Monday, August 15, 2022

Olifantbeheer: Populasies neem kritiese afmetings aan

Estimated reading time: 7 minutes

Indien die onbeheerde aanwas van olifante in Suider-Afrika toegelaat word om voort te duur, sal hulle verskeie spesies fauna en flora vernietig en uiteindelik hul eie ondergang bewerk. Die situasie het reeds handuit geruk, waarsku wetenskaplikes, wat nie noodwendig die jag van die diere bepleit nie, maar eerder waarsku dat wetenskaplik-beplande optrede noodsaaklik is.

Lees meer oor planmatige wilduitdunning hier.

Hoewel die gedagte dat wild gejag moet word om bewaring te bevorder vir baie mense onaanvaarbaar is, het Botswana verlede jaar 2,7 miljoen Amerikaanse dollar uit olifantjag verdien. Die geld gaan gebruik word om gemeenskappe wat deur olifant/mens-konflikte geraak is, by te staan en stelsels te ontwikkel om die konflik te help verminder.

Omvang van die probleem

Terwyl olifantgetalle in 15 van die 18 lande waar die Afrika-bosreuse voorkom, oor sewe jaar met 30% gedaal het, het olifantgetalle in Suider-Afrika kommerwekkend toegeneem sedert uitdunningsprogramme gestaak is en die jag van olifante verbied is.

In Suid-Afrika is die grootste krisis in die Nasionale Krugerwildtuin se twee miljoen hektaar, wat volgens wetenskaplikes net sowat 4 000 van dié reuse diere in balans met alle ander natuurlewe kan dra. Daar is nou sowat 42 000 olifante op vier miljoen hektaar in die nuwe, vergrote oorgrenspark.

Lees meer oor watergehalte vir wild hier.

As gevolg van hierdie oorbevolking vernietig olifante die ekologiese balans in die natuur en word verskeie ander spesies uitgedryf. In Namibië, Zimbabwe en Botswana, waar groot getalle vrylopende olifante voorkom, raak die konflik tussen mense en olifante ’n groeiende uitdaging. In 2021 is 72 en vanjaar is al meer as 60 mense in Zimbabwe in sulke konflikte dood.

’n Probleem met ’n lang aanloop

Deon Furstenburg, internasionaal-bekende ekoloog en spesialiswetenskaplike, sê toe die Krugerwildtuin in 1898 gestig is, was daar geen olifante nie. Die eerste tien olifante wat aangeteken is, het in 1905 uit die aangrensende Mosambiek na die wildtuin getrek en later het nog olifante uit Botswana daarheen verhuis. Dié bevolking het tot sowat 6 000 in 1966 gegroei.

Wetenskaplikes het toe reeds probleme raakgesien. In 1954 is ’n opname van groot bome in die gesogte loopgebied van die olifante in die Satara-omgewing gedoen, en daar was toe gemiddeld 17 groot bome (maroela, hardekool, knoppiesdoring en ander) per hektaar. Twaalf jaar later, en ten spyte van die uitdunningsprogram wat in 1966 begin is, was net nege groot bome per hektaar oor.

In Suider-Afrikaanse lande met baie vrylopende olifante raak die konflik tussen olifante en mense ’n al hoe groter uitdaging.

Lees meer oor hoekom wildboere hulle veld moet oppas hier.

’n Vleisverwerkingsaanleg is digby die Skukuza-ruskamp opgerig, waar sowat 800 tot 1 200 olifante jaarliks geoes is om die olifantbevolking tussen ongeveer 6 000 en 7 000 te hou. Die olifantvleis en ander produkte is verwerk en verkoop om die program volhoubaar te maak. Die skade aan die omgewing het gestabiliseer, maar nie verbeter nie. Groot bome het steeds minder geraak, hoewel teen ’n stadiger tempo.

Vir 27 jaar is olifantgetalle in balans gehou met dit wat die natuurlike stelsel kon dra ten opsigte van die plant- en dierelewe wat daarop voorkom. Deon sê die aanduidings is egter dat die werklike drakrag van die omgewing in die wildtuin nie meer as 4 000 olifante nie en waarskynlik eerder 3 500 olifante volhoubaar kan onderhou.

Staking van uitdunnings

In 1994 is die uitdunningsprogram deur die regering gestaak en het die olifantgetalle eksponensieel begin groei. Olifante het al hoe meer hul stempel op die omgewing begin afdruk en vandag is die Krugerwildtuin besig om ’n olifantpark te word. Daar is nou minder as een groot boom per vyf hektaar in al die voorkeur-habitatte oor.

Lees meer oor renoster-stopery hier.

Sekere wetenskaplikes argumenteer dat die dinamiese siklusse in die natuur die ekologiese stelsel mettertyd deur ruimtelik-tydsgebonde selfbestuur sal herstel. Deon sê die beginsel is waar, maar die kortste siklus is sowat 350 jaar en hou geensins tred met die tempo waarteen die olifante verniel en hul getalle toeneem nie.

Alternatiewe strategieë

Indien olifante nie gejag of uitgedun mag word nie, wat kan gedoen word? Deon sê hulle kan gevang en verskuif word na gebiede waar daar plek vir hulle is, maar behalwe dat dit buitensporig duur sal wees, is daar nêrens meer plek vir hervestigings nie.

Die aanwas tydens die 27-jaar-lange uitdunningsera was sowat 1 500 olifante per jaar en die getalle van die olifantbevolking (sonder uitdunning) verdubbel ongeveer elke dekade. As ’n mens net die 1 500 olifante verskuif wat elke jaar bykom, is daar oor tien jaar 3 000 olifante in die nuwe tuiste, en na nóg tien jaar is hulle 6 000.

Lees meer oor hoe aasvoëls boere help hier.

Hoewel olifantgetalle noord van die Zambezirivier beduidend gedaal het, is daar suid van dié rivier in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap-lande meer as ’n half miljoen olifante wat teen ’n tempo van 6,5% en op plekke tot 14% aanteel. Suider-Afrika het net nie meer plek vir die olifante nie.

’n Ander moontlikheid is om te verhoed dat olifante aanteel. ’n Voorbehoedmiddel is ontwikkel en getoets, maar om die middel aan sowat 42 000 olifante net in die Krugerwildtuin alleen toe te dien, is ’n onbegonne taak en waarskynlik nie volhoubaar nie.

Bosveld word grasveld

Deon sê sy grootste kommer is dat een superspesie besig is om die wildtuin – die vertoonvenster van ’n Afrika-omgewing aan die hele wêreld – oor te neem ten koste van die biodiversiteit van Afrika se wildernis. Die wildtuin was nog nooit ’n wildernis nie, maar ’n mensgemaakte park. Daarom moet dit deur mense bestuur word om die kenmerke van ’n wildernis te behou.

Sy beroep op mense is dat hulle hulself met kennis moet verryk oor wat reg en verkeerd is, en dan moet besluit of hulle ’n stukkie Afrika wil bewaar of eerder ’n olifantpark op oop grasvlaktes wil hê. Die olifante is geleidelik besig om die park se natuurlike bosveld in oop grasveld te omskep en baie spesies wat afhanklik van die bome en boshabitat is, verdwyn.

Dit het reeds in Tsavo Nasionale Park in Kenia gebeur, nadat die jag van olifante in 1977 gestop is en getalle onbeperk toegeneem het. Wetenskaplike studies het gewys dat meer as 70% van Tsavo se natuurlewe en ander spesies reeds verdwyn het.

Lees meer oor die nuwe natuurreservaat in die Soutpansberge hier.

Oproep om jag en uitdun te hervat

Verskeie Suider-Afrikaanse lande het onlangs tydens ’n konferensie in Zimbabwe, ’n verklaring onderteken dat hulle die wettige jag van olifante en ivoorhandel voorstaan. Besluite deur organisasies soos die Konvensie oor Internasionale Handel in Bedreigde Spesies (CITES), wat deur regerings ondersteun word wat nie deur die betrokke besluite geraak word nie en ook nie op wetenskaplike beginsels gegrond is nie, is vir hierdie lande onaanvaarbaar.

Zimbabwe en Botswana het onlangs ook te kenne gegee dat hulle van CITES wil onttrek om hul vrye mag te hervat om hul oorbevolkte olifantgetalle met uitdunningsprogramme te kan bestuur.

In Namibië, Zimbabwe en Botswana waar, afgesien van die olifante in die Etosha-wildtuin, daar ook baie vrylopende olifante is, raak die konflik tussen mense en olifante ‘n probleem wat jaarliks groter word. In Botswana is daar meer as 300 000 olifante in die Chobe-oorgrensgebied. Ná ’n verbod van vyf jaar op die jag van trofee-olifante, is daar in 2019 besluit om weer beperkte jaggeleenthede beskikbaar te stel.

Die inkomste uit olifantjag het die afgelope jaar 2,7 miljoen Amerikaanse dollar beloop, nadat jaggeleenthede in gebiede aangebied is waar die mens/olifant-konflik die hoogste is. Van die geld gaan gebruik word om stelsels te ontwikkel wat die konflik kan verminder en om die omliggende gemeenskappe te ondersteun en ontwikkel. – Andries Gouws, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Deon Furstenburg by 072 575 3289 of deonf@afriwild.com.

Must read

Samesmelting wink vir twee landboureuse

Estimated reading time: 4 minutes GWK se aandeelhouers het onlangs ten gunste van die voorgestelde samesmelting van GWK en VKB gestem. Dié besluit is tydens ʼn spesiale aandeelhouersvergadering wat op Douglas aangebied is geneem. VKB...

Land Bank responds to claims regarding its debt recovery processes

Estimated reading time: 2 minutes Land Bank has noted recent social media posts of claims that the bank and its legal representatives have been involved in aggressive methods of liquidating clients who have defaulted...

RSG Landbou: 15 Augustus 2022 – geborg deur Brahman SA Beestelergenootskap

Agri Oos-Kaap het onlangs hul 20ste jaarkongres aangebied. RSG Landbou was ook daar om die 2022 Agri Oos-Kaap jongboerwenner, Morné Fitzhenry, te ontmoet. Hy is eerste aan die woord in Maandag se aflewering van...

Katoen-verwysingsprys: Week van 8 – 12 Augustus 2022

Die Suid-Afrikaanse Katoenprodusente-organisasie (SAKPO), met die ondersteuning van Katoen SA, het ’n platform geskep om elke week ’n gemiddelde verwysingsprys vir katoenvesel deur te gee. Hierdie is slegs ’n afgeleide prys wat bereken word op...

SACTA webinar – the future of seed and cultivar technology

Estimated reading time: 4 minutes The South African Cultivar and Technology Agency (SACTA) is a non-profit company and its main responsibility is to administer the statutory law on certain self-pollinated grain crops. SACTA recently...