Klassieke dikkop weens Clostridium novyi tipe A.

Estimated reading time: 4 minutes

Wanneer dikkopsiekte in ’n skaap- of bokkudde kop uitsteek, laat dit die aangetaste dier én sy eienaar met ’n yslike hoofpyn. Veeplaas het dr Mari-Louise Nel, ’n veearts by CapeCross Veeartsenydienste in Cradock, genader om meer oor dié siekte, wat deur die Clostridium novyi-bakterie veroorsaak word, uit te vind.

Dr Johan van Rooyen van Steynsburg-dierehospitaal werp ook ’n stuiwer in die armbeurs om lesers te help onderskei tussen die verskillende toestande van dikkop by skape en bokke (sien Tabel 1).

Ramme wat kopstamp

Dikkopsiekte kom grotendeels by skaap- en bokramme voor, omdat die jong ramme geneig is om onder mekaar te baklei. Dr Nel sê dit lei gewoonlik tot kopwonde rondom die horingbasis, waarna ’n bakteriële infeksie deur Clostridium novyi tipe A veroorsaak word.

“Gewoonlik is daar ’n geweldige swelling aan ’n ram se kop,” sê sy, “en dit kan ook na die nek tot in sy borskas afsak. Soms kan ’n mens ook ’n waterigheid sien wat by die kopwonde uitloop. Siek diere is gewoonlik lusteloos en vreet min of glad nie, en dit lei tot gewigsverlies en ’n afname in produksie. In erge gevalle kan diere selfs vrek.”

Bakteriële dikkopsiekte weens ontsteekte kopbeserings kom meestal voor nadat ramme onder mekaar baklei het. Soortgelyke kliniese simptome, met erge swelling van die kop, kan ook deur plantvergiftiging met ganskweek (of gansbossie), die inname van duwweltjies, of selfs slangbyte veroorsaak word (sien Tabel 1). Dikkopsiekte en kwakkeel, wat met haarwurm en lewerslak geassosieer word, kan ook met mekaar verwar word wanneer die swelling na die keel afsak.

Tabel 1: Verskillende toestande van dikkop by skape en bokke, asook riglyne vir behandeling en voorkoming.

Behandeling en voorkoming

Bakteriële dikkopsiekte kan in ’n mate behandel word, maar volgens dr Nel is voorkoming baie beter. “Wat behandeling van dikkopsiekte betref, sal jou veearts gewoonlik ‘n penisillien en ’n anti-inflammatoriese middel aanbeveel. As die dier nie wil vreet nie, help dit om meel of gekapte lusern te gee en om die dier onderdak, uit die ergste son en natuurlike elemente, te hou.”

Dikkop as gevolg van plantvergiftiging. (Foto: Dr Johan van Rooyen)

Voorkoming by wyse van ’n entstof wat spesifiek vir dikkopsiekte ontwikkel is, is baie doeltreffend. Dr Nel sê skape kry die eerste keer twee inspuitings met ’n tussenpose van drie tot vier weke, waarna hulle een maal per jaar weer geïmmuniseer word.

“Die ramme word gewoonlik vir die eerste keer op ouderdom ses maande gespuit en daarna jaarliks vóór die teelseisoen begin.” Sy sê dit is omdat ramme gewoonlik dan bakleierig kan wees en die entstof help om dikkopsiekte weens beserings te voorkom. “Die res van die skape word gewoonlik drie tot vier weke voor skeertyd gespuit.”

Kwakkeel van haarwurm of ’n proteïentekort. (Foto: Dr Johan van Rooyen)

Ander voorkomende maatreëls kan ook in plek gesit kan word, sê sy. Een daarvan is om die sosiale struktuur van die ramme te bestudeer en die meer dominante ramme van die ander te skei. Soms is die kampe waarin die ramme aangehou word ook te klein, wat tot ’n kopstampery en gevolglike dikkopsiekte kan lei.

Vir meer inligting, kontak dr Mari-Louise Nel by 048 881 0197 of cradock@capecross.co.za, of dr Johan van Rooyen by 087 551 2783 of veearts.sdh@nokwi.co.za.

orf, skeerpraktyke, lemon
,hartwater, Dorpers, wegholveldbrande, veldbrande, skeerpraktyke, boerbokke, karobboom