Estimated reading time: 10 minutes
- Melkprodusente het soms ekstra droëlandweiding beskikbaar en wil dan ’n vleisbeesvertakking tot die boerdery byvoeg.
- Die inbring van vleisbeeste kan die melkkudde aan risiko’s soos brusellose, beesvirusdiarree, ensoötiese beesleukose en lewerslak blootstel.
- Die Outeniqua Angus-vleisbeesproduksiestelsel by die Outeniqua-navorsingsplaas in George het tien jaar gelede begin met kalwers wat uit die Outeniqua Jersey-kudde geteel is.
- Die koeikudde bestaan tans uit 30 dragtige koeie op 20ha se droëlandweiding.
- Wanneer speenkalfpryse in Februarie hoog is, is dit ’n goeie opsie om hulle te verkoop. Wanneer pryse laag is, is die alternatief om hulle op weiding af te rond. Die Outeniqua-navorsingsplaas het 4ha weiding onder besproeiing waar speenkalwers afgerond kan word.
Melkprodusente het soms ekstra droëlandweiding beskikbaar en wil dan ’n vleisbeesvertakking tot die boerdery byvoeg. Hierdie stap moet egter slegs oorweeg word wanneer die melkkudde nie kan uitbrei nie, en voldoende ruvoer steeds vir alle melkdiere beskikbaar is.
Die inbring van vleisbeeste kan die melkkudde aan risiko’s soos brusellose, beesvirusdiarree, ensoötiese beesleukose en lewerslak blootstel. Hierdie diere het dalk ook nie weerstand teen bestaande siekte-uitdagings op die plaas, soos rooiwater, nie.
Die kruising van melkkoeie met die laagste genetiese meriete met vleisbeeste, kan kruiskalwers lewer wat gebruik kan word om ’n vleisbeeskudde te begin. Hierdie F1-kalwers kan intensief of met behulp van ’n pleegkoeistelsel grootgemaak word.
Outeniqua Angus-vleisbeeskudde
Die Outeniqua Angus-vleisbeesproduksiestelsel by die Outeniqua-navorsingsplaas in George het tien jaar gelede begin met kalwers wat uit die Outeniqua Jersey-kudde geteel is. Hierdie kudde van 420 Jerseykoeie is vir langer as 40 jaar ’n geslote kudde. Biosekuriteit word gehandhaaf deurdat geen diere van buite na die plaas gebring word nie. Die helfte van die koeie word met Angus-semen geïnsemineer, aangesien die plaas slegs 110 vervangingsverse per jaar in die melkkudde benodig.
Die vleisbeeskudde het met vier F1 Angus x Jersey-koeie en vier Jersey-koeie begin. Elke koei het ses vleisbeeskruiskalwers oor ’n 300-dae laktasie grootgemaak (twee kalwers elke drie maande), wat beteken 48 kruiskalwers in ‘n tydperk van een jaar grootgemaak.
Kalwers is afsonderlik in ‘n versorgingsarea aangehou en het toegang tot kalfaanvangspille en water gehad. Die koeie het droëlandweidings bewei en is twee keer per dag na die kalwers gebring om hulle te laat drink. Die kalwers is ná drie maande gespeen, en twee nuwe kruiskalwers is dan aan elke koei toegeken. Ná nege maande het ons ’n Angus-kudde van 48 diere gehad. Die verse is behou, en al die manlike diere is verkoop.
Die F1 Angus x Jersey-verse het die basis van die Outeniqua Angus-beeskudde gevorm. Hierdie verse is met behulp van kunsmatige inseminasie (KI) met swart Angus-semen geïnsemineer. Die F1 Angus x Jersey-koei is ’n uitstekende ma met meer as genoeg melk vir haar F2-kalf. Die F2-kalf is reeds 75% Angus en het goeie groeipotensiaal.
Koeikudde en speenkalfstelsel
Outeniqua se vleisbeesvertakking bestaan uit 20ha droëland en 4ha onder besproiing wat in 1ha-kampe verdeel is. Die kampe bestaan uit kikoejoe-, raaigras-, swenkgras-, kropaargras-, klawer-, wieke- en taaipol-weidings. Hierdie spesifieke stuk grond het vir baie jare 30 koeie (1,5 koeie/ha) met hul kalwers (nul tot ses maande oud) onderhou.
Rotasiebeweiding op die 20ha-droëlandplaas wissel van tien tot 15 weke per kamp. Koeie word in twee groepe van 14 tot 15 koeie aangehou, en hulle bewei ‘n 1ha kamp vir een tot twee weke op ‘n slag. Kunsmis word een keer per jaar in die lente teen 28N/ha as KAN (100kg/ha) toegedien. ’n Proteïenlek word op strategiese tye van die jaar verskaf wanneer weidingsgehalte laag is, en met ’n mineraallek aangevul om mikromineraaltekorte te verbeter.
Lees meer oor suiwelnavorsing by die Outeniqua-navorsingsplaas hier.
Die koeikudde bestaan tans uit 30 dragtige koeie op 20ha se droëlandweiding. Hierdie beeskudde bestaan uit vier F1-generasie, 12 F2-generasie, 13 F3-generasie en een F4-generasie koei. Drie Angus-bulle (F3-generasie) is met behulp van KI uit die Angus-koeie op die plaas geteel. Bulle word vir kalwingsgemak geselekteer. Koeie word jaarliks vir brusellose getoets en teen miltsiekte, lamsiekte en sponssiekte ingeënt. Net voor die teelseisoen word hulle vir inwendige parasiete gedoseer.
Die teelseisoen is van 1 Oktober tot 15 Desember. ’n Sinkronisasieprogram met CIDR word gebruik om te verseker dat die kalfseisoen so kort as moontlik is, sodat die ouderdomme en gewigte van kalwers eenders is met die oog op gebruik in moontlike toekomstige proewe. Alle vroulike diere word een keer met Angus-semen geïnsemineer, waarna die F3-generasie Angusbulle tot 15 Desember by die kudde gesit word. Dragtigheidstoetse word in Februarie gedoen, en alle nie-dragtige vroulike diere word geëvalueer en verkoop.
Die kalfseisoen is van Julie tot September. Al die kalwers bly vir ses maande by hul moeders voordat hulle gespeen word, en word by speen vir inwendige parasiete gedoseer.
Verse word op vier maande teen besmetlike misgeboorte ingeënt, en op vier en vyf maande teen miltsiekte, lamsiekte en sponssiekte. Op ses maande word verse teen knopvelsiekte ingeënt. Bulkalwers ontvang dieselfde inentings as verse, behalwe die inenting teen ensoötiese aborsie.
Die gemiddelde lewende gewig van diere in die vleisbeeskudde op verskillende ouderdomme, word in Figuur 1 weergegee. Op een jaar het die verse 300kg geweeg, terwyl volwasse koeie ouer as vyf jaar 550 tot 600kg geweeg het. Sommige van die ouer F1 Anguskoeie weeg tot 600 kg.
Figuur 1: Gemiddelde lewende gewig van Anguskoeie op verskillende ouderdomme.
Die groeiparameters van die Angus-kalwers wat op ses maande gespeen word, word in Tabel 1 aangedui. Die gemiddelde geboortegewig van vers- en bulkalwers was onderskeidelik 33 en 36,3kg. Die gemiddelde speengewig op ses maande was bo 220kg en die groeitempo van geboorte tot speen was bo 1kg/dag. Hierdie resultaat was deels te danke aan die melkproduksiepotensiaal van F1 Angus x Jersey-koeie, asook die groeipotensiaal van F2-kalwers (75% Angus).
Tabel 1: Angus-kalwers se geboortegewig, speengewig op ouderdom ses maande, en GDT vanaf geboorte tot speen.
Weiding | Geslag | Geboortegewig (kg) | Speengewig (kg) | GDT (kg) |
*LS/P/RK | Verse | 33 | 221 | 1,01 |
Bulle | 36,3 | 235 | 1,04 | |
Gemiddeld | 34,9 | 229 | 1,03 | |
P/RK | Verse | 33 | 234 | 1,05 |
Bulle | 36,3 | 238 | 1,05 | |
Gemiddeld | 34,9 | 237 | 1,05 |
*LC = lusern, P = plantaan, RK = rooiklawer.
Afronding ná speen
Wanneer speenkalfpryse in Februarie hoog is, is dit ’n goeie opsie om hulle te verkoop. Wanneer pryse laag is, is die alternatief om hulle op weiding af te rond. Die Outeniqua-navorsingsplaas het 4ha weiding onder besproeiing waar speenkalwers afgerond kan word. Dit bestaan uit 2ha lusern/plantaan/rooiklawer (LS/P/RK) en 2ha plantaan/rooiklawer (P/RK) wat in 2021 gevestig is. Altesaam 24 eenjarige kalwers was ten tyde van die skryf hiervan op die 4ha besproeide weiding. Die weidingsrotasie op hierdie weiding is 42 tot 45 dae. Kunsmis word teen 28N/ha ná elke beweidingsiklus (sewe keer per jaar) toegedien.
In Februarie 2022 is altesaam 24 kalwers (tien verskalwers en 14 bulkalwers tydens speen) ewekansig aan een van twee weidingsbehandelings toegewys – dus 12 kalwers per behandeling. Een groep van 12 kalwers het 2ha besproeide LS/P/RK-weiding bewei, terwyl die ander groep van 12 kalwers 2ha besproeide P/RK-weiding bewei het.
Die diere is elke twee weke geweeg om hul gemiddelde groeitempo te bepaal. Weidingshoogte is met ‘n stygende plaatmeter voor en ná beweiding gemeet, en ’n regressie is gebruik om weidingsinname te bepaal. Weidingsmonsters is elke twee weke geneem en vir 72 uur in ’n oond gedroog ten einde droëmateriaal (DM) en weidingsgehalte te bepaal.
Gedurende die winter was daar ’n tekort aan weiding, aangesien dit stadig gegroei het. Diere het vir twee maande ’n aanvulling van 2kg/dag/dier (50% mielies en 50% semelmengsel) ontvang. ’n Mineraal-lekaanvulling is van speen tot afronding teen 100g/dier/dag gegee.
Die kalwers se groeitempo vanaf speen tot afronding word in Tabel 2 aangedui. Die gemiddelde daaglikse toename (GDT) vanaf speen tot afronding van die bulkalwers was hoër as dié van die verse. Die weidingstelsel wat gebruik is, het nie die GDT van speen tot afronding beïnvloed nie en het van 0,64 tot 0,65kg/dag gewissel. Hierdie groeitempo’s is baie laer as dit wat in tradisionele voerkraalstelsels behaal word (1,5 tot 1,8kg GDT).
Tabel 2: Gemiddelde lewende gewig by speen, afronding, GDT, gemiddelde afrondouderdom, en GDT van geboorte tot afronding op LS/P/RK- en P/RK-weidings.
Weiding | Geslag | Gewig by speen (kg) | Gewig by afrond (kg) | GDT speen tot afrond (kg) | Ouderdom by afrond (maande) | GDT geboorte tot afrond (kg/dag) |
*LS/P/RK | Verse | 221 | 401 | 0,534 | 17 | 0,703 |
Bulle | 235 | 428 | 0,690 | 16 | 0,820 | |
Gemiddeld | 229 | 410 | 0,640 | 16 | 0,770 | |
P/RK | Verse | 234 | 419 | 0,550 | 17 | 0,731 |
Bulle | 238 | 425 | 0,690 | 16,5 | 0,829 | |
Gemiddeld | 237 | 417 | 0,650 | 16 | 0,790 |
*LS = lusern, SW = smalweeblaar, RK = rooiklawer, GDT = gemiddelde daaglikse toename.
Die GDT vanaf geboorte tot afronding was eenders op 770g/dag en 790g/dag vir kalwers op die LS/P/RK- en SW/RK-weidings, onderskeidelik. Beide weidingsbehandelings het ’n lae DM- en neutraal-bestande vesel (NDF)-inhoud en ’n hoë proteïeninhoud gehad. Die proteïeninhoud van die LS/P/RK-weiding was hoër as dié van die P/RK-weiding. Proteïen in die totale dieet was nie beperkend vir groei op enige van die behandelings nie. Die energie-inhoud en gebrek aan doeltreffende vesel in die dieet het moontlik die groei van die speenkalwers beperk.
Ekonomiese implikasies
Tabel 3 toon die potensiële inkomste op ’n 20ha-droëland vleisbeesplaas met 30 koeie. ‘n Potensiële vyf koeie kan jaarliks verkoop word teen ’n gemiddelde prys van R8 000 (potensiële inkomste van R40 000). Om ’n kudde van 30 koeie te behou, moet vyf verse teruggehou word om die vyf koeie wat verkoop word, te vervang. Enige ekstra diere wat uit die koeie gegenereer word, kan met speen verkoop word.
Die totale jaarlikse inkomste kan R219 500 of R10 975/ha/jaar op ’n 20ha-plaas wees. Wanneer uitgawes afgetrek is, was die jaarlikse marge bo gespesifiseerde koste van R9 663/ha of R193 260 vir ’n 20ha-droëland vleisbeesplaas moontlik.
Tabel 4 dui die ekonomie van die grootmaak van speenkalwers op weiding, gebaseer op data wat ingesamel is, aan. Die ekonomie van die grootmaak van speenkalwers op weiding, gebaseer op data wat ingesamel is, word in Tabel 4 aangedui. ‘n Speenkalf se aanvangsprys/waarde, en weidingskoste het ’n groot impak op die winsgewendheid van afronding van speenkalwers op weiding. Wanneer speenkalfpryse hoog, weidingskoste hoog (N-bemesting) en die speenkalfgroeitempo laag is (700g/dag), is winsgewende afronding van speenkalwers op weiding moeilik.
Met ’n wins van R545 per afgeronde dier, of R3 271/ha/jaar, is dit meer winsgewend om meer hektare onder droëland as besproeide weiding te hê om speenkalwers af te rond. Die ekonomiese aspek sal meer belowend wees wanneer speenkalfpryse laag is, die groeitempo van vleisbeeste bo 1kg/dag is, en die besproeide weiding ’n aansienlike peulgewaskomponent bevat.
Tabel 3: Potensiële inkomste op ’n 20ha vleisbeesplaas met 30 koeie (1,5 koeie/ha); speenkalwers op ses maande bemark.
Getal | Verkoop | Prys | Totaal | |
Koeie | 30 | 5 | R8 000 | R40 000 |
Kalwers | 28 | |||
Verse | 14 | 9 | R7 500 | R67 500 |
Osse | 14 | 14 | R8 000 | R112 000 |
Totale inkomste | R219 500 | |||
Inkomste R/ha/jaar | R10 975 | |||
Uitgawes | ||||
Dip | R710,63 | |||
Medisyne | R5 520,15 | |||
Bemesting | R20 000 | |||
Totale uitgawes | R26 230,78 | |||
Potensiële wins/jaar | R193 269,30 | |||
Potensiële wins/ha/jaar | R9 663,47 |
Tabel 4: Potensiële inkomste uit die afronding van diere vanaf ses maande tot slag op besproeide weiding met slegs ‘n mikrominerale-aanvulling.
Prys speenkalf | R8 400 |
Speengewig | 240kg |
Afrondgewig | 440kg |
Gewigstoename | 200kg |
Karkas | 242kg |
Inkomste | R13 310 |
Weiding @R2/kg DM | R4 039 |
Lekkoste | R202,50 |
Dip | R5,38 |
Medisyne | R117,86 |
Bykomende wins/kalf | R545,26 |
Wins/ha (ses kalwers/ha) | R3 271,56 |
Gevolgtrekkings
Dit is moontlik om ’n veelading van 1,5 koeie/ha in die George-omgewing te hê onder droëlandtoestande en normale jaarlikse reënval. Dit is ook moontlik om ’n speengewig van 240kg op ouderdom ses maande te realiseer. Die verkoop van speenkalwers behels nie net ’n lae risiko en hoë winspotensiaal nie – die afronding van diere op besproeide weidings kan ook hoë koste verg en lae wins tot gevolg hê. Winsgewendheid kan verbeter word deur weidingskoste met peulgewasse te verlaag en GDT te verhoog. – Veeplaas, Bertus Myburgh en prof Robin Meeske, Wes-Kaapse Departement van Landbou, Outeniqua-navorsingsplaas
Vir navrae, stuur ’n epos aan prof Robin Meeske by Robin.Meeske@westerncape.gov.za of Bertus Myburgh by bertus.myburgh@westerncape.gov.za