’ middels en om die eksklusiewe advies van ’n verkoopsman te gebruik.
  • Die vermyding van konsentrasiepunte soos oornagkrale, is eweneens ’n belangrike bestuurspraktyk.
  • Die mate waartoe diere deur wurms besmet word, hang ook af van faktore soos beweidingsdruk, tydperk in ’n kamp en die hoogte van die kamp.

Interne parasiete by skape is hier om te bly en die beste wat ’n boer kan doen, is om dit só te bestuur dat die impak daarvan op sy kudde so laag as moontlik is.

Daar is nie iets soos ’n wurmvrye status by skape nie, sê prof Gareth Bath, emeritus professor van Onderstepoort en sameroeper van die Kleinvee-gesondheidsadviesliggaam (SSHAB). “Die mikpunt is om ’n gebalanseerde strategie te volg waarvolgens die wurmpopulasie op jou plaas so doeltreffend as moontlik bestuur kan word.”

Lees meer oor hoe om siektes te bestuur in ‘n intensiewe skaapboerdery.

Vyf fasette van bestuur

Hierdie strategie berus op die sogenaamde ‘Groot Vyf’ fasette van bestuur, naamlik:

  • Om jou skape vir genetiese weerstandigheid of verdraagsaamheid te selekteer.
  • Om jou weidings só te bestuur dat dit so onherbergsaam as moontlik vir wurms is.
  • Kennis van die betrokke wurms se lewensiklusse.
  • ’n Doeltreffende moniteringstrategie sodat jy diere wat onder wurmstres is, kan identifiseer en selektief kan behandel (en dan prul).
  • Om ’n doseringstrategie te implementeer wat die opbou van weerstand teen ’n spesifieke middel so lank as moontlik sal vertraag.

Hy sê dit is belangrik om te besef dat die gebruik van chemiese middels teen wurms die heel laaste faset van die bestuursprogram is. “Chemiese middels mag nie die primêre praktyk word waarop staatgemaak word om wurms te beveg nie. Die gevaar van die opbou van weerstandbiedendheid teen die middels is te groot, en daar is net te min beskikbare aktiewe middels om onverantwoordelik daarmee om te gaan. Dit is dus uiters belangrik dat die ander fasette van bestuur deeglik in plek is.”

Ongewenste bestuurspraktyke

Na analogie van ’n verkeerslig met rooi, geel en groen opsies, deel prof Bath bestuurspraktyke op in ‘ongewens’ (rooi lig), ‘wees versigtig’ (oranje lig) en ‘gewens’ (groen lig).

Onder ‘ongewens’ lys hy die volgende:

  • Massabehandeling teen wurms sonder om seker te maak of die individuele skaap wurmstres ervaar.
  • Gereelde behandeling bloot uit roetine.
  • Winterbehandeling (droë seisoen) terwyl die wurmpopulasies op weidings laag is.
  • Vaste doseerprogramme wat nie die wurms se lewensiklus in ag neem nie.
  • Dosering en onmiddellike skuif van kampe.
  • Skat van die diere se gewigte in plaas van akkurate weeg.
  • Gebruik van tuisgemaakte wurmmengsels, kruiemiddels en ongeregistreerde middels.

Praktyke wat met omsigtigheid toegepas moet word, is langwerkende middels, kombinasiemiddels, ultrawyespektrummiddels, generiese middels, spesiale aanbiedinge, die nuutste ‘beste’ middels en om die eksklusiewe advies van ’n verkoopsman te gebruik.

Lees meer oor dikkopsiekte en hoe om dit te behandel.

Gewenste bestuurspraktyke

Gewenste praktyke is ’n holistiese, volhoubare bestuurstelsel met die fokus op die ‘Groot Vyf’ faktore, geteikende en selektiewe behandeling, Famacha se vyfpunt-evaluasie van diere, gereelde miseiertellings om besoedeling op weidings te bepaal, en elke twee jaar ’n miseiertelling-reduksietoets (miseiertelling voor dosering en dan weer ’n telling tien dae ná dosering) om middels se doeltreffendheid te bepaal.

Die gebruik van ramme wat ’n bewese teelwaarde vir wurmweerstand het, die prul van ooie wat gereeld gedoseer moet word, en doeltreffende kwarantyn en deeglike behandeling van alle vee wat van buite af inkom, word ook aanbeveel.

Volgens prof Bath is nog ’n gewenste praktyk dat boere op hulle ooie en lammers moet konsentreer en selekteer vir weerstandigheid. “ ’n Goeie weidingsbestuurstelsel wat bestaan uit kort, intense weiperiodes, gevolg deur lang rustydperke, het ook ’n baie groot negatiewe uitwerking op wurmpopulasies op weidings.

“Indien ’n mens ’n spesifieke kamp afwisselend met ’n ander spesie soos beeste bewei, kry jy ’n stofsuier-effek wat wurmladings verminder. Spesifieke weidingspesies wat ’n bewese negatiewe uitwerking op wurms het, moet ook ondersoek word,” meen hy.

Lees meer oor die belangrikheid van biosekuriteit in enige veeboerdery.

Vermy oornagkrale

Die vermyding van konsentrasiepunte soos oornagkrale, is eweneens ’n belangrike bestuurspraktyk. As diere gekraal móét word of in klein kampies moet slaap, moet die omstandighede so negatief as moontlik vir wurms wees. Hoe kaler die gebiede is, hoe beter, want groen gras is ’n ideale omgewing vir wurmlarwes.

Die mate waartoe weidings met wurms besmet word, hang af van die aantal diere in die trop, kampgrootte, aantal dae in die kamp, gemiddelde miseiertelling, die tipe diere in die kamp (ooie, lammers of diere met ’n swak voedingstatus) en moeilik bestuurbare gebiede as gevolg van oornagkrale, lekkende waterkrippe en selfs vleie.

Oorlewing van wurmlarwes

Prof Bath beklemtoon dat wurmlarwes op weidings oorleef. “Jou strategie moet dus daarop gemik wees om dit so moeilik as moontlik te maak vir die larwes om te oorleef. Verder is ’n klam omgewing baie gunstiger vir oorlewing as ’n droë, warm omgewing. ’n Tipe weiding soos kikoejoegras is baie voordelig vir die oorlewing van larwes, terwyl iets soos armmanslusern (Sericea lespedeza) ’n bewese neerdrukkende uitwerking op wurms het.

“Ander faktore wat ’n rol speel, is die grondtipe (swaar, nat gronde is voordelig vir wurmlarwes), helling (plat grond behou vog beter) en front (suidelike hellings droog minder uit). Kunsmistoedienings, besproeiing, hoë reënval en humiditeit is voordelig vir larwes. Die temperatuur is ook belangrik – te hoë en te lae temperature is nadelig vir larwes.”

Die mate waartoe diere deur wurms besmet word, hang ook af van faktore soos beweidingsdruk (hoeveelheid diere per hektaar), tydperk in ’n kamp, die dier se gesondheidstatus, genetiese vatbaarheid, die weiding se rustydperk, wisselweiding met ander spesies en die hoogte van die kamp.

’n Omsigtige weidingstrategie

Prof Bath beveel aan dat ’n weidingstrategie met sekere bestuursmaatreëls toegepas moet word. “Gebruik veldweidings in die somer in ’n 50/50- of drie-derdes-rotasiestelsel. In ’n 50/50-stelsel word die helfte van die weidings elke tweede jaar vir ’n volle groeiseisoen gerus. In ’n drie-derdes-stelsel word die weidings in drie gedeel en kry elke deel elke derde jaar ’n volle groeiseisoen se rus.

“Die doel is om die rusperiodes so lank as moontlik te maak. Sodoende word parasiete se lewensiklus onderbreek en verminder die getalle drasties.

“Weidingsbestuur moet in harmonie met ’n wurmbestuurstelsel beplan word. ’n Agtkampstelsel wat met twee spesies benut word, kan beide wurmbestuur en lang rusperiodes meebring. Die maak van hooi of kuilvoer in ’n kamp sal nie net wurmpopulasies beperk nie, maar ook outomaties tot lang rusperiodes lei,” verduidelik hy.

Lees meer oor Meatmasterskape hier.

Gebruik van kombinasiemiddels

Daar is wêreldwyd ’n groot debat aan die gang oor die wenslikheid van kombinasiemiddels aan die een kant, maar ook wat die beste manier is om wurmmiddels af te wissel. Hoewel daar sekerlik sterk argumente ten gunste van kombinasiemiddels bestaan, voel prof Bath dat die risiko dan te hoog is dat die wurmpopulasie in skape teen twee middels gelyktydig weerstandbiedendheid kan opbou.

“Dit is ook nie juis moontlik om met ’n miseiertelling-reduksietoets te bepaal watter een van die middels in die kombinasie nie meer werk nie. Gevolglik weet die boer wat weerstand in sy kudde wil bestuur, nie eintlik wat om te doen nie. Ek beveel dus aan dat enkelmiddels, eerder as kombinasiemiddels, gebruik word,” sê hy. – Izak Hofmeyr, Veeplaas

Popular stories