Estimated reading time: 6 minutes

Hierdie jaar se Toyota / Agri Oos-Kaap Jongboer van die Jaar, Duncan Currie, skryf die sukses van vandag se jongboere toe aan hoe hulle die kennis van hul voorgangers trou met nuwe tegnologieë en moderne wetenskap.

Waar hy vandag op Lindisfarne naby Cathcart boer, glo hy dat die uitbreiding van sy kennis en ervaring deur by suksesvolle ondernemings te werk voordat hy na die familieplaas teruggekeer het, die beste manier was om nuttige sake- en bestuursbeginsels aan te leer.

Toegepaste kennis en kundigheid

Die besluit om ’n skaapvoerkraal op die plaas op te rig, is op ’n kombinasie van redes geskoei.

skaapvoerkraal
Vars water word drie keer per dag voorsien. Die trôe het dreinering aan die onderkante en vermorste water word verwyder om te keer dat modder of staande waterpoele vorm.

“Teen speentyd rond ons die oortollige lammers wat nie vir teling in ons Lindisfarne Dormer-stoet gebruik gaan word nie, af. Ons het vroeër aan die Nasionale Wolkwekersvereniging se staatsramprojek behoort, maar dié projek is ongelukkig gestaak. Nou word hierdie suiwer Merino-ramlammers gekastreer en in die voerkraal afgerond. Buiten die toevoeg van waarde tot ons lammers, beteken dit ook dat ons die lammers tydens speen van die veld afhaal, sodat ons ekstra teeldiere daar kan laat loop.

“Nog ’n belangrike aspek is dat ons al ons tweede- en derde-kudde Merino’s met Dormer-ramme paar. Al hierdie lammers is eindkruisings en word direk in die voerkraal gespeen. Op hierdie manier wys ons ook hoe goed Dormer-kruise in ’n voerkraal vetgemaak kan word.”

Duncan sê die raskeuse is belangrik, sowel as dit wat met die lam gebeur vóór hy by die voerkraal opeindig. “Jy soek ’n lam wat aan al die vereistes voldoen. ’n Gesonde, sterk lam wat ‘n goeie begin gehad het, is noodsaaklik,” sê hy. “Hierdie lammers moet goeie gehalte kruipvoer ontvang om te verseker dat hulle met ’n goeie speengewig by die voerkraal aankom.”

Op die vraag waarom ’n skaapvoerkraal meer aandag as ’n beesvoerkraal verg, verduidelik Duncan dat ’n mens gewoonlik baie meer diere in ’n skaapvoerkraal het, en dat dit meer fisiese arbeid en goeie bestuur verg. “Skape moet drie keer per dag gevoer word en is meer vatbaar vir siektes. Hulle is oor die algemeen meer moeite as beeste, en die bestuursprosesse is meer intensief.”

Voer vir winsgewendheid

Om winsgewend te bly, moet lammers hulle volle genetiese potensiaal bereik. Hier speel die regte tipe rantsoen, met die korrekte balans van voedingstowwe vir groei, ’n sentrale rol. “Ons het verskeie rantsoene beproef om uiteindelik by ’n wenformule uit te kom. Die wetenskaplik-geformuleerde rantsoene wat ons tans vir ons diere gebruik, word verpil en bevat die korrekte hoeveelheid ruvoer, kragvoer en aanvullings om groei te ondersteun.”

Die voeromsetverhouding (VOV) is een van die belangrikste faktore in ’n voerkraal, sê Duncan. “Kortom, dit bepaal ons wins. Ons kruiplammers is gewoonlik 12% swaarder teen speentyd en het ’n beter VOV omdat hulle reeds aangepas is. VOV is uiters belangrik en daarom moet die skaapras wat jy wil vetmaak, in ag geneem word. Onthou ook, hoe ouer die lam word, hoe swakker raak sy vermoë om voer in vleis om te skakel.”

skaapvoerkraal
Drie groepe van 500 lammers word gelyktydig in die voerkraal gehou

Lammers tussen dag 1 en 40 het ’n VOV van 1:1, sê hy. Vanaf dag 40 tot 60 verhoog dit dramaties na 3:1, en dan na 3,5:1 vanaf dag 60 tot 80. Daarna word 4:5 tot 5:1 as normaal beskou.

“Dit beklemtoon die belangrikheid van kruipvoeding en die noodsaaklikheid van kruipvoerlammers. Jy kry nie net ’n beter VOV nie, maar ook lammers wat aangepas is wanneer hulle die voerkraal binnegaan. Ek glo dat ’n skaapboer se wins aansienlik minder sal wees as hy nie die aanpassingsproses korrek bestuur nie. Lammers wat kruipvoer ontvang, sal op ’n jonger ouderdom swaarder weeg en sal reeds by die voerkraaldieet aangepas wees. En dit verminder die tyd wat aan aanpassing bestee moet word.”

Wat bepaal ’n goeie VOV?

“Verskeie faktore dra tot die doeltreffendheid van die VOV in ’n voerkraal by,” sê Duncan. “Soos wat jou lammers ouer word, neem hul vermoë om voer in vleis om te skakel, af. Sukses in die voerkraal begin altyd met ’n topgehalte lam. ’n Gesonde, jong lam het goeie groeipotensiaal en ’n baie beter VOV as ’n ouer lam met ’n soortgelyke gewig.

“Die dier se vermoë om voer in vleis om te sit, asook die uitslagpersentasie, is die twee belangrikste dryfvere van winsgewendheid in ’n skaapvoerkraal.”

Tabel 1: Voeromsetverhoudings (VOV) en uitslagpersentasies op Lindisfarne.

Volgens Duncan hang die totale voer per lam per voerkraalsiklus alles af van die lam se aanvangsgewig as hy in die voerkraal aankom, asook hoeveel gewig hy moet aansit om die markgewig van 45kg te bereik.

Tabel 2: Voorbeelde van totale voer per lam per siklus.

Eweredige voerinname

’n Volledige rantsoen word in pilvorm gevoer om te verseker dat diere terselfdertyd die regte hoeveelheid ruvoer, kragvoer en aanvullings ontvang. Rantsoene word drie keer per dag gegee. Dit is belangrik om deurentyd vars en koel drinkwater beskikbaar te hê, en skoon water word dus drie keer per dag voorsien.

“Ons plaas die hamel- en ooilammers in afsonderlike hokke, volgens gewigte van 5 tot 8kg. Dit verhoed dominante gedrag en verseker dat al die diere ewe veel geleentheid het om te vreet,” sê Duncan. “Hokgroottes is tot tussen 50 en 75 diere beperk. Om te keer dat voer vermors word en om te sorg dat lammers betyds hul vereiste markgewig bereik, hou ons rekord van hoeveel kilogram in elke hok gevoer word. Só kan ons dan hokke met soortgelyke gewigte en geslagte met mekaar vergelyk.”

Bemarking van diere

Duncan handhaaf baie goeie verhoudings met die plaaslike abattoirs. “Baie skaapboere jaag prys na, maar vir my is die uitslagpersentasie nét so belangrik. Jy het ’n betroubare abattoir nodig wat vir jou ’n akkurate uitslagpersentasie sal gee.”

Goeie rekordhouding wat jou in staat stel om die uitslagpersentasie te bevraagteken, is ook baie belangrik, sê hy, aangesien enige prysverskil uiteindelik op ’n aansienlike bedrag kan neerkom.

Hy sluit af deur sy ouers en vrou uit te sonder vir die manier waarop hulle sy boerdery ondersteun. “Ek is ’n vyfde-generasie boer en my sukses is te danke aan my voorgangers wat die boerdery laat groei het. Dit het my in staat gestel om na die familieplaas te kon terugkeer en my droom om ’n veeboer te wees, na te streef.”

Vir meer inligting, kontak Duncan Currie by 079 301 1680 of currie@breede.co.za

orf, skeerpraktyke, lemon