Outeniqua-inligtingsdag bied stof tot nadenke

Estimated reading time: 4 minutes

  • Voergehalte word sterk deur die seisoenale wipplank tussen kikoejoe en raaigras beïnvloed.
  • Indien plantaan teen ’n hoë genoeg vlak in die mengsel gehandhaaf word, verhoog die metaboliseerbare energie (ME)-inhoud van die weiding, wat hoë innames ondersteun en hoë melkproduksie stimuleer.
  • Winter-dormante kultivars is geneig om hoër someropbrengste te lewer.
  • Uit ’n ruproteïen- en NBV-oogpunt kan hierdie weiding enigiets tussen 21 tot 35 dae ná ontblaring weer bewei word sonder negatiewe impak op weidingsgehalte.
  • Plantaan is tot ’n groter mate meerjarig as sigorei, met beter volhoubare opbrengs oor jare.

Die jaarlikse inligtingsdag van die Wes-Kaapse Departement van Landbou se Outeniqua-navorsingplaas by George, het op diere- en plantnavorsing gefokus. Hierdie artikel fokus op proewe wat deur weidingswetenskaplikes, Janke van der Colf (stelsels), Sigrun Amman (aangeplante weidings), en wetenskaplike tegnici, Dalena Lombard en Lethu Zulu, onderneem is en op die dag bespreek is.

Voergehalte van weidingsmengsels

Van der Colf het inligting gedeel oor ’n groter studie waarin voergehalte en drie gemengde weidingstelsels, naamlik kikoejoe-raaigras, langswenkgras-plantaan-rooiklawer, en sigorei-lusern-raaigras geëvalueer is. In die eksperiment is bevestig dat, soos kikoejoe in enige tipe weiding toeneem, die neutraalbestande vesel (NBV) sal toeneem tot waar dit weidingsinname sal beperk en melkproduksie sal verlaag.

Kikoejoe bevorder nie werklik melkproduksie nie. Indien plantaan teen ’n hoë genoeg vlak in die mengsel gehandhaaf word, verhoog die metaboliseerbare energie (ME)-inhoud van die weiding, wat hoë innames ondersteun en hoë melkproduksie stimuleer. Dit is dus belangrik om die kruidgewaskomponent in stand te hou indien die weiding plantaan bevat.

Die kikoejoe-raaigrasstelsel is soos ’n baie eenvoudige legkaart. Voergehalte word sterk deur die seisoenale wipplank tussen kikoejoe en raaigras beïnvloed. Kikoejoe word as beperkend vir melkproduksie beskou, terwyl raaigras dit stimuleer. Hoe langer ’n mens die raaigras binne en die kikoejoe buite kan hou, hoe beter is die kans om goeie melkproduksie op hierdie stelsel te handhaaf.

Die langswenkgras-plantaan-rooiklawerstelsel is ietwat meer kompleks, en meer faktore moet in ag geneem word. Die plantaankomponent moet gehandhaaf word om hoë voergehalte te behou in terme van ME en droëmateriaal (DM)-inname, en om die onkruidgrasse uit te hou.

Die sigorei-lusern-raaigrasstelsel het geen waarneembare patrone getoon nie en verdere navorsing is nodig.

Lees meer oor Slaggate vir doeltreffende werking van onkruiddoders.

Rooiklawer: Voorlopige resultate

Rooiklawer is ’n bekende meerjarige weidingsgewas in Suid-Afrika. Ammann, Lombard en Zulu het rooiklawerweidings ondersoek om vas te stel of daar kultivars is wat beter kan presteer in terme van opbrengs in mengsels en langtermyn volhoubaarheid as wat tans algemeen op die mark beskikbaar is.

Van die waarnemings ná een jaar se evaluering was dat slegs ’n paar rooiklawer-weidingskultivars winter-aktief is, terwyl die meeste ander winter-dormant is. Die hoogste seisoenale opbrengspotensiaal vir al die kultivars is in die lente. Winter-dormante kultivars is geneig om hoër someropbrengste te lewer.

Die groenblaar- en grondbedekkingsarea vaar beter in die weidingstipe as tradisionele eenjarige kultivars. ’n Mengsel van die twee (eenjarig of weidingstipe) sal moontlik ‘n goeie opbrengsverspreiding en grondbedekking lewer. Hierdie kultivars se langtermyn volhoubaarheid sal in die toekoms geëvalueer word.

Lees meer oor Bewaar eenvoudig, maar doen dit goed.

Voergehalte van plantaan

Lombard en Ammann het die voergehalte van plantaan en die veranderinge wat dit tydens hergroei ondergaan, ondersoek. ’n Reeks monsters is ná ontblaring geneem om die voergehalte van die plantaan tydens die hergroeifase te bepaal en die optimale weidingsinterval in terme van voergehalte vas te stel.

Die data het getoon dat wateroplosbare koolhidrate en ruproteïen die belangrikste gehaltemaatstawwe vir ontblaringsintervalle is, en die gunstigste samestelling gehandhaaf is in week vyf ná ontblaring. Uit ’n ruproteïen- en NBV-oogpunt kan hierdie weiding enigiets tussen 21 tot 35 dae ná ontblaring weer bewei word sonder negatiewe impak op weidingsgehalte. Wanneer wateroplosbare koolhidrate egter in ag geneem word, sal ’n siklus van 28 tot 35 dae gunstiger wees. Hierdie studie moet in die lente of somer herhaal word met verdere proewe.

Kruidgewasse, raaigras en kropaargras

Ammann, Lombard en Zulu het die navorsingsuitslae van meerjarige raaigras, kruidgewasse (plantaan en sigorei) en kropaargraskultivars van naderby bekyk.

Meerjarige raaigras: Slegs die groeitempo van die beste kultivars gedurende die winter en somer was voldoende vir ’n Jersey-kudde met vier koeie/ha en die veronderstelling dat elke koei 10kg droëmateriaal van die weiding per dag sou benodig. Teen die einde van die somer en in die herfs was die groeitempo te laag om so ’n melkkudde te onderhou.

Kruidgewasse (plantaan en sigorei): Plantaan is tot ’n groter mate meerjarig as sigorei, met beter volhoubare opbrengs oor jare. Sigorei kan in die herfs saam met plantaan in ’n gemengde weiding met grasse en peulgewasse geplant word. Hoewel vestiging in die herfs aanvaarbare resultate vir sigorei en plantaan kan bied, sal ’n lentevestiging beter opbrengste vroeg in die winter lewer.

Kropaargras: Die totale jaarlikse opbrengs was aanvaarbaar, veral gedurende die eerste jaar. Die tweede jaar het ook ’n redelike opbrengs gelewer. Wat kropaargras betref is lente die beste seisoen in terme van seisoenale opbrengs, wat dit ‘n gepaste gewas vir inkuiling maak. – Carin Venter, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak die Outeniqua-navorsingplaas by 044 803 3700.

‘n Tuli-kudde wat sy omgewing bemeester deur aanhoudende verbetering

Estimated reading time: 5 minutes Christo Rothmann van Bushman’s Mountain Tuli’s is in 2025 met...

What is the worst that can happen?

Estimated reading time: 3 minutes Risk is the likelihood of damage or loss. Peril, on...

Suiwelgehalte en -veiligheid vat die voortou

Estimated reading time: 4 minutes Die Suiwelstandaard-agentskap (SSA) is toegewy tot die bevordering van sy...

AFMA Matrix April 2026 now available

In the April 2026 edition of AFMA Matrix, the spotlight falls on the newly...