Estimated reading time: 6 minutes

Wild kan nie sonder voldoende water van ’n aanvaarbare gehalte voortbestaan nie. Wanneer watervoorsiening vir wild beplan word, is dit noodsaaklik dat die tipe wild, hul natuurlike waterbehoeftes, suippatrone en -voorkeure, die hoeveelheid water wat hulle benodig, die gehalte daarvan en die volhoubaarheid van die bron in aanmerking geneem word.

Mineraaltekorte en vergiftiging kan wild knou.

Water bevat organiese en anorganiese bestanddele wat waardevolle minerale aan wild voorsien, maar hoë konsentrasies van en/of wanbalanse tussen die bestanddele, kan diere se gesondheid en produktiwiteit benadeel, en selfs tot vergiftiging en vrektes lei.

Gehalte van water vir wild

Bekende wildveearts, Kobus du Toit, sê daar is baie grond- en oppervlaktwater in Suid-Afrika wat skadelik vir wild kan wees. Om te bepaal of ’n waterbron geskik is vir wild, moet ’n risikoberaming gedoen word. Die water moet ontleed word om vas te stel of dit geskik is vir die wild wat die wildboer beplan om aan te hou en watter uitdagings verwag kan word.

Die voer van kleinwild.

Watergehalte kan verskeie probleme oplewer. Water wat sleg smaak sal wild se water- en kosinname drasties beperk. Die diere sal maer word, melkproduksie sal afneem en hul algemene gesondheid sal daaronder ly.

Probleme met toksisiteit, wat deur die betrokke minerale-bestanddele bepaal word, kan diere se groei kniehalter en hulle selfs laat vrek. Swaar metale in die water kan in hul weefsel ophoop en oor die lang termyn probleme skep.

In die reënseisoen besoek diere waterpunte minder gereeld, omdat hulle water in die veld kry om te suip.

Swart plastiekpype wat baie warm word, kan die konsentrasie van bestanddele in die water verhoog en ook aanpaksels in die pype vorm. Vlakvarke en ystervarke kan ook die pype beskadig en lekplekke veroorsaak. Dit is dus raadsaam om enige pypleidings te begrawe.

Die swak smaak van water is betreklik maklik waarneembaar, maar vergiftiging kan onopgemerk plaasvind. Dit kan bydra tot swak voeding, inwendige parasiete en ’n afname in reproduksie, vrugbaarheid, lewensvatbaarheid van nageslag, groeitempo en weerstandbiedendheid teen siektes.

Die konsentrasie van spesifieke bestanddele in die water kan ook deur verskeie ander faktore beïnvloed word, en die uitwerking daarvan sal van plaas tot plaas verskil. Daarom is ’n omvattende risikoberaming noodsaaklik.

Drastiese veranderinge in watergehalte kan ook tussen seisoene voorkom. Sleutelpunte op die plaas behoort dus geïdentifiseer te word, sodat watermonsters vir ontleding daar geneem kan word. Die koste van sulke ontledings is aansienlik minder as die prys van een dier wat vrek weens swak watergehalte.

Hoe meer droëmateriaal diere vreet, hoe meer water suip hulle. As die weiding groen is, het hulle minder water nodig. Kobus sê indien die voggehalte van weiding bo 33,3% styg, sal rooibokke normaalweg ophou om water te suip. Soos wat die proteïen- en soutinhoud van die weiding toeneem, sal diere meer water suip.

Behoeftes en voorkeure van wild

Grasvretende spesies is normaalweg meer afhanklik van water as blaarvreters. Daar is ook aanduidings dat dragtige diere meer water benodig. Min navorsing hieroor is nog ten opsigte van wild gedoen, maar dit is bekend dat beeste in die laaste vier maande van dragtigheid tot 50% meer water suip as normaal. Damara Dik-Dik-ooie se waterbehoefte styg met sowat 170% in die laaste maand van dragtigheid.

Die tipe waterpunt beïnvloed die gebruik daarvan deur verskeie wildspesies. Vlaktewild soos blouwildebeeste verkies om ’n goeie uitsig te hê wanneer hulle suip, terwyl bosbokke beboste gebiede verkies. In die Etosha-wildtuin verkies olifante, swartrenosters en vlakvarke sementkrippe, waarskynlik omdat die koel, skoon water help om hul liggaamstemperatuur te reguleer.

Diere soos volstruise, springbokke, rooibokke, koedoes, blouwildebeeste, sebras en buffels verkies natuurlike watergate. Op wildsplase waar verskeie spesies aangehou word, kan dit nodig wees om ’n kombinasie van waterpunte te gebruik.

Verskillende diere het ook spesifieke maniere om kontak met roofdiere by waterpunte te beperk. Die meeste hoefdiere benader die waterpunt wind-op, en kameelperde en swartwitpense vertoef langer as ander diere in die omgewing van die water, voordat hulle gaan suip. Die meeste vlaktewild verkies oop waterpunte waar daar min skuiling vir roofdiere is.

Kleiner wild soos vlakvarke en rooibokke verlaat die waterpunt sodra hulle klaar gesuip het. Diere soos springbokke en volstruise drink in die middel van die dag, wanneer groot roofdiere gewoonlik rus.

Waterpunte vir wild

Waterpunte speel nie net ’n belangrike rol om wild se gedrag te reguleer nie, maar het ook ’n groot invloed op die werking van ekostelsels. Die meeste konflik tussen diere kom voor wanneer waterpunte, watervoorsiening en suipspasie beperk is.

Siektes soos miltsiekte word versprei deur diere wat die water besmet wanneer hulle kom suip nadat hulle aan besmette karkasse gevreet het. Aasvoëls is veral lief daarvoor om in die vlak water van watergate te bad nadat hulle aan ’n karkas gevreet het.

Tydens die laaste maand van dragtigheid is Damara Dik-Dik-ooitjies se waterbehoefte beduidend hoër as gewoonlik.

Hoë konsentrasies sout in drinkwater kan kroniese nierskade veroorsaak. ’n Hoë fluoorinhoud in boorgatwater in die omgewing van Rust de Winter, noord van Pretoria, het byvoorbeeld veroorsaak dat jong buffelbulle se bene gebreek het.

Panne water in die veld is belangrik vir olifante, vlakvarke en buffels om veral in die somer in af te koel en in die modder te bad om hul velle teen die son in insekte te beskerm. In die reëntyd verlig sulke natuurlike watergate ook die druk op weidings rondom permanente waterpunte.

Die verkeerde plasing van waterpunte kan tot oorbeweiding, bosindringing en gronderosie lei. Dit kan ook ’n nadelige uitwerking hê op diere wat skugter is en nie maklik saam met ander diere suip nie, soos bastergemsbokke.

Ideale waterpunte moet voldoende water hê wat ekonomies ontgin kan word. Daarby moet dit aan die suipvoorkeure van die wildspesies voldoen, die watertoevoer moet standhoudend en beheerbaar wees, die gehalte moet bevredigend wees, die ontwerp moet waterverliese beperk en daar moet genoeg skaduwee wees sonder skuilplekke vir roofdiere. Die waterpunte moet ook sodanig geplaas word dat dit oorbeweiding beperk en ekotoerisme bevorder, en dit moet so natuurlik as moontlik lyk.

Sinvolle waterstelsels

’n Watervoorsieningstelsel op ’n wildsplaas moet só ontwerp wees dat pompe en kleppe beskerm is teen veral bobbejane wat daaraan kan peuter en dit beskadig. Pompe moet verkieslik in pomphuise wees om dit teen diere soos buffels en renosters wat dit kan breek, te beskerm.

Kleppe roes en moet gereeld nagegaan word, en plastiekpypleidings moet verkieslik minstens ’n halfmeter diep begrawe word om skade deur diere wat die water ruik en dit probeer uitgrawe, te beperk. In streke waar die temperatuur erg fluktueer, kan produsente veselglasdamme oprig.

Lees meer oor uitmuntende buffelkoeilyne.

Opgaardamme behoort afgekamp te wees om versuipings te voorkom en planne moet gemaak word om verdamping te beperk.

Groot bome soos wildevybome wat nader as 20m van boorgate af groei, behoort verwyder te word, omdat die wortels in die gat kan ingroei en dit verstop, wat herstelwerk bemoeilik en die waterlewering kan verminder.

Vir meer inligting, kontak dr Kobus du Toit by 082 873 1160 of dutoit.wildlife@gmail.com.

Brahman, Boer Goat, predasiebeheer
,hartwater, Dorpers, wegholveldbrande, veldbrande, skeerpraktyke, boerbokke, karobboom